Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Willem van der Colff van Stellenbosch skryf:
Laatmiddag en ’n moeë son hang laag in die weste. Ek is op pad huis toe na ’n lang en kneusende dag. Dit het begin voel asof herfs al in die lug is, maar vandag was dit weer buitengewoon warm. Die weer is deurmekaar.
Oor die radio is die dag se nuus onheilspellend, selfs vreesaanjaend. Oral is daar oorlog en gerugte van oorlog ‒ Oekraïne, Gasa, Libanon, Iran en die Seestraat van Hormoes. Bespiegelinge dat die prys van diesel R40 per liter kan bereik; hoedat inflasie waarskynlik gaan styg en ekonomiese groei verlangsaam. Die wêreld is ook deurmekaar.
Na die mistroostige nuus val Theuns Jordaan effe meer gemoedelik weg met: “Kyk die hanne die / Hulle’t hard gewerk / Doodmaakhanne die / Kan bid in die kerk.” Meesterlik geskryf, soos net David Kramer kan.
Terwyl ek by die verkeerslig wag, kyk ek vir ’n oomblik na my hande wat op die stuurwiel rus. Onverwags kom meld Carrie Underwood aan: “Jesus, take the wheel / Take it from my hands / ’cause I can’t do this on my own.”
Ek het hande nog altyd interessant gevind. Hulle fassineer my, en daarom let ek hulle op. Ander in ons familie klaarblyklik ook. Lank gelede het my ma by ’n kleuterskool gewerk wat my oudste suster se twee dogtertjies ook bygewoon het. Kort voor Kersfees het Kersvader sy opwagting daar gemaak. Groot was die opwinding; vir sommige kinders gewoon té groot. Hulle was oorstelp en het aan’t huil geraak. My suster se twee, sou ek later daardie aand uitvind, was glo nie bang nie. Toe ek vra hoe dan nou so, het die een met erns en baie wysheid geantwoord: “Ek was glad nie bang nie, want Kersvader het Ouma se hande gehad.”
Daar is vele verwysings na “hand” of “hande” in die Bybel. Ek het ’n tyd gelede juis iets daaroor geskryf, onder die titel: ‘Sy hande’:
sy hande is ewig
sy hande is oral
sy hande skep uit niks
sy hande gee lewe
sy hande is oneindig sterk
sy hande is veilig
niks kan my uit sy hande ruk nie
my lewe en tye is in sy hande
sy hande seën
sy hande genees
sy hande breek die brood
skink die wyn
sy hande versorg
voorsien
hy het pottebakkershande
hy het skrynwerkershande
sy hande doen wondertekens
my naam is in die palms
van sy hande ingegraveer
sy hande dra die merke
van lyding, vergifnis en genade
my hand is in syne
en in hierdie stukkende wêreld is
ook ek
sy hande
Ook in die volksmond is daar ruim verwysing na hande. In een bekende gids oor spreekwoorde is daar nagenoeg 150 idiome wat verwys na “hand” of “hande”.
Terwyl ek so in my stilligheid nadink oor hande, raak die verkeerslig oplaas groen. Richard Rohr skryf êrens: “God comes to us disguised as our life”. Ek wonder – kan ek, soos my liewe susterskind, Jesus se hand raaksien en eien in my eie lewe? Is ek bewus genoeg om te weet dat Hy ’n hand het in die alledaagse van my lewe; dat sy hande altyd na my uitgestrek bly? My lewe is boordensvol van my Here se hande. Sy hande is oral en bly my altyd soek. Dié gewaarwording maak vrese opeens minder.
By die huis aangekom, omarm ek my vrou, klop my dogter op die skouer. Ons hou hande vas terwyl ons die seën vra en vertoef ’n wyle saam terwyl ons weet sy hand van bewaring is veilig oor ons.
