Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hierdie is 'n reeks waarin ons uittreksels publiseer vanuit die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE), ’n unieke, Afrikaanse geloofsbron wat jou help om die kerninsigte van die Christelike geloof – woorde, geskiedenis, mense en bewegings – beter te verstaan. Verken self by die eCKE-skakel op Kerkbode. 

Bybelkennis & konteks: Wie was Paulus? + Wat beteken ‘onfeilbaarheid’?

PAULUS is al die tweede stigter van die Christelike geloof genoem. Self sou hy hierdie beskrywing afwys. In ’n ietwat minder beskeie oomblik kon hy wel sê “ek het harder gewerk as hulle almal” (1 Kor 15:10), maar min sal hom hierdie aanspraak misgun.

Hy was onteenseglik ’n besondere werktuig van die Here om die ontluikende Christendom in ’n kritieke eerste fase te help vorm. Niemand het die universele dimensies en die radikale konsekwensies van die evangelie suiwerder raakgesien en meer gedoen om dit van sy Joodse keurs­lyf te bevry as juis Paulus nie. Bronne vir Paulus se lewe: Ons belang­rikste inligtingsbronne is sy briewe en Handelinge.

Die berig in die Tweede Klemensbrief (96 nC) oor Paulus se lewens­uiteinde is ongelukkig vaag en onseker. Van argeologiese kant help die Gallio-inskripsie ons om Paulus se lewensloop aan spesifieke datums te verbind.

Die apokrie­we Handelinge van Paulus bied allerlei detail oor Paulus se voorkoms (’n klein, vriendelike, kaalkopmannetjie met ruie wenkbroue en bakbene), maar hierdie inligting is heeltemal onbetroubaar. Die voor-Christelike Paulus: Paulus is rondom 3 nC in Tarsus, ’n bekende Griek­se kultuurstad in die noord-oostelike hoek van die Middellandse See, gebore.

Die naam Saul (Saulus) het hy in sy Joodse ouerhuis ontvang omdat hy, soos die eerste koning van Israel, ’n Benjaminiet was.

Griekse skoolopleiding 

Soos baie van sy volksgenote het hy ter wille van sy Griekse omgewing ook reeds van kleins af ’n tweede naam gebruik, naamlik Paulos (Paulus). Naas sy streng Farisese opvoeding in sy ouerhuis en in die sinagoge van Tarsus, het hy ook ’n Griekse skoolopleiding deurgemaak en so die Griekse taal en skryfkuns bemeester. Hy was ’n mens van twee wêrelde – die Joodse en die Griekse – en in sy persoon vloei hulle ineen.

Van vaderskant het hy egter ook Romeinse burgerskap geërf (Hand 22:28) – ’n voorreg wat hom later goed te pas sou kom. Ná sy skoolopleiding het hy in Jerusalem onder die bekende rabbi Gamaliël gaan studeer (Hand 22:3). Som­mige meen op grond van 2 Kor 5:7 dat sy pad in hierdie tyd met dié van Jesus* self gekruis het, maar dit is onwaarskynlik.

Damaskus en dood

Volgens Handelinge was hy egter wel teenwoordig by die steniging van Stefanus* (Hand 7:58). Weldra het hy die Christene met groot woede begin vervolg (Hand 8:3; 9:1; Gal 1:13). Die rede hiervoor lê nie net in sy heftige aard nie, maar ook in sy radikale toewyding aan sy Farisese (Kyk by: Fariseërs) geloofsoortui­gings (Gal 1:14). Volgens Hengel was dit vir hom die toppunt van kettery dat Chris­tene ’n Jesus wat soos ’n deur-God-vervloekte aan ’n houtkruis moes sterf (Gal 3:13), as Messias, Verlosser en Seun van God kon verkondig. Paulus die Christen: Onderweg na Damaskus het Paulus ’n verskyning van die verrese Christus beleef wat hom, die vervolger, aangespreek en geroep het om Christus se apostel onder die heidenvolke te word. Dit het sy lewe onherroeplik verander en hom lewenslank bygebly as bewys van God se ongelooflike genade (1 Kor 15:10).

Sy bekering tot Christus het onge­veer in die jaar 33 nC plaasgevind, maar sy drie sendingreise begin eers teen 48 nC. In ’n tydperk van agt jaar het hy groot dele van Klein-Asië en Griekeland met die evangelie deurkruis. Sy sendingstrategie was om in elke belangrike sentrum die evangelie­vlam aan te steek, en die plaaslike Chris­tene moes dit dan verder uitdra. Reeds vroeg wou hy ook na Rome, die hart van die Romeinse Ryk, gaan. Teen sy oorspronk­like ideaal in het hy wel in die voorjaar van 59 in Rome aangekom, maar as gevangene. Na ’n tydperk van huisarres (Hand 28:30-31), is hy waarskynlik vrygelaat en het hy moontlik ook nog die evangelie in Spanje verkondig. Volgens tradisie sterf hy in die jaar 64 die marteldood onder keiser Nero.

Nalatenskap

Paulus se literêre nalatenskap: Dertien van die Nuwe-Testamentiese* geskrifte staan op Paulus se naam. Geleerdes is eenstemmig dat minstens Romeine, 1 en 2 Korintiërs*, Galasiërs*, Filippense, 1 Tessa­lo­nisense* en Filemon* direk van Paulus self afkomstig is. Baie meen egter dat (van) die ander briewe deur leerlinge van Paulus geskryf kon gewees het. Volgens die breë ou­teurskapbeskouing van destyds kon hulle hierdie briewe met vrymoedigheid op Paulus se naam plaas omdat dit sy boodskap was wat hulle deurgegee het. Paulus se boodskap in ’n neutedop: Alhoewel Paulus God beskou as die heilige Skeppergod wat die sonde straf, skilder hy Hom bo alles as die God van liefde wat almal wat die goeie nuus glo, uit genade vryspreek en met Hom versoen. So word Hy die Vader van ’n uniek-nuwe huisgesin, be­staande uit alle gelowiges – sy kerk. Jesus Christus is by Paulus allereers die Gekrui­sigde wat in die skynbare swakheid en dwaasheid van selfopofferende liefde die magsdenke van die Jood en die wysheid van die Griek beskaam (1 Kor 1:18-25).

Maar Hy is ook die Opgestane (1 Kor 15) in Wie God se nuwe wêreld reeds begin het (Rom 8:29). In gelowiges se verbondenheid aan hierdie gekruisigde en opgestane Christus het hulle self nuwe mense* geword (2 Kor 5:17; Rom 6:3-11). Jesus is egter ook die verhoogde Here oor kerk en wêreld (Fil 2:9-11 ens), en alle gelowiges staan nou onvoorwaardelik in sy diens. As nuutgemaakte mense ervaar hulle die inwoning van die Gees* wat hulle lewe rig en heilig, en aan hulle sy gawes gee tot opbou van die gemeente. Die Gees as gawe van die eindtyd is vir hulle terselfdertyd die waarborg dat God al sy beloftes* volkome waar sal maak. Daarom is hulle lewe gevul met hoop* en blydskap (Rom 5; Filippense). As mense wat God se liefde in Christus ervaar het, moet hulle nou ’n dankbaarheids­lewe voer waarvan die belangrikste kenmerk selfopofferende liefde teenoor God, medegelowiges en die naaste moet wees. So is hulle onderweg na Christus se tweede koms, en hunker hulle na die toekomsheerlikheid wanneer God alles in almal sal wees (1 Kor 15:28, 1933-Afrikaanse Vertaling).

Paulus se “tydgebonde” opdragte: Dit is belangrik om te onderskei tussen die blywend-geldige motivering agter ’n opdrag en die spesifieke, histories-bepaalde vorm waarin daardie motivering, volgens die omstandighede van destyds, ingeklee word. Wanneer Paulus by die Christenvroue van Korinte aandring om ’n kopbedekking by gemeentebyeenkomste te dra, is sy motive­ring dat die Naam en die saak van die Here nie in gedrang moet kom nie. Dit is egter presies wat gebeur wanneer sommige Christenvroue die destydse sosiale konvensies van ordentlikheid ignoreer en die eredienste sonder ’n hoofbedekking bywoon. Sy opdrag impliseer dus dat Christene hulle telkens opnuut behoort af te vra wat in terme van die konvensies van hulle eie tyd en situasie as paslike kleredrag in die ere­diens sal geld, dit wil sê as kleredrag wat tot eer van God sal wees. Wat die posisie van vroue en slawe be­tref, wou Paulus duidelik nie die jong Christendom in ’n maatskaplike versetbeweging laat ontaard nie. Hy neem egter standpunte in waarvan die konsekwente deurvoering verreikende implikasies inhou.

Volgens Gal 3:28 verloor alle sosiale verskille, ook dié tussen slaaf en vryman, man en vrou, in Christus hulle belangrikheid. Paulus is uiters positief oor die baanbre­kende evangelie-arbeid wat Christenvroue in Rome verrig het (Rom 16). Volgens 1 Kor 11:5 het hy geen probleem daarmee dat Christenvroue in die gemeente profeteer, dit wil sê die wil van God aan die gemeente oordra nie. 1 Kor 14:34-35 is nie ’n geldige teenargument nie, aangesien hierdie woorde na alle waarskynlikheid nie deel van die oorspronklike Paulusteks was nie. Wanneer Paulus by Filemon pleit om sy wegloopslaaf Onesimus terug te neem, suggereer hy dat Onesimus voortaan vir hom méér as ’n slaaf behoort te wees, naamlik ’n “geliefde broer” in die Here (Filem 16). In hierdie woorde lê sosiale dinamiet. Die volle konsekwensies hiervan sou egter eers na baie eeue deurwerk. – Bron: eCKE. 

ONFEILBAARHEID

ONFEILBAARHEID is volgens die HAT (2005) om vry te wees van dwaling, van vergissing, nooit ’n fout te begaan nie. Hierdie eienskap word in die godsdiens op onder andere God  en die Bybel toegepas.

Die gereformeerde oortuiging is dat God sonder sonde is en ook nie sonde doen nie. God is dus ’n onfeilbare wese. Dit is belangrik om daarop te let dat Christus óók in sy menslike natuur sonder sonde was. Hoewel volledig mens, het Chris­tus ás mens geen sonde gehad of gedoen nie.

Die Bybel is onfeilbaar in die sin dat dit die ware openbaring van God aan die mens is. Die Bybel is onder leiding van die Hei­lige Gees geskryf en daarom is die Bybel, wat vertel wie God is en hoe Hy tot die mens se redding gekom het, waar.

Waar Bybelse historiese gegewens, biografiese besonderhede ens verskil van historiese, argeologiese en/of militêre feite, moet die genre van die besondere Bybelboek, die bedoeling van en die tyd waarin die skry­wer aan sy “eerste lesers” geskryf het, in ag geneem word.

Ook die geloof is onfeilbaar. Dit is nie die gelowige wat glo wat onfeilbaar is nie, maar dit waarin hy of sy op grond van God se geopenbaarde Woord glo.

Die Protestantisme onderskryf nie die onfeilbaarheid van die pous nie. Hoewel hy binne die Katolieke Kerk gesien word as plaasbekleder vir Christus op aarde, is nóg hy nóg sy ex cathedra-uitsprake volgens Protestantse oortuiging onfeilbaar.  – Skrywer: LOK Lategan. Bron: eCKE. 

——————————————————————————————-

Hierdie is ‘n reeks waarin ons uittreksels publiseer vanuit die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE), ’n unieke, Afrikaanse geloofsbron wat jou help om die kerninsigte van die Christelike geloof – woorde, geskiedenis, mense en bewegings – beter te verstaan. Verken self by die eCKE-skakel op Kerkbode. 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top