Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Leser vertel | Eeufees van dankbaarheid vir tannie Anna se lewe: “Ek het niks om oor te kla nie” 

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr. Daléne Flynn skryf: Dit is nie elke dag dat ’n mens die voorreg het om ’n 100ste verjaarsdag by te woon nie – en dan nog dié van iemand wie se lewe self ’n getuienis van dankbaarheid, eenvoud en geloof is.

Anna van den Berg het op 23 Januarie haar honderdste verjaardag gevier. Op 24 Januarie het haar kinders vir haar in Garsfontein, Pretoria, ’n spesiale “fees” gereël om hierdie merkwaardige mylpaal te vier. Ses en veertig familielede en vriende het die vrolike okasie bygewoon. Vir tannie Anna was dit ietwat onwerklik. Met haar kenmerkende nederigheid sê sy: “Dit dring nog nie werklik tot my deur dat ek 100 is nie.” Op ’n vraag wat die geheim is om so oud te word, antwoord sy met haar skerp humorsin: “Ag dit is maklik. Leef net lank.”

Tannie Anna is ’n vrou wat bekend staan vir haar lewensfilosofie, eenvoudig maar diep:
“Ek het niks om oor te kla nie. Ek het baie om oor dankbaar te wees. Die Here is goed vir my.”
Hierdie woorde is nie net ’n sêding nie – dit is ’n manier van leef.

Ten spyte van haar ouderdom leef sy steeds aktief en met roetine. Elke Sondag kook sy nog vir haar kinders – en van die kleinkinders – ’n behoorlike Sondagmiddagete, met goeie gehalte vleis wat sy self uitsoek, en natuurlik baie groente. En elke Dinsdag bak sy haar eie brood, want, volgens haar, “is dié wat mens in die winkel kry gemors” – ’n opmerking wat menige glimlag ontlok.

’n Besonderse hoogtepunt van die viering was die feit dat vyf geslagte bymekaar was. Die jongste familielid is presies 100 jaar jonger as haar groot-groot-ouma – ’n tasbare beeld van ’n lewe wat oor eeue heen vrug dra.

Ook teenwoordig was Tannie Anna se enigste oorlewende broer, Jannie Ludik (87), wat spesiaal van die Kaap af gekom het. Sy vertel met kleur en geur hoe sy hom help grootmaak het en hoe lekker sy  “pop gespeel” het met hom. Hierdie herinneringe toon weereens hoe sorg, verantwoordelikheid en liefde deel is van haar lewenspad.

Haar kinders (Elsa en Eben, Rita en Fanie, Adolf en Charmaine), asook ’n hele spannetjie kleinkinders, het die dag saam met haar gevier – sommiges het selfs so ver as van New York gereis om teenwoordig te wees. Dit was ’n byeenkoms gevul met stories, lag, dankbaarheid en diep familieverbondenheid.

Tannie Anna se lewe herinner ons daaraan dat geloof nie altyd in groot woorde of dramatiese oomblikke lê nie, maar dikwels in die getroue ritme van elke dag: kos maak, brood bak, familie versorg, en met ’n dankbare hart leef. Haar honderd jaar is ’n stille maar kragtige getuienis: ’n Lewe geleef tot eer van God, met oop hande en ’n dankbare hart.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top