Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die GKSA hou elke drie jaar sinodesitting op Potchefstroom. Vanjaar se sitting het van 5 tot 10 Januarie plaasgevind. Die vergadering is deur 280 afgevaardigdes bygewoon en afvaardiging word deur 7 streeksinode gedoen, volgens ds Piet Venter. Foto: Verskaf

GKSA hou sinode op Potch: Eie gemeentes móét nou konformeer of uit verband tree + Verhouding met NGK afgeskaal

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) sal voortaan alle gemeentes verplig om te konformeer met ’n besluit oor “leer- en regeerampte” (lees ‘n verklaring oor die besluit onderaan dié berig- Red).

Ondanks ’n 2009-besluit dat vroue nie “in die besondere dienste van predikante en ouderlinge mag dien nie”, het sommige gemeentes in dié kerkverband wel voortgegaan om vroue in die diens van ouderling te bevestig, luidens ’n verklaring wat op 8 Januarie uitgereik is. Só ‘n stap word nou as “self-losmaking” van die kerkverband bestempel.

“Aan die betrokke kerke word ’n jaar tyd gegee om hulle besluit om vroue in die ouderlingamp te bevestig, terug te trek en met die daad reg te stel deur vroue wat wel in die amp bevestig is, losmaking te gee,” luidens die verklaring oor die besluit wat vandeesmaand op Potchefstroom deur afgevaardigdes by die GKSA se mees onlangse sinodesitting geneem is.

Groot implikasies

“(Die sinodebesluit) het geweldige implikasies vir sekere gemeentes in die GKSA wat van oortuiging is dat vroue wel in die diens van ouderling gebruik mag word,” het ds Piet Venter, ’n woordvoerder, gesê. “Hierdie gemeentes is voor ’n finale keuse geplaas deur óf hulle besluit te herroep óf dan die kerkverband te verlaat óf deur die GKSA buite kerkverband gestel te word. Dit is geweldig ingrypend en gaan geweldige spanning en onrus in hierdie gemeentes veroorsaak.”

Dr De Wet Saaiman, ’n leraar by Gereformeerde Kerk Krugersdorp, het in reaksie gesê: “Ons wat die saak (vroue wat as ouderlinge mag dien) ter wille is, is hartseer. Ons het gesê verdra ons, maar dit is toe nie so besluit nie.” By dié gemeente val die klem op gawes, nie op geslag nie, meen Saaiman. “Nou moet ons as kerke teruggaan en vra wat die pad vorentoe is.”

Drie vroue dien as ouderlinge (uit ’n totaal van 34) by dié gemeente op Krugersdorp, maar kon volgens Saaiman nie self met Kerkbode oor die aangeleentheid praat nie. “Ons het dit nog nie deurgetrap op kerkraadsvlak nie en oor jy jouself blootstel.”

Wyer impak

Hoewel die GKSA-besluit binne kerkverband geld, het prof Tanya van Wyk in ’n reaksie-onderhoud op RSG se oggendprogram Op en Wakker gesê die besluit raak tog ook ander vroue en vrouepredikante buite dié bepaalde denominasie. “Dit dui op ’n groter sistemiese en ‘n sosiale probleem … Met ander woorde dit raak alle vroue en vrouepredikante wat daagliks op verskuilde en onverskuilde maniere wel as tweedeklasmense, en -lidmate en -burgers in die kerk en samelewing gehanteer word,” het dié teoloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria (UP) en predikant van die Hervormde Kerk (NHKA) gesê. (Luister HIER na die onderhoud – Red).  

Ds Piet Venter, ’n predikant van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom-Oos, is deur die sinode aangewys as voorsitter van die Kommissie Mediaskakeling vir hierdie kerkverband wat sedert 1859 bestaan en, volgens data op hulle webwerf, sowat 236 predikante het. Kerkbode (KB) wou by Venter (PV) hoor … 

KB: Wat sou jy sê was die uitstaande punte?

PV: Twee sake staan uit:

  • Die besluit oor die binding van sinodebesluite oor die diens van vroue in die amp van predikant en ouderling.
  • Die besluit oor die toekoms van teologiese opleiding van die GKSA.

Daar is ook ’n besluit oor die verhoudinge tussen die NG Kerk en GKSA geneem. Dit hou ’n afskaling van ekumeniese verhoudinge in en die besluit is met moeite geneem.

KB: Op watter manier help die bogenoemde besluite die GKSA met kerkwees in die Suid-Afrika waarin ons leef?

PV: Die besluit oor die binding aan sinodebesluite insake die vrou in die diens van predikant en ouderling bring finale duidelikheid met ingrypende gevolge vir sekere gemeentes.

KB: Was daar hoogtepunte of ’n uitstaan-oomblik wat jy sou uitsonder van kerklike perspektief?

PV: Vanuit kerklike perspektief is die besluite oor die teologiese opleiding van uiterste impak en belang en het dit geweldige implikasies vir die opleiding van toekomstige predikante wat gemeentes moet lei en bedien. Daar is besluit dat die GKSA se teologiese opleiding geskied deur die Gereformeerde Teologiese Akademie wat in 2023 deur die GKSA opgerig is, asook deur Mukhanyo Teologiese Kollege.

KB: Watter rol speel vroue in die besluitnemingsproses by die sinode?

PV: Geen rol. Alhoewel daar tans vroue as ouderlinge dien in gemeentes, word hulle nie afgevaardig na meerdere vergaderings nie.

Jare se debat

Die GKSA hou elke drie jaar sinodesitting op Potchefstroom. Vanjaar se sitting het van 5 tot 10 Januarie plaasgevind. Die vergadering is deur 280 afgevaardigdes bygewoon en afvaardiging word deur sewe streeksinode gedoen, volgens Venter.

Die GKSA worstel in eie beskrywing “sedert 1988 met die vraagstuk rondom die diens van susters in ons kerke, meer spesifiek rondom die diens van ouderling en bedienaar van die Woord.” In die verslae hieroor wat by die jongste sinode gedien het, word verwys na die verskil tussen randsake en kernsake, asook Skrifgebruik en kerkeenheid.

“Die kerke het op grond van die Skrif (oa 1 Kor 14:34,35 en 1 Tim 2:11-14) besluit dat die vrou nie in die leer- en regeeramp kan dien nie. Indien ’n tolerante of akkommoderende “ruim huis”-benadering aanvaar word waarvolgens sommige kerke wel vroue as ouderlinge en predikante kan bevestig, word die waarheid eenkant geskuif en kan elkeen doen soos wat hy dink die waarheid is aan die hand van die Skrif. Beide ja en nee sal dan aanvaarbaar wees,” luidens ’n uittreksel uit Rapport 2 (Minderheidsrapport) – Deputate vir studie oor hantering van kerklike binding en nie-toepassing van sinodebesluite. “Dit behels dat daar van eenheid nie meer sprake is nie en dat die kerk van Christus nie meer deur sy Woord gebind is nie, want elkeen kan self daaroor besluit. Dit druis in teen die kenmerke van die ware kerk. Die taal wat hiervoor pleit, kom ooreen met die kenmerke van die valse kerk (meer mag en gesag aan eie besluit, nie onderwerp nie).”

Reaksie vanuit NG Kerk-geledere

Ds Jan Lubbe, die moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode, het in reaksie gesê: “Ons het nog nie amptelik die volledige besluite van die GKSA ontvang nie, en wag dus dat hulle Deputate vir Ekumene Binnelands daaroor met ons in verbinding sal tree, soos wat hulle klaarblyklik besluit het om die gesprek met ons voort te sit. Wat ons verneem het, naamlik dat die Memorandum vir ons Ekumene opgeskort is, hangende sodanige verdere gesprek, is uiteraard vir ons jammer. Ons kom ’n lang en historiese pad met mekaar saam. Daar is vele voorbeelde waar NG en Gereformeerde Kerke in stede en dorpe met mekaar saamleef en -werk; Woord- en sakramentsbediening is wedersyds erken; dít is tog die eerste uitdrukking van “familie” en “ekumene”. Nou is daar stellinge in die rapport van hulle Deputate oor die NG Kerk gemaak, op grond waarvan hulle die besluit geneem het, waarmee ons nie kan saamstem nie en dit beslis moet uitpraat met mekaar, eerlik en openhartig. Hulle besluit het ook implikasies vir die voortbestaan en funksionering van die Tussenkerklike Raad (TKR), waarin ons en die GKSA saam met die Hervormde Kerk dien – ook dít moet uitgeklaar word. Die dagbestuur van ons Algemene Sinode Moderamen (ASM) vergader aan die einde van Januarie, en sal dit dan amptelik bespreek.”

Hoe lees ander?

Oor die sogenaamde “ruim huis”-benadering het Lubbe gesê: “Ons het in die NG Kerk oor die laaste twee dekades gekies om die selfstandigheid van gemeentes en hulle geloofsonderskeiding in die konteks waarin húlle geroep is om getrou die Woord van God te bedien, ernstig te neem en daarvoor ruimte te gee; om verdraagsaam met mekaar om te gaan; mekaar nie te dwing nie (ook nie ’n minderheid nie), maar om mekaar eerder te help luister na die Woord soos wat Christus ons deur sy Gees daarin lei – en “veelstemmigheid” hélp gelowiges en ’n gemeente juis daarmee. Hoe lees “ánder” Christene hierdie teks? Dit geld ook steeds ons posisie en benadering rondom ’n kwessie soos selfdegeslagverbintenisse; ons het nie aan mekaar ultimatums gestel nie – ons is sáám op weg; God sal ons leer, soos wat die tyd vorder, en ons álmal is Syne.”


Die verskil tussen die NG Kerk en die Gereformeerde Kerke se benadering tot die toelating van vroue as ouderlinge en predikante

 

In die geskiedenis van die debat wat kortweg “vroue in die amp” genoem word, het die verstaan van twee tekste nog altyd ‘n belangrike rol gespeel, naamlik 1 Tim. 2:11-15 en 1 Kor. 14:33b-37. Hierdie twee gedeeltes bevat die sogenaamde swyggebod vir die vrou en die beginsel dat die vrou onderdanig aan die man moet wees. Christo Benadé vertel meer. 

Deur die geskiedenis is hierdie twee gedeeltes in isolasie en op sigwaarde geneem om die verbod op vroue in die amp te regverdig. Daar het oor tyd egter die insig ontwikkel dat die Bybel as Woord van God in ‘n bepaalde konteks geskryf is en dat daardie konteks in ag geneem moet word in die verklaring van die Bybeltekste. Die verskil in die benadering van die NG Kerk en die Gereformeerde Kerke sien ons duidelik in die hantering van hierdie twee tekste.

In 1990 lewer AKLAS (voorloper van ATLAS) ‘n minderheids- en meerderheidsverslag aan die Algemene Sinode. Albei lê klem daarop dat hulle die Bybel as vertrekpunt neem. Die minderheidverslag volg die letterlike interpretasie en die afwysing van vroue in die amp. Die meerderheidsverslag doen moeite om ernstig met 1 Tim. 2:11-15 en 1 Kor. 14:33b-37 sowel as ander Bybelgedeeltes om te gaan. Die 1990 verslag wys op die eksegetiese uitdagings wat daar met die twee gedeeltes is en gee vier moontlike wyses waarop die gedeeltes geïnterpreteer kan word. So word op eksegese gewys wat die bevinding bevraagteken dat dit in 1 Timoteus oor die erediens gaan. Hulle bevinding is dat dit oor ander samelewingsverbande handel. Indien hierdie konteks aanvaar word, kan hierdie teks nie as argument in die debat gebruik word nie. Die oorspronklike Griekse teks bevat ook nie die woord “erediens” nie; dit is wel ‘n invoeging in die 1983 Afrikaanse vertaling. ‘n Gesinskonteks is dus eerder hier van toepassing. Die Griekse woord wat hier gebruik word om die uitoefening van gesag aan te dui, is nie gewoonlik in ‘n kerklike konteks gebruik nie, maar wel in ‘n sekulêre konteks. Vroue word dus hier aangespreek oor hulle optrede teenoor mans in die alledaagse lewe. In die Bybelse tyd was stilswye ‘n teken van respek en onderdanigheid – Paulus roep hier die vroue op om respek te toon op die manier waarop dit gedurende daardie tyd beoefen is. In moderne tye of in ander kulture kan respekbetoning op ‘n ander manier tot uitdrukking kom. Daarom kan die swyggebod nie as ‘n norm vir alle tye beskou word nie (NG Kerk 1990:130). Op dieselfde wyse is gepoog om 1 Kor. 14 ook teen die konteks waarin dit geskryf is, uit te lê.

Verder het die verslag ook na die hele Bybel gekyk om ‘n Bybelse teologie oor die rol van vroue in die kerk te ontwikkel. Die volgende aspekte is uitgewys:

  • As die swyggebod so belangrik was, sou dit baie duideliker aangedui gewees het en sou daar nie geleenthede gewees het waar vroue ‘n prominente rol in die Bybel gespeel het nie.
  • As die Bybel nie êrens van ‘n vrou as ouderling of leraar praat nie, beteken dit nie noodwendig dat die Bybel daarteen is nie.
  • Die feit dat baie vroue medewerkers van Paulus was, moet ook nie geïgnoreer word nie.
  • Daar was vroeër geargumenteer dat net mans die gesag (in die samelewing) dra wat nodig is vir die ampte. Daar het egter ‘n skuif gekom in die siening van gesag in die algemeen ampsgesag. Ampsgesag is nie geleë in heerskappy of baasskap nie, en daarom kan daar ook nie ‘n hiërargie tussen die verskillende ampte of tussen die ampte en die gemeente bestaan nie. Die verskil is eerder funksioneel. Ampsgesag is in die Woord gefundeer omdat Christus sy gemeente deur die Woord regeer. Daarom kan nie gesê word dat die gesag van die ampsdraer in die persoon (hetsy ‘n man of vrou) geleë is nie (NG Kerk 1990:129).

Hierteenoor volg die Gereformeerde Kerke steeds die meer letterlike uitleg van 1 Tim. 2:11-15 en 1 Kor. 14:33b-37, en ontbreek ‘n wyer Bybels-tematiese teologie oor die rol van vroue in die kerk, volgens prof. J.M. Vorster (NWU Teologie). Omdat hulle nie ‘n wyer tematiese teologie oor vroue het nie, is dit nie moontlik om hierdie twee gedeeltes in terme van ‘n groter prentjie te verstaan nie.

Alhoewel die besluit om vroue as leraars toe te laat nie oral in die NG Kerk verwelkom is nie (trouens, daar is vandag nog gemeentes wat nie ‘n vrou sal beroep nie), het die NG Kerk deur die jare na 1990 die seën begin ervaar wat die vroue vir die kerk gebring het. In sommige jaargroepe maak vroue die meerderheid van teologiestudente uit. In die meeste gemeentes speel vroue ook ʼn  belangrike rol as ouderlinge, diakens en dienswerkers. 

  • Dr Benadé is voorsitter van die NG Kerk se Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake. 
  • Hierdie teks is ná publikasie aangepas. – Red.

GKSA Mediaverklaring insake Sinode 2026 se besluit oor binding aan sinodebesluite oor vroue in die diens van predikant en ouderling – 8 Januarie 2026

 


AGTERGROND: GEREFORMEERDE KERKE IN SUID-AFRIKA (GKSA) VOLGENS DIE eCKE*

GEREFORMEERDE KERKE IN SUID-AFRIKA (GKSA) is gestig op 11 Februarie 1859 te Rustenburg in die destyd­se Zuid-Afrikaansche Republiek.  Een van die belangrikste redes vir die stigting van die GKSA was ernstige meningsverskil met die Kaapse Kerk (NG Kerk) oor die liedere wat tydens eredienste* gesing mag word. Verskeie gemeentes het toe in die Kaap­kolonie en Transvaal ontstaan. Die GKSA het die drie Formuliere van Eenheid as belydenisskrifte aanvaar.

Hulle is die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbely­denis en die Dordtse Leerreëls. As kerkor­de is die Kerkorde van Dordt soos gewysig vir Suid-Afrikaanse omstandighede, aanvaar.

In 1869 het die GKSA ’n eie Skool vir Teologiese Opleiding in Burgersdorp gestig. In 1905 is hierdie Teologiese Skool verskuif na Potchefstroom.

As uitvoering van die ideaal van die GKSA om ’n inrigting vir Christelike Hoër Onderwys daar te stel, het die latere Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys uit die Teolo­giese Skool te Potchefstroom ontwikkel.

In 2004 is die PU vir CHO verenig met die Universiteit van Noordwes om die Noordwes-Universiteit te vorm. Hierdie universiteit het drie kampusse waarvan die kampus op Potchefstroom steeds die grootste is met ruim 25 000 studente. Die Teolo­giese Skool van die GKSA het ’n unieke ooreenkoms met die Noordwes-Universiteit wat bepaal dat predikante vir die GKSA hier opgelei word en dat die dosente wat uit die kerke beroep word, teologie aan die Fakul­teit Teologie van die universiteit doseer. Die GKSA het in 1921 sendingwerk in Noord-Transvaal begin en dit later oor die hele Republiek van Suid-Afrika, Botswana, Zimbabwe, Zambië en Namibië uitgebrei. Uit hierdie sendingwerk het gemeentes onder die swart bevolking ontwikkel wat twee nasionale sinodes gevorm het.

Die posisie van die vrou in die kerklike ampte is die onderwerp van jarelange besinning in die GKSA en teen 2014 was vroue nog nie tot die ampte van ouderling en predikant toegelaat nie. ’n Ander saak waaroor in die breër gereformeerde kringe al lank verskil van mening bestaan, is homoseksualiteit, en die GKSA in sy amptelike hoedanigheid is afwysend teenoor die uitlewing van homoseksualiteit in die praktyk. Die GKSA se Afrikaanssprekende lidmate tel ongeveer 99 400 (2014), en in totaal het die kerk nagenoeg 140 000 lidmate. Groei vind hoofsaaklik in die jong kerke, wat op die sen­dingveld ontstaan het, plaas, terwyl kerke onder Afrikaanssprekendes stelselmatig verouder. Tans word ernstig besin oor gesonde vernuwing binne die raamwerk van Bybel­se beginsels ten einde ’n dinamiese tydge­rigte bediening daar te stel. Die GKSA toon ’n identiteit wat oor jare gevorm is deur ’n sterk beklemtoning van die gesag van die Skrif en die handhawing daarvan in die leer en lewe van lidmate. (Kyk ook: Dirk Postma; Ferdinand Postma; HG Stoker). – Bron: eCKE. Skrywer: JM Vorster, FM Gaum

* Meer oor hierdie bron: Die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE) is ’n unieke, Afrikaanse geloofsbron wat jou help om die kerninsigte van die Christelike geloof – woorde, geskiedenis, mense en bewegings – beter te verstaan. Met meer as 3 500 toeganklike artikels, honderde foto’s, en ’n eenvoudige soekstruktuur, is die eCKE perfek vir almal wat dieper wil delf in geloofsvrae, Bybelse begrippe of kerkgeskiedenis. Dié blad is ’n verbeterde, opgedateerde en aangevulde elektroniese weergawe van die gedrukte CKE wat in 2008 by Lux Verbi in samewerking met Bybel-Media verskyn het en bekroon is met die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “GKSA hou sinode op Potch: Eie gemeentes móét nou konformeer of uit verband tree + Verhouding met NGK afgeskaal”

  1. Lynne Whitehead

    Every so often someone asks, “Are women allowed to speak about the Bible?”

    And what they usually mean is, “Are women allowed to teach Scripture…or do they need to sit quietly, nod thoughtfully, and hand out snacks while the men talk about theology?”

    This question almost always comes from pulling one verse out of Paul’s letters, holding it up like a courtroom exhibit, and ignoring…well…everything else in Scripture.

    So let’s talk about it. Calmly. With context. And maybe a raised eyebrow or two.

    First, the Bible itself does not silence women. In fact, it does the opposite. Over and over again, God uses women as His mouthpieces.

    Miriam prophesies. Deborah judges Israel and leads men into battle. Huldah speaks God’s word to kings and priests. Esther saves a nation. Mary sings theology so deep it’s still being studied centuries later. Anna stands in the temple telling everyone about the Messiah. Priscilla teaches Apollos theology more accurately. Philip’s daughters are explicitly called prophets.

    If God had a rule against women speaking about Him, He forgot to tell…Himself.

    So what about Paul?

    Paul does say that women should not teach or have authority over men in a specific church situation. But Paul also praises women leaders, teachers, and coworkers in ministry. He greets Junia, “outstanding among the apostles.” He calls Priscilla a fellow worker and lets her name come before her husband’s. He affirms women praying and prophesying in church.

    Which tells us something important.

    Paul was addressing disorder, false teaching, and cultural issues in specific churches, not issuing a universal gag order on half the body of Christ for all time.

    This is where context matters.

    The early church was messy. Like really messy. People were interrupting each other. Some were uneducated and spreading false doctrine. Some were using freedom in Christ as an excuse for chaos. Paul wasn’t saying, “Women, you are spiritually unqualified.” He was saying, “This situation is out of control. Let’s restore order so the gospel is not distorted.”

    And here’s the thing we sometimes forget.

    Silencing women does not protect doctrine. It just removes half the witnesses.

    God did not pour His Spirit out at Pentecost and then say, “Okay men, you speak. Women, you observe.”

    Peter literally stands up and quotes Joel: “Your sons and daughters will prophesy.”

    Not sons only. Not men only. Daughters.

    If God gives His Spirit, His wisdom, His insight, and His calling to women, who exactly are we to tell them they’re not allowed to speak about Him?

    Now, does that mean every woman should teach everywhere, all the time, with no discernment? Of course not. The same is true for men. Teaching Scripture is a responsibility that requires humility, accountability, and reverence. It’s not about volume. It’s about faithfulness.

    But the Bible does not say that women are forbidden from speaking truth, explaining Scripture, sharing testimony, or teaching the Word of God.

    If anything, it shows us that when women speak, God often uses their voices to bring clarity, courage, repentance, and hope.

    So if someone tells you women should stay silent about the Bible, you might gently ask them why God keeps trusting women with His words.

    Because from Genesis to Revelation, He clearly does.

    And if that makes someone uncomfortable…that might say more about their box than about God.

    1. Chael TerBlanche

      This is where context matters.

      The early church was messy. Like really messy. People were interrupting each other. Some were uneducated and spreading false doctrine. Some were using freedom in Christ as an excuse for chaos. Paul wasn’t saying, “Women, you are spiritually unqualified.” He was saying, “This situation is out of control. Let’s restore order so the gospel is not distorted.”

      Indien dit die rede was, hoekom noem Paulus dit dan nie? Tog is hy nie stil oor die redes nie en gee dit:

      1Ti 2:13 Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva.

      Dit is nie kultureel nie, maar volgens die skeppingsorde van God.

      Die probleem is nie diskriminasie teenoor vroue nie (wat ons buitendien nie mag doen nie), maar gehoorsaamheid aan God en sy Woord.

Comments are closed.

Scroll to Top