Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
In die jaar 783 het keiser Karel die Grote ’n afvaardiging na Pous Hadrianus I gestuur en gevra vir ’n kopie van Gregorius die Grote se misboek. Hadrianus het glo nie mooi geweet presies wat om te stuur nie, maar ingesien dat hy ongetwyfeld darem iets moet stuur. Wat hy gestuur het, was die sogenaamde Feestelike Sakramentarium van die Pous. Die keiser se teoloë het aanpassings aan die boek gemaak en sodoende kon die (verkeerde) boek wel deur die keiser gebruik word.
Waarvoor wou Karel die Grote die boek hê? Sy beweegredes was minder vroom as wat sommige sal vermoed. Dit was nie juis gemik op ’n Angus Buchan-styl herlewing in die ryk nie, maar dit het wel ’n “Mighty Men” klankie gehad. Die keiser wou die oostelike deel en die westelike deel van sy destydse ryk verenig en het geglo dat die misboek kan help. Volgens hom sou eenheid ’n hupstoot kry indien almal in beide die ooste en die weste dieselfde boek in die kerk gebruik.
Wat is ‘n misboek?
’n Misboek is ’n boek wat voorskrifte gee oor hoe ’n mis of erediens gevier moet word. Indien almal dieselfde ritueel uitvoer, so het die keiser geargumenteer, kan dit help om die hele lot saam te snoer. Hy het gereken dit sal help met groepskohesie wat sy politieke ideaal sal dien.
Karel die Grote moes goed geweet het dat ingebed in een misboek is een gedeelde ritueel, en een ritueel gee een ritme. En een so ’n gedeelde ritueel en ritme gee vir mense ’n gevoel van samehorigheid. So ’n gedeelde ritme en samehorigheidsgevoel beïnvloed dan deelnemers se lewe nie net op Sondag nie, maar ook in die res van die week. Indien jy ’n aanvoeling vir die politieke sy van sake het, sien jy natuurlik ook gou-gou hier heelwat potensiaal wat ontgin kan word.
Gedeelde inhoud en ritme
Dit alles klink vir sommige mense bra primitief. Jy kan dalk sulke speletjies in die vroeë Middeleeue speel, maar denkende mense sal in ’n era van die wetenskap nooit as te nimmer hulle optrede só laat beïnvloed deur ’n misboek se ritueel nie. Tog is dit maar soos om ’n klomp dwarstrekkende Afrikaners almal saam ’n gelofte te laat opsê om ’n gevoel van samehorigheid te skep; of om in 1994 mense in Suid-Afrika te probeer verenig rondom ’n nuwe volkslied en vakansiedae. ’n Nuwe volkslied en vakansiedae gee, nes Karel die Grote se Middeleeuse misboek, ’n gedeelde inhoud en ritme in diens van sekere ideale.
Volksliedere en vakansiedae is die voor die hand liggende mediums wat politici inspan. En ten minste is tekste soos Vryheidsdag, Versoeningsdag en ’n volkslied nie verhul nie. Ek kan kies of ek saamsing en watter dae ek vier en watter nie. Dit is soos om in ’n NG of Anglikaanse of Charismatiese kerk in te stap en na ’n preek te luister of om deel te neem aan al die (inisiasie) rituele van koshuise. Sommige mense beleef nog daardie koshuis se kohesie en lojaliteite wat daarmee saamgaan wat daardie inisiasierites van dekades gelede bewerk tot op hulle sterfbed. ’n Goed geïnisieerde Sonopper of Wilgenhoffer se lojaliteit is sterk vasgelê. In kerke en koshuise is dit (hopelik) bewustelike handelinge van my kant af waar ek openlik kies dat daardie ritueel my gevoel van groepsidentiteit en sodoende ook my lewensritmes en optrede beïnvloed. Maar wat van die ietwat meer verskuilde moderne misboeke en hulle rituele wat ’n invloed op my lewe uitoefen? Ek noem enkeles.
Die mall as katedraal
Die filosoof Jamie Smith verwys byvoorbeeld na die kulturele liturgie van die inkopiesentrum (die mall) en die ooreenkomste tussen winkel toe gaan en kerk toe gaan is verbysterend. Ook in die inkopiesentrum word Kersfees en Paasfees gevier, met kos en Kersliedere en die gepaardgaande beelde en klanke en reuke, net soos by die kerk. Die sentrum met al die advertensies en winkelvensters wat mense sensories en emosioneel oorrompel is ’n misboek van kapitalisme en verbruikerisme. Dit is die voorgeskrewe teks vir die inkopierituele wat mense se ritmes bepaal en hulle lewe choreografeer op die ritme van die kasregister.
In ons dag is kos ongetwyfeld ook ’n kultus. Die nougesette nakoming van spesifieke eetpraktyke neig na die godsdienstige, soveel so dat my dieet die ritme van my hele dag en week kan bepaal in my strewe om al die bepalings na te kom, rig my optrede soms nog meer as wat dit ’n Bybelse Fariseër se optrede gerig het. En natuurlik vorm dit my identiteit en laat dit my met ’n gevoel van groepskohesie wanneer ek my kos koop by spesifieke winkels en waarvan elke produk se naam deur drie byvoeglike naamwoorde voorafgegaan word. Ek kry selfs ’n nuwe naam, ek is nie meer net ’n eter soos sommer net enige ander persoon nie, nee, ek kry ’n neutvars nuwe (kos) identiteit soos vegetariër of vegaan. Wat geld vir die koskultus geld insgelyks vir oefen en die aanbidding van die mens in gimnasiums. Dit is alles mooi en gesond en selfs goed vir die ekologie, maar onder dit alles draai daar ongetwyfeld ’n verskuilde misboek rond.
Goeie Vrydag, Stil Saterdag en Paassondag
Die mees voor die hand liggende en terselfdertyd mees verskuilde Middeleeuse misboek wat in ons dag die ritme aangee en lewens choreografeer is algoritmes. Nuusbronne soos Fox en CNN, soekenjins soos Google en Bing, sosiale media soos TikTok en Twitter/X, aanlyn winkels soos Temu en Amazon, platforms soos Netflix en YouTube, rig ook my denke, my ritmes en uiteindelik my optrede. Ja, daar was Karel die Grote en sy Hadrianus. Nou is daar Elon Musk en X/Twitter. Donald Trump en Fox News. Mark Zuckerberg en Meta. Elke besigheidsman en politikus het ’n misboek waarmee hulle probeer om my lojaliteit te wen en my identiteit deel te maak van hulle groepsidentiteit om so my lewe te choreografeer. Ja, toegegee, dit is ook waar van elke erediens en elke Christelike feesdag soos Goeie Vrydag, Stil Saterdag en Paassondag. Die vraag is watter van hierdie misboeke met hulle gepaardgaande rituele is dié wat aan my ’n geborge identiteit gee en my lewe op lewegewende wyses choreografeer.
Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Prof Cas, is soos gewoonlik in die kol! En dan kan ons ook nog ander rituele byvoeg, soos rugby en ander sportsoorte, ens. wat ook ons lewe choreografeer.
Korrek vermeld dat “Die sentrum met al die advertensies en winkelvensters wat mense sensories en emosioneel oorrompel is ’n misboek van kapitalisme en verbruikerisme” en moet ons sekularisme ook byvoeg – waarvan die Ball en die Mall op $ondae duidelike simptone is.