Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

NG Kerk

Pieter Coertzen, kerkregkenner, sterf

Op 11 Maart 2026 sterf prof Pieter Coertzen in die Eikestad, ’n geliefde hoogleraar wat as dosent aan duisende studente ’n broodnodige aanvoeling vir kerkreg gee. As uitmuntende kerkregkundige in die NG Kerk, is hy van 1991 tot 2002 aktuarius van die Wes-Kaapse Sinode en van 1994-2004 van die Algemene Sinode. Dit was ’n tydvak toe sy kalme wysheid en insig in spanverband, ’n noodsaaklikheid was in die nuwe Suid-Afrika.

LEES OOK: In Memoriam | Oorsig: Hulle sterf in 2025

Pieter Coetzer is op 20 April 1943 gebore in Boksburg. Sy vader was ’n skofbaas in die myne, ’n rolmodel vir myners en sy moeder ’n onderwyseres, ’n fynbeskaafde vrou, wat oral mense aangeraak het met liefde en waarde toegevoeg het tot die beroep. Pieter begin in 1954 sy skoolopleiding en matrikuleer in 1960 aan die Hoërskool Florida. Hy studeer op Potchefstroom en behaal die BA- en BA-Honneurs grade.

Hierna loop Pieter se pad na die Universiteit Stellenbosch waar hy in 1965 student word aan die Fakulteit Teologie. By Maties behaal hy die BTh-, MTh-, MA en DTh- grade. Hy word op 6 Desember 1968 gelegitimeer en studeer daarna in Nederland. Hy trou op 7 Desember 1968 met mej Alta Scheepers op Stellenbosch. Uit die huwelik is drie dogters gebore: Ciska, Karlien-Heleen en Alma.

Kenner oor Hugenote

Dr Pieter Coertzen se doktoraal in Kerkgeskiedenis handel oor die Franse Hugenote in Suid-Afrika. Hy was een van die grootste kenners oor Hugenote in Suid-Afrika. Na sy mening het hulle daarin geslaag om die ontwikkelingslyn van die oud-Hollandse kultuur aan die Kaap, tot ’n Afrikaans-Calvinistiese, kerklike-kulturele en maatskaplike lewenspatroon te laat ontwikkel.

Op 7 November 1968 word hy leraar in die NG Kerk Dundee, waar hy ’n gelukkige en vervullende bediening beleef. Op 30 Oktober 1974 word hy bevestig as studenteleraar in die NG Gemeente Potchefstroom-Noord, waar hy aan die Mooirivier besondere werk doen en studente na sy dienste stroom.

Op 13 Februarie 1977 word dr Pieter Coertzen bevestig as senior lektor in Kerkgeskiedenis aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch. Op 1 Januarie 1988 word hy professor aan die Kweekskool, waar die Departement Ekklesiologie unieke hoogtes bereik. In 2003 is hy benoem as buitengewone hoogleraar in vergelykende kerkreg aan die Katolieke Universiteit in Leuven, België.

As dosent is hy van 1995 tot 2008 verbind aan die NG Kerk op Franschhoek. Prof Pieter was sy lewe lank aktief betrokke by die Hugenotevereniging as leier en sy insette is kosbaar, waar hy ’n geliefde ereplek verwerf.

Prof Pieter is ’n kerkregskrywer en ontvang verskeie eretoekennings, onder meer die Rektorstoekenning in 2000 vir voortreflike navorsing. In 2010 word hy verkies as President van die SA Raad vir die Bevordering en Beskerming van Godsdiensregte en -vryhede. Die raad is die beskermheer van die SA Handves van Godsdiensregte en -vryhede. Ná sy aftrede was hy verantwoordelik vir die totstandkoming van die Eenheid vir die Studie van Godsdiens en Reg aan die Teologiese Fakulteit op Stellenbosch. Daar is aandag gegee aan die implikasies van godsdiensvryheid wat die Grondwet van Suid-Afrika waarborg.

Prof Pieter Coertzen sterf op 11 Maart 2026. Hy word oorleef deur sy vrou Alta en drie dogters. ’n Gedenkdiens vind op 20 Maart 2026 plaas in die NG Moederkerk Stellenbosch. Ons onthou die mens Pieter Coertzen, sy mooi persoonlikheid, sy kameraadskap en leiding aan studente en sy uitstekende menseverhoudinge. Ons dank die Here vir die groot rol wat hy in die NG Kerk gespeel het as kerkregkundige. Sy invloed leef voort op kerklike voetsoolvlak, waar kerkreg daagliks grondvat by leraars en gemeentes.


Dr Gerdrie van der Merwe is ’n kerkhistorikus.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top