In die digitale era het sosiale media ’n nuwe terrein geword waar geloofstaal en kerklike beelde dikwels misbruik word vir finansiële gewin. Slim bemarkingstaktieke, dikwels ondersteun deur kunsmatige intelligensie (KI), skep oortuigende digitale personas wat vertroue wek, emosie manipuleer en mense vinnig na ’n koopskakel lei. Die kerk en sy lidmate is ’n sagte teiken juis omdat vertroue en geloof die kern van gemeenskap vorm.
Hoe lyk sulke profiele en webtuistes?
Onlangse voorbeelde toon hoe vals profiele soos “ds Joubert” of “Anne Grobler” op Facebook verskyn. Hulle deel lang, emosioneel gestruktureerde verhale wat lyk soos getuienisse, maar eindig by ’n koopskakel. Die produkte – Bybelstudiegidse, jeugprogramme of teologie-werkboeke – word aangebied sonder duidelike outeurs, uitgewers of aanspreeklikheid. Die profiele wat hierdie produkte bemark, het dikwels geen normale digitale geskiedenis nie. Hulle volg niemand, het geen foto’s of gemeenskapsinteraksie nie, en plaas net een dramatiese storie. Dit is ’n promosiepersona wat doelbewus geskep is om vertroue te wek. Die verhaal is netjies geskryf, en is emosioneel oortuigend.
LEES OOK: Tussenin | Zander van der Westhuizen: Tegnologie moet die mens help, nie anders om nie
Wanneer ’n mens die webtuiste oopmaak, is daar dikwels geen duidelike redaksionele span, kontaknommer of fisiese adres nie. Net ’n produkblad en ’n betaalmandjie. Soms lyk die teks vertaal of generies, met vae beloftes en geen verantwoordbare teologiese agtergrond nie. Die fynskrif bevestig dikwels dat lidmaatskap nie maklik gekanselleer kan word nie, en betalings herhaal sonder dat dit eenvoudig gestop kan word. Hierdie rooi vlae wys dat die doel nie geloofsvorming is nie, maar finansiële gewin.
Die bemarkingstaktiek
Hierdie plasings volg ’n eenvoudige, maar effektiewe bemarkingspatroon:
- Vertroue word geskep – deur ’n persona wat lyk soos ’n dominee, diaken of gewone gelowige (die normale vertrouensposisie van ampsdraers word uitgebuit).
- Dit wek onsekerheid by jou – deur vrae oor kinders, geloofsvorming of sterwensbegeleiding te vra (goeie bedoelings en behoeftes van gelowiges word gemanipuleer).
- Die probleem word oordryf – gewone kerklike praktyke word as onvoldoende uitgebeeld (subtiele verdagmaking met die doel van eie gewin).
- Die oplossing word verkoop – die produk beloof sekerheid, antwoorde en verligting (manipulasie van hoop en soeke na geloofsankers).
Die koopskakel word dus nie net ’n transaksie nie, maar ’n morele appèl: koop dit, en jy hoef nie weer iemand teleur te stel nie.
Die Top-5 toets vir verdagte Facebook-plasings
Gelowiges kan hulleself beskerm deur vyf eenvoudige vrae te vra voordat hulle kliek, koop of deel:
- Wie praat? Het die profiel ’n normale digitale spoor – foto’s, volgelinge, interaksie? Of net een dramatiese plasing?
- Wat wil dit my laat voel? Skep dit vrees, skuld of dringendheid voordat dit bewyse gee? Emosionele oorrompeling is ’n rooi vlag.
- Wat word verkoop, en deur wie? Is die produk, prys en outeur duidelik? Is daar ’n regspersoon, adres en terugbetalingsbeleid? Kan die verkoper gekontak word?
- Kan die aansprake nagegaan word? Wees versigtig vir groot getalle en “bewyse” sonder onafhanklike verwysings.
- Is die bron verantwoordbaar? Het die inhoud ’n herkenbare teologiese agtergrond, ’n uitgewer of ’n kerklike verband?
Die antwoord: wysheid, nie sinisme nie
Ons is nie magteloos nie. Digitale onderskeidingsvermoë vra dat ons stadiger lees, bronne nagaan en koopskakels bevraagteken. Verantwoordelike en kwaliteit bronne soos boeke, Bybelstudiegidse, joernale, ensovoorts, word deur ’n uitgewer goedgekeur en gaan deur ’n redaksieproses voordat dit gepubliseer word. Verantwoordelike omgaan met ons geloof en geloofstradisie vra tog van ons om hierdie kitsbronne se redaksionele fondasie te bevraagteken voordat ons dit aankoop.
KI is nie die vyand nie – dit kan selfs help om patrone te herken en bronne te vergelyk. Die probleem is die spoed waarmee ons reageer en die emosies wat bemarking manipuleer. Die kerk het ’n nuwe vorm van digitale dissipelskap nodig: lees stadiger, toets bronne, vra wie baat, en wees veral versigtig wanneer ’n plasing jou eers bang of skuldig maak voordat dit jou vra om te kliek.
- Dr Pieter Visser is predikant by NG Gemeente Wierdapark, dr Nioma Venter is van die NG Kerk se Algemene Sinodekantoor en ds Carli Fourie is van die NG Gemeente Montana.
- Kerkbode het die webwerf wat met die slenter assosieer word vir kommentaar genader via ‘n e-posadres wat verskaf word. Ons wag steeds op reaksie.
