Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Isabelle van Rensburg is self ’n gevierde internasionale orrelis wat ook studente afrig en is tans NG Universiteitsoord in Pretoria se orrelis. Sy vertel hoe sy ook soms na aan trane beweeg word deur die gemeente se reaksie op die musiek.

Orrels en orreliste is ook (musiek)instrumente in die koninkryk

Orrelmusiek het oor eeue heen steeds die vermoë om mense tot in God se troonkamer te beweeg. “As kerkorrelis het ek ’n geleentheid om mense deur musiek met God in kontak te bring deur die uitsoek van gepaste musiek en die begeleiding van die loprysing en aanbidding. Dit is die grootste voorreg om só instrument in die Here se hande te kan wees.” Dit is die getuienis van Dr. Isabelle van Rensburg, voorsitter van die Suider-Afrikaanse Kerk- en konsertorrelistevereniging (SAKOV). Annabelle Lombard het by die vereniging se nuutverkose hoof gaan uitvind wat SAKOV vandag vir orreliste en gemeentes beteken en waarom sy so passievol is oor orrels en sy plek in die kerk.

NG Universiteitsoord

 

Kwaliteit en persoonlike groei

Isabelle verduidelik dat dié nie-winsgewende vereniging reeds 46 jaar bestaan as professionele liggaam vir die bevordering van orrelmusiek. Hulle is nie net ’n tuiste vir orreliste nie, maar dien die wyer gemeenskap wat lief is vir die orrel, soos predikante, musiekgroepe, kerkrade en orrelbouers. Die vereniging het tans 400 lede in Suid-Afrika en Namibië en groei jaarliks.

LEES OOK | Kyk: ‘Musiek maak gesond’ – Broer en suster nooi orreliste om via WhatsApp note van hoop vir orrel en kerklied te speel

As professionele liggaam dra SAKOV by tot die gehalte van orrelspel en orrelinstandhouding. Lede se vaardighede en kennis word ontwikkel deur jaarlikse streekbyeenkomste vir lede in 13 streke. SAKOV bied ook jaarliks ’n Nasionale Orrelsimposium aan wat bestaan uit ’n driedaagse program wat aanbiedings oor orrelspel en kerkmusiek, meesterklasse en samesanggeleenthede insluit. Tydens al hierdie byeenkomste verskaf SAKOV inligting en leiding oor orrelmusiek, liturgiese praktyke en orrelbou.

Die vereniging het ook ’n amptelike akademiese vaktydskrif, Vir die Musiekleier/To the Director of Music, wat sedert 2010 by die Departement van Hoër Onderwys geakkrediteer is en hierin word navorsing oor kerkmusiek en ook orrels gepubliseer. Hierdie tydskrif word jaarliks uitgegee onder die redakteurskap van prof Gideon Els en vorm ’n skatkis van 45 jaar se navorsing. Suid-Afrika sou armer gewees het sonder dié kosbare nalatenskap.

Lede word ook aan die jongste inligting en nuus oor kerk- en orrelmusiek blootgestel, deur gereelde nuusbriewe. Spesiale projekte, soos musiekpublikasies en opnames, word jaarliks onderneem en aan lede beskikbaar gestel. SAKOV help lede ook deur die opstel van professionele riglyne soos jaarlikse voorgestelde salarisskale en voorbeelde van dienskontrakte vir orreliste.

Die toekoms van orrelmusiek in Suid-Afrika

Isabelle is baie optimisties oor die toekoms van orrelmusiek in Suid-Afrika. Sy verduidelik ook dat die orrel sedert sy bestaan deur fases gegaan het waarin dit meer of minder populêr was. Orrelmusiek het byvoorbeeld ’n blomtydperk in die Baroktydperk, in die tyd van Johann Sebastian Bach, beleef en weer minder belangstelling geniet in die klassieke tydperk. Daarna het belangstelling weer gestyg tydens die Romantiese tydperk in Frankryk met die simfoniese orrels wat deur die orrelbouer Aristide Cavaille-coll gebou is. Die orrel ry nog altyd die hoë en lae golwe van gewildheid, maar is steeds in die stroom en word gehoor.

Dit is juis SAKOV se doel om die toekoms van orrels en orreliste in Suid-Afrika te verseker. En daarom het die vereniging ’n konservatorium vir kerkmusiek gestig met ses verskillende eksamens waar orreliste opgelei kan word, of hulleself verbeter. Daar word beurse toegeken aan mense wat hulle orrelspel wil verbeter en in 2025 is meer as R200 000 aan beurse bestee. In 2024 het ses skoliere in Suid-Afrika beurse ontvang om voort te gaan met hulle orrelopleiding. Van vanjaar af is dit SAKOV se groot voorreg om die Andrew Murray-toekenning vir orrel- en kerkmusiek te gee aan individue of organisasies wat sigbaar bydra tot die bevordering van Suider-Afrikaanse kerkmusiek, hetsy deur publikasies, media, of ander projekte van openbare belang.

Meer as net begeleiding

Isabelle is self ’n gevierde internasionale orrelis wat ook studente afrig en is tans NG Universiteitsoord in Pretoria se orrelis. Sy vertel hoe sy ook soms na aan trane beweeg word deur die gemeente se reaksie op die musiek. “Die speeltafel van die orrel is só geplaas is dat ek die grootste gedeelte van die gemeente kan sien. As jy sien ’n lied is nou besig om baie diep met iemand te praat, roer dit my en dit is een van die mees spesiale dinge wat ek kan sien en die grootste voorreg om te beleef.”

By die studentegemeente het sy ’n gevestigde musiekkultuur aangetref waarop sy kon voortbou saam met passievolle en talentvolle studente. Sy en haar kollega Maricus le Grange steek gedurig die grens tussen generasies oor en vleg klassieke en kontemporêre musiek en verskillende aanbiddingstyle naatloos aan mekaar. Die studente hou baie van die orrel saam met hulle “band” en mis Isabelle as sy te lank oorsee is. Sy glo daar is reeds heelwat gemeentes wat die orrel saam met ander instrumente vir kontemporêre liedere inspan en dat dit definitief een manier is om die orrel lewend te hou. Die orrel bied ’n baie goeie basis vir die begeleiding van groot groepe mense. “’n Mens sing net lekkerder sáám met ’n orrel, as daarsonder!”

Isabelle se betrokkenheid en leierskap by SAKOV spruit uit persoonlike dryfkrag. “Ek maak my brood en botter as ’n vryskut-orrelis en ek sal baie graag vir die res van my lewe met orrelverwante werk wou besig wees, hetsy dit speel, afrig of navorsing is. Dit sal vir my baie sleg wees as ek my loopbaan moes prysgee weens ’n afname aan waardering vir die kunsvorm.” Haar visie vir SAKOV is samewerking, groei en passie vir hulle grootste voorreg: om gemeentes deur musiek met hulle Skepper in kontak te bring.


Annabelle Lombard is deel van die bedieningspan van Skuilkrans-gemeente.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top