Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Eerw Nobuntu Penxa-Matholeni het verwys na die verantwoordelikheid van KI-gebruikers om nie, soos in geskiedskrywing uit die koloniale era, nuanses plat te rol en betekenis verkeerd te vertolk nie. Foto's: Le Roux Schoeman

Kunsmatige Intelligensie: Opwinding word afgewissel deur vrae en omsigtigheid toe teoloë oor KI besin

Nuwe kennisgereedskap, soos kunsmatige intelligensie (KI), lei die kerk altyd eers in die versoeking om te probeer om in beheer te bly. Só het een van die deelnemers by ’n gespreksreeks oor teologie en KI opgemerk.

Dr Simon Jooste, ’n skrywer verbonde aan Reformed Church Southern Suburbs, sê KI is nie ’n orakel wat alles weet nie, maar ’n spieël wat wys hoe eietydse diskoers deur mag, wantroue en voorafopgestelde idees beïnvloed word.

Jooste was een van die sprekers op die eerste dag van hierdie tweedaggeleentheid wat Donderdag 5 Februarie aangebied is by die Universiteit Stellenbosch se Teologiese Fakulteit.

Soos vele van sy medesprekers wou hy ’n balans tussen optimisme en omsigtigheid vind. Sy punt dat nóg utopiese hoop, nóg apokaliptiese vrees ’n “genoegsaam teologiese” reaksie op KI is, is deur talle deelnemers ge-eggo.

Dr Simon Jooste aan die woord (op die skerm) tydens die bespreking van teologie en KI.

Pastoraat kan baat

Wat pastorale sorg en berading betref, het die navorser Kenosi Molato aangevoer dat ’n aanslag wat die “agentskap” van beide mens én KI inspan wel dié veld kan verryk deur menslike tekortkominge (soos fisieke teenwoordigheid en gebrek aan ervaring en / kennis) aan te vul.

Prof Ernst Conradie van UWK het gesê hoewel KI ooglopend nuttig is, kan dit nie menslike nadenke oor die inhoud en beduidendheid van die Christengeloof vervang nie. Hy het veral gewaarsku dat KI dikwels hoë selfvertroue ondanks vlak bronverwysings vertoon. Hy het spesifiek na ’n eksperiment verwys waar hy ’n KI-diens uitgevra het oor ’n teoloog (wyle Arnold van Ruler) oor wie se werk Conradie self ’n kenner is. Van Ruler sou die woord “kunsmatig” bevraagteken het, meen Conradie. En Conradie self sê hy sou as dosent en vakkenner die KI-antwoord so 70% gegee het (“dit is baie resepmatig geskryf”, was sy kritiek).

Prof Ernst Conradie het van ’n eksperiment vertel waar hy ’n KI-diens uitgevra het oor ’n teoloog (wyle Arnold van Ruler) oor wie se werk Conradie self ’n kenner is.

‘Moenie nuanse platrol’

Eerw Nobuntu Penxa-Matholeni van US het gevra hoe egtheid behoue bly wanneer tegnologie in kwalitatiewe navorsing tussenbeide tree. Vanuit haar navorsing oor “inheemse stemme” in gemeenskappe wat histories dikwels aan die rand gestel word en selfs uitgewis is, het sy verantwoordbaarheid en die verhoudingsaard van inligting beklemtoon.

Penxa-Matholeni het verwys na die verantwoordelikheid van KI-gebruikers om nie, soos in geskiedskrywing uit die koloniale era, nuanses plat te rol en betekenis verkeerd te vertolk nie.

“… If the preparatory work is done for me (by AI), I do not have time – the gift of understanding what happens in me before that happens.” – Dr Lisel Joubert.

Delegeer ek belangrike dinkwerk?

Prof Alfred Brunsdon van NWU het vanuit opvoedkundige hoek vertel* hoe snel die invloed van KI oor die afgelope twee jaar in sekere vorme van assessering, soos deurlopende assessering, waar studente werkstukke indien in plaas van tradisionele eksamens onder toesig aflê, gegroei het en hoe groot die uitdaging is wat “AI-giarism” (sinspeling op plagiarism maar waar studente klakkeloos op KI steun) aan dosente bied. As iemand wat studente leer hoe om te preek, het Brunsdon die vraag gestel hoe die “prayerful process” van preekmaak op outentieke wyse in ’n nuwe kennisbou-konteks gedoseer kan word sonder dat dit op spirituele verskraling uitloop.

As iemand wat studente leer hoe om te preek, het prof Alfred Brunsdon van NWU die vraag gestel hoe die “prayerful process” van preekmaak op outentieke wyse in ’n nuwe kennisbou-konteks gedoseer kan word sonder dat dit op spirituele verskraling uitloop.

Die kerkhistorikus dr Lisel Joubert het op haar beurt ’n groot tree terug gegee, tot in die sestiende eeu, en aan die hand van die skrywes van ’n Spaanse non gewys op die misterie verbonde aan kennis. Joubert het gewaarsku dat KI ’n gevaarlike kortpad kan bied in die sin dat ’n mens wat KI inspan as ’t ware die belangrike werk delegeer eerder as om dit self te doen en in die proses gebrek ly. “One thing that bothers me, is how do I get to know myself and what happens in me before something happens on the page. So if the preparatory work is done for me (by AI), I do not have time – the gift of understanding what happens in me before that happens.” Joubert wou weet: “How do I meet the mystery of me if things that have to become in me are done for me?

Geborg

Die konferensie duur 6 Februarie voort.


Hierdie berig is ná publikasie vir akkuraatheid aangepas. – Red

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Kunsmatige Intelligensie: Opwinding word afgewissel deur vrae en omsigtigheid toe teoloë oor KI besin”

  1. Ernst Swanepoel

    Interessante artikel, die een oor KI (kunsmatige intelligensie).
    Eerstens dink ek die beskrywing is verkeerd want op die beste is dit “nagebootste” intelligensie. Kunsmatig? Nee. Dit gebruik ander bronne en boots na. (Ek gebruik KI – gereedskap in my lesings met groot sukses).
    Ek het ook ook ‘n ander gewaarwording, een met die erk van die Heilige Gees. Ek vind dat gebed en die soeke na die Teenwoordigheid van die HG al belangriker word, veral wanneer KI databronne gebruik waarvan ek weet dat dit nie ‘n christelike oorsprong het nie. Die uitdaging van die vierde ekonomiese revolusie.

  2. Johan van der Merwe

    Generatiewe KI is wel net een vorm van KI. Sal interessant wees om die teologiese gesprek te verruim na ook tradisionele KI asook die gesprek wat wêreldwyd in etiese en gereguleerde KI plaasvind.

Comments are closed.

Scroll to Top