Die Artemis-II-sending het my verbeelding aangegryp. Ek vergaap my aan die foto’s wat die ruimtevaarders geneem het. My soekenjin neem my op ’n reis amper so ver soos dié van Artemis II, en voor ek my kan kry, staar ek na die EarthRise-foto (sien hierbo) wat in 1968 tydens die Apollo-8-sending geneem is. Hierdie ikoniese foto wys die aarde wat van agter die maanoppervlak uitloer. Onder die foto ’n aanhaling van Apollo 8 ruimtevaarder Bill Anders: “Here we came all this way to the Moon, and yet the most significant thing we’re seeing is our own home planet, the Earth.”
My oog spring weer na die Earthrise-foto. My eerste gedagte – ons huis, ons moeder lyk goed. Saam met die gedagte kom die woorde – dalk die punchline van ’n grappie wat ek iewers gehoor het – “mooi van ver af en ver van mooi af”’. Terwyl ons moeder van ver af gesond lyk kry sy in werklikheid swaar. Plastiek- en waterbesoedeling, verlies aan habitat en biodiversiteit, en skrikwekkende bevolkingsgroei. Om nie te praat van die effek wat oorlogvoering op die planeet het nie. Die refrein van Laurika Rauch se liedjie (woorde en musiek deur Nataniël) slaan tent op in my gedagtes:
Sy vryf haar moeë bene
Sy’t ’n lang pad geloop
Sy wonder oor haar kinders
Dis haar heel laaste hoop
Sy vou haar hande saam
Soos ’n eensaam gebed
O, wanneer gaan ons leer
Sy’s al wat ons het
Ons moeder kry swaar. Én, sal sommige sê, sy waarsku soos enige goeie ma haar kinders – ekstreme droogtes, stygende temperature, veldbrande en vloede.
Terwyl die Artemis II-span om die maan wentel kuier ons gesin in Dubai. Alles in Dubai is maklik en ‘skoon’. Die woonstelblok het ’n garbage shoot. Jy trek die deurtjie oop, plaas jou sak vullis in ’n netjies uitgeteelde boksie, maak die deur toe en dit is weg. Byna alles is enkelgebruik. Selfs die sushi wat die Uber aflaai kom baie netjies verpak met ’n weggooibare koelboksie. Ons bespreek ’n woestynekskursie. Dubai word klein in die 4×4 se truspieël. Die motor stop en laai ons tussen die mooiste sandduine af, maar dit sukkel om ’n foto te neem wat nie vol plastiese bottels en ander vullis is nie.
LEES OOK: In gesprek met KI: Leer my oor die mens en rommel
Op 22 April vier die wêreld Internasionale Moeder Aarde Dag. Volgens die Verenigde Nasies se webblad wil die dag erkenning gee dat “die Aarde en haar ekosisteme ons huis is” en dat “dit nodig is om harmonie met die natuur en die Aarde te bevorder.” Ek voel daaarna om uit frustrasie my vuis in die lug te swaai en te vra: “Hoe? Hoe pas ek my moeder op?”
ChatGPT gee ’n magdom voorstelle van minder vleis eet, die herstel in plaas van die vervanging van stukkende goed tot herwinning. Ek vermoed dat die beste wat ons vir ons moeder kan doen is om eenvoudiger te leef. Om onsself telkens die vraag te vra: “Het ek hierdie ding regtig nodig?”
Ds Fay van Eeden is predikant by die NG Gemeente Stellastraat en is ’n blogger oor omgewingsake.
