Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Johann Theron van Kraaifontein skryf: Om voor te hou dat ’n mens die absolute gesag van die Woord wil handhaaf, is nie gelyk aan die handhawing van die absolute gesag van die Woord nie. Die onlangse besluit van die GKSA om vroue uit die ouderling- (en leraar) amp te hou, word voorgehou as respek vir die gesag van die Woord. In hierdie besluit word daar groot klem gelê op die twee “swyg” tekste in 1 Korintiërs 14 en 1 Timoteus 2.
As ’n mens se uitgangspunt is om die Bybel te lees in terme van manlikheid en vroulikheid eerder as in terme van die gesag van die Woord, dan sal ’n mens moet versigtig wees. As jy manlike gesag en mag as uitgangspunt neem, dan lees ’n mens hierdie tekste om vroue te laat swyg. As ’n mens die gesag van die Woord en die boodskap as uitgangspunt neem, dan sal ’n mens redelik maklik daarop kan wys dat Paulus in 1 Korintiërs 14 teen die wanorde in ’n erediens is, waar die Woord ondermyn word as almal tegelyk praat. Dieselfde geld vir 1 Timoteus 2 waar daar sprake van twisgesprek en valse lering in die gemeente was. Indien die Woordverkondiging die uitgangspunt is, het Paulus bloot vroue wat tussen-in praat of twisgesprekke voer stilgemaak in daardie spesifieke gemeentes en nie ’n ewige skeppingsordening en wet vasgelê dat geen vrou ooit die Woord mag bedien nie.
Mans lees graag: “die man is die hoof van die vrou” in Efesiërs 5. Min mans lees verder dat die man die vrou moet liefhê soos Christus die kerk liefgehad het en sy lewe vir haar afgelê het. Nie die beginsel van hoofskap nie, maar die hoofskap as die gee van jou lewe soos Christus. Christus se hoofskap beteken voete was – nie baasspeel nie.
Wat van Deborah wat as profetes gesagvol regspraak oor die hele volk gehad het in Rigters 4, waar Barak nie mans genoeg was om God se opdragte uit te voer nie? Wat van Abigail wat gelukkig nie onderdanig was aan die dwase optrede van haar man (die hoof van die huis) in 1 Samuel 25 nie? Daardeur het sy die hele huis en haar man gered van God se oordeel deur Dawid. Wat van Anna die profetes in Lukas 2:36-40 wat van Hom ge(s)preek het met almal in Jerusalem en die profetedogters van Filippus in Handelinge 21:8-9? Is profesie dan nie gesagvolle prediking van die Woord nie?
As ’n mens egter uit die perspektief van manlikheid en vroulikheid na die Woord kyk, kom die mans maar sleg daarvan af: ’n man het Jesus verraai, mans het Jesus verloën, mans het valse getuienis teen Jesus ingebring, mans het Jesus onregverdig veroordeel, mans het Jesus gegesel, gekruisig en op Hom gespoeg.
As die verkondiging (en gesag) van die Woord die uitgangspunt is van ons lees van die Woord, wel dan het vroue eerste geglo en was hulle die eerste dominees wat gepreek het van Jesus se opstanding – en die mans? Die mans wat van beter moes weet, het gesê die vroue se prediking van die Woord is onsin en het hulle (en daarmee die evangelie) nie geglo nie (Lukas 24:1-12). Mans het die vroue se prediking van die Woord stilgemaak.

Die media verklaring van die Doppers is ook nie baie duidelik nie en laat die opening vir wan-persepsies en die verkeerde interpretasies van die Bybel en Sinode besluite. Die gesag van die Sinode word voorop of gelyk gestel met die gesag van die Bybel. Dit gaan vir die Doppers meer oor gehoorsaamheid aan Sinode besluite ter wille van die eenheid, die sonde en die tug (deur afsnyding uit die kerk uit), as wat dit gaan oor die liefde, verdraagsaamheid en genade wat God in sy in sy Woord openbaar. Gesprekvoering met die Dopper kerkvaders gaan op niks uitloop nie omdat hulle net sal terugval op die 2026 GKSA Sinode besluite en geen ander argumente kon of sal die Dopper Sinode se besluite verander nie.