Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Sosiale kohesie is die gewaarwording dat ons mekaar nodig het ten spyte van ons verskille …’ |  5 vrae oor nuwe kursus wat leiers wil bemagtig 

Sterk leierskap vorm gesonde spanne en gesonde spanne verander gemeenskappe. Dit is die vertrekpunt van ’n nuwe VBO-geakkrediteerde kortkursus van 25 April 2026 tot 2 Mei via Hugenote Kollege se leerportaal wat gemik is op leierskap en die bou van “sosiale kohesie”.

  • Registrasie sluit 30 Maart en die kursus is ’n mengsel van aanlyn en in persoon-aanbieding.
  • Die kursus is in person oor twee Saterdae en aanlyn in die week 25 April tot 2 Mei. Lees meer by https://hugenote.com/apply.php
  • Die kursus kos R5250
  • Die aanbieders is Louise Fouché en dr Frederick Marais, direkteur van Direkteur: Sentrum vir Innovasie (SenSi). Fouché word beskou as een van Suid-Afrika se voorste kenners op die gebied van groepsdinamika en spanontwikkeling.
  • Die kursus kwalifiseer ook vir CPD-punte vir arbeidsterapeute, wat dit ’n besonder waardevolle professionele ontwikkelingsgeleentheid maak. 

 

Kerkbode (KB) wou by die kursusontwerpers Fouché en dr Frederick Marais, direkteur: Sentrum vir Innovasie by Hugenote Kollege (HK), weet …

 

KB: Wat is die merktekens en raakste omskrywing van die begrip “sosiale kohesie”?

 

HK: Kohesie word soms vertaal as “samehorigheid” maar ons hou daarvan om daaraan te dink in chemiese terms, wat kohesie verduidelik as die klewerigheid (of verbintenis) van molekules aanmekaar. Sosiale kohesie gebeur wanneer mense in hulle sosiale omgewing soos hulle werk- en woonplekke begin bind aan mekaar, ook in kontekste waar hulle nie gewoond is daaraan om te bind met mekaar nie. Sosiale kohesie is dit wat mense aanmekaar laat bind, ten spyte van omstandighede en verskille. In ons gepolariseerde land is dit vir ons ’n roeping om leiers se kapasiteit te bou om in alledaagse omgewings, sosiale kohesie op te bou.

 

Beige Aesthetic High End About Our Company Business Flyer (1) (1)

KB: Watter probleem wil hierdie kursus oplos?

HK: Ons is 30 jaar na demokratisering in Suid-Afrika en ons wittebroodfase is verby. Byna net soos in die sewe-jaar-fase van ’n huwelik, begin dinge erg krap en dit is juis nou die tyd om hard te werk aan kohesie, om deur te druk en om mekaar weer te vind op ’n dieper vlak. SA is gepolariseerd maar die meerderheid Suid-Afrikaners leef in kontekste wat hulle saambring van interafhanklike spanne of groepe. Dit is ons realiteit in Suid-Afrika.

Ons is verras dat daar ten spyte van polarisasie tog ’n nuuskierigheid en gewilligheid is om brûe oor te steek en mekaar mense-tot-mense te ontmoet.

In ons sportarena kon ondersteuners van die Springbokke sosiale kohesie ’n werklikheid maak, maar baie keer verdwyn die sosiale kohesie by die werk, in buurtwaggroepe, in opleidingspasies, in plaaslike komitees, ensovoorts. Die kursus is daarom nie gefokus op die teorie van sosiale kohesie, of nog preke oor hoekom dit belangrik is nie. Die kursus gaan oor die klein “hoe-gemaak” in alledaagse situasies, spesifieke praktiese stappe en gewoontes wat sosiale kohesie bevorder.

Kliek op die skakel om aansoek te doen by https://hugenote.com/apply.php

 

Dit is makliker gedoen as wat mense gewoonlik dink. Dikwels deur onkunde, word die leiers of voorsitters van groepe en spanne die struikelblokke tot sosial kohesie. Die kursus beoog om leiers se hande te versterk en eenvoudige strategieë te deel sodat elke Suid-Afrikaner ’n plek sal hê waar hulle behoort en gesien en gehoor kan word in hulle menslikheid, dan maak ons plek vir die klewerigheid wat mense bind.

Dr Frederick Marais

KB: Is daar ’n storie of twee wat jy graag vertel om sosiale kohesie te konkretiseer?

 

HK: Frederick (Marais) het in sy fasilitering van studente dit dikwels beleef. Kontaksessies is altyd begin deur luisterpraktyke waar studente mekaar kan ontmoet en herontmoet, voordat daar eers met die kurrikulum gewerk is. ’n Paar maande in een van die kursusse, deel een student dat hy tydens ’n leierskapbyeenkoms van die gemeente in Soweto, die leiers hoor kla het oor witmense. Hy stop hulle toe en verduidelik dat hy ontdek het dat alle witmense nie so is nie en vertel hulle van een van sy medestudente wat glad nie so is soos wat hulle nou oor kla nie. Tydens die deel van die insident, deel die leraar uit ’n Oos-Kaapse dorp wat pas as voorbeeld gebruik is, dat hy ’n soortgelyke insident by sy gemeente gehad het. Hy vertel hoe die kerkraadslede om die braai gekla het oor swartmense en hoe hy ingetree het en verduidelik het, dat sy swart medestudent glad nie so is nie. Kan ek julle vertel van my kollega uit Soweto? Waar mense mekaar kan ontmoet leer ons om stereotipes spontaan af te breek.

Tydens ’n sosiale-kohesie-fasiliteringwerkswinkel op Tulbagh, het Louise (Fouché) beleef, was daar ’n sessie waar die groeplede mekaar in die oë moes kyk. Toe die stoere-boer in die EFF-raadslid se oë moes kyk tydens ’n sessie, het beide begin huil. Na die tyd toe die groep daarop reflekteer sê beide wat hulle in die oë gesien het, het hulle nie verwag nie. Beide het pyn raakgesien. In daardie oomblik het hulle mekaar as mense ontmoet, twee mense wat al pyn beleef het en besef het hulle is nie alleen in hulle pyn nie.

Sosial kohesie is die gewaarwording dat ons mekaar nodig het ten spyte van ons verskille omdat ons interafhanklik is van mekaar. Wanneer groepe begin praat van ons is soos familie of die span is “my ander familie”, weet ons die sosiale kohesie is sterk.

 

KB: As persone met ryk ervaring aan versoeningswerk in ons land, wat leer julle opnuut oor die aard van die uitdaging wat ons in 2026 in die gesig staar?

 

HK: In die 1990’s was versoening in kerke en oa vanweë die werk van die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK), groot prosesse wat “van-bo” geïnisieer is. Nou woon en werk mense van verskillende kultuurgroepe meer gereeld saam. Die bou van sosiale kohesie in hierdie kleiner sosiale kontekste van spanne en groepe is nou die uitdaging. Dit neem die versoeningswerk een stap verder en laat dit deursyfer tot op grondvlak, waar Suid-Afrikaners oor die gepolariseerde grenslyn kan stap en mekaar van mense tot mense ontmoet en ’n verhouding bou waar die grenslyn nie meer raakgesien word nie. Dit is byna asof die “van-bo” prosesse kontraproduktief is vandag. Ons dink die uitdaging nou is dat leiers, hoofde van departemente, voorsitters, gemeenskapswerkers, ensovoorts moet leer om agente van sosiale kohesie te word in hierdie spanne en groepe, sodat ons as Suid-Afrikaners sosiale kohesie in alle spasies kan “beliggaam”.

 

KB: Wie is betrokke by die aanbied en saamstel van die spesifieke kursus en wie presies is die teikenmark?

 

HK: Louise Fouché van OTGrow en Frederick Marais van Hugenote Kollege het die kursus van stapel gestuur. Dit is die eerste keer wat die kursus aangebied word en ons is baie opgewonde daaroor. Ons nooi graag enige leier, voorsitter, opleidingsfasiliteerders, hoofde van departmente, gemeenskapsleiers, spanleiers by die werk, gemeenskapswerkers en maatskaplike werkers. Basies enige iemand wat ’n groep of span in enige hoedanigheid lei. Persone wat al ’n B.graad het en wat ’n passie het vir Suid-Afrika en al sy mense kan aansoek doen.

  • Aansoeke sluit op 30 Maart.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top