Op 22 April 2026 het tant Koba Schabort haar 109de verjaarsdag gevier in die siekeboeg te Westerbloem in Bloemfontein. Dit is ’n gewilde versorgingsoord van die NG Kerk in die Vrystaat. Tant Koba is tans die oudste predikantsweduwee in die NG Kerk. Sy is die weduwee van ds Louis Lehmkuhl, wat 22 jaar lank leraar was in die NG Gemeente Frankfort. Na sy emeritaat in 1972, vestig ds Louis en Koba hulle in ’n splinternuwe huis op ’n boereplaas in die distrik Steynsrus. Hy sterf skielik op 14 Mei 1974 in die hospitaal op Kroonstad, daarna hertrou sy en word mev Koba Schabort.
LEES OOK: Kritiese selfrefleksie oor wit bevoorregting en genesing
Jacoba Olivier, soos sy gedoop is, se vader was ds Andreas Johannes Olivier. Hy was van 1931 tot 1944 leraar in die NG Gemeente Brandfort in die Vrystaat. Hy is op 15 Julie 1949 te Stellenbosch oorlede, aan die huis van sy skoonseun, prof FJM Potgieter. Dit is dieselfde gebou waar ds Olivier studeer het voor sy legitimasie in 1913. Die huis was aan die linkerkant, vandag deel van die huidige Kweekskoolgebou. Op hierdie eiland en terrein, het Simon van der Stel op 8 November 1679 kamp opgeslaan. Ds Johannes Olivier was ’n geliefde leraar met ’n aangename persoonlikheid, ’n Skrifgetroue prediker wat pligsgetrou sy gemeentewerk gedoen het. Hy is begrawe by die NG kerkgebou op Brandfort. Hy is die oupa van prof Pieter Potgieter, twee keer moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk.
Ds Johannes Olivier het ’n interessante lewensverhaal, wat op 19 September 1884 begin op die plaas Rooikrans in die distrik Rosendal. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899, sluit hy as penkop aan by die boerekommando. Die vader en die twee seuns word gevang en na Ceylon verban. Terug as 19-jarige seun met slegs standerd 4, voel hy geroepe om predikant te word. Met geloofsmoed en volharding begin hy weer skoolgaan en matrikuleer op Franschhoek. Daarna studeer hy aan die destydse Victoria Kollege en Teologiese Seminarium op Stellenbosch. Die dorp Reivilo is na hom vernoem, as ’n mens die naam van agter lees.
Hy trou met Anna Helletjie Smuts van Moorreesburg en uit die huwelik is vyf dogters gebore. Vier trou met predikante, wat ’n groot rol in die NG Kerk speel. Die oudste is Johanna Catharina Olivier, wat met prof FJM Potgieter trou, dekades lank professor aan die Kweekskool in die Eikestad. Hulle is in 1939 getroud in Nederland. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog kry hulle plek op die laaste skip wat na Suid-Afrika vertrek. Op see breek ’n brand op die skip uit, wat ’n deel van dr Pottie se boekery vernietig. Jacoba Olivier trou met ds Louis Lehmkuhl. Paula Olivier trou met dr Wicus Coetzer, jarelange geneesheer op Burgersdorp. Marie Rhodesia Olivier is gebore terwyl haar vader predikant was in Rhodesië. Sy was getroud met prof Hennie Joubert, lank verbonde aan die Universiteit van Fort Hare. Aletta Cornelia Olivier is getroud met ds Eddie Botha, wat jonk op 27 September 1966 sterf aan ’n hartaanval, as dienende leraar van die NG Gemeente Drieankerbaai.
Ons bid tannie Koba die seën van die Here toe en is dankbaar vir ’n lang gespaarde lewe.
Dr Gerdrie van der Merwe is ’n kerkhistorikus.
