Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Prof Hoffie Hofmeyr van Pretoria skryf: Die huidige kritieke weersomstandighede en die daarmee gepaardgaande noodtoestande gryp ons almal baie diep aan die hart. Sonder om in detail daarop in te gaan, is die allesoorheersende feit dat amper die helfte van ons land direk of indirek deur hierdie krisis getref is en word. Ek kan naas vroeëre vloede in Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal, nou byvoorbeeld streke soos die Noord-Kaap, die Wes-Kaap, die Weskus, die Tuinroete, die Klein-Karoo, die Gamtoos- en Kouga-streke, die Oos-Kaap en dele van Kwazulu-Natal en die Suid-Vrystaat noem. Die vernietiging en gepaardgaande ellende is ontsettend groot en terselfdertyd is die vooruitsigte vir mense, boere en hulle werkers, die toerismebedryf, die infrastruktuur, asook vir plant, dier en natuur vir die medium en langer termyn-toekoms beslis kommerwekkend.
Intussen hoor ons telkens dat daar hoofsaaklik vier groot rolspelers is wat daadwerklik die fisiese, emosionele, sosiale en finansiële nood van ons bevolking aanspreek naamlik die owerheid, die Heilsleër, die sakewêreld en telkens weer Gift of the Givers. Die een opvallende afwesige wat soos ’n rou sweer en ’n erg ontstellende foutlyn in hierdie verband uitstaan is die kerke. Dit sluit dus ook die NG Kerk as een van die groot Christelike kerke in Suid-Afrika in, en daarnaas ook die sogenaamde sambreelliggaam naamlik die SA Raad van Kerke (SARK).
In Kerkbode word wel gerapporteer oor ’n lofwaardige poging deur die Oos-Kaapse Rampnetwerk rondom finansiële bydraes, maar intussen is selfs ook die SARK aan wie die NG Kerk hom grootliks verbind het, ook tjoepstil. Hoewel daar in sommige kerke gepraat word van rampfondse waartoe mense bydraes kan lewer, slaap en droom ons rustig voort in ons warm beddens en huise en voel ons gesus deurdat ons darem langs die pad ’n paar sent tot ’n fonds bygedra het. Die voorbeeld van Gift of the Givers met hulle uitgebreide hulpverlening is uiters beskamend vir die Christelike kerke. Hoekom kan die NG Kerk naas ander aksies op gemeente- en ringsvlak nie ook met twee of drie duidelik gemerkte vragmotors wat voortdurend gevul bly met noodvoorrade, komberse, nie-bederfbare kruideniersware en selfs enkele basiese nood-medisynes op enkele sentrale plekke gestasioneer bly om hulp te betoon nie. Die Tweetoringkerk in die Vrystaat het miskien reeds iets van ’n pad oopgebreek hiermee met sy Torings van Hoop-projekte in Bloemfontein en omgewing.
As daar gesê word dat daar nie geld daarvoor beskikbaar is nie, is die gegronde indruk dat die finansiering van projekte waarmee die ASM hom tans besig hou aldus ’n Kerkbode-verslag van 27 Maart, deur (kerk)politieke kwessies op pad na ’n nasiekerk (soortgelyk aan die volkskerk van vroeër) gemotiveer word. Is hierdie ASM-werksaamhede volledig genoeg die werksaamhede van ’n kerk wat relevant ook teenoor die medemens behoort te wees. Hierdie ASM-verslag sluit sake in soos die berugte skenking aan Gasa, die piekniekagtige Predikantesaamkoms in Augustus 2026, die ongedurighede tussen die NG Kerk en sy “susterskerke” oor die teologiese rigting van die NG Kerk, die onsekere gesprekke met die VGKSA oor mislukte kerk-vereningingspogings, en die misbruik van die Groote Kerk se geriewe vir ’n intergeloofsbyeenkoms. Kom die saak van barmhartigheidsdiens aldus Art 54 van die Kerkorde (2023) genoegsaam by die NG Kerk aan die orde? Ek meen van nie as dit oor hulpverlening in rampe en krisisse gaan waarmee ons al meer gekonfronteer word.
Die tyd vir die NG Kerk is min en des te meer as hy sy Godgegewe roeping teenoor sy medemens met betrekking tot hulpverlening versuim. Mag God ons as die NG Kerk oor hierdie groot versuim genadig wees. – Brief verkort. – Red.

Beste Prof, dit is altyd jammer dat iemand soos u kritiese uitsprake kan maak sonder om seker te maak dat jy al die feite het. Goeie vrae is dikwels ‘n beter begin as leë kritiek sonder feite. Ek deel graag die volgende: die Algemene Sinode van die NG Kerk het saam met ander kerke en Christelike organisasies, ‘n netwerk gestig vir die breě kerk. Respond SA is ‘n ekumeniese netwerk met die doel om gemeentes en gemeenskappe te help om gereed te wees vir rampe. Die opleiding berei mense voor om effektief te kan reageer. Deel van die strategie is om saam met die plaaslike regering, strategies te kan reageer in tye van krisis. Kom ons word liewer deel van die oplossing deur gemeentes aan te moedig om deel te word van Respond SA en op te teken vir die opleiding, as om leë kritiek rond te swaai. http://www.respondsa.co.za
Marinda, ek het nog altyd waardering gehad vir jou en jou groot werk mbt stedelike bediening, ens. Ek moet wel eerlik wees en stel dat bittermin bekend is rondom Respondsa. Ek het verder ook nie gesien dat hulle in hierdie laaste moeilike weke na vore getree het mbt al die rampe nie. Toe ek my mening in die Kerkbode gelug het oor die “afwesigheid” van die NGK, is dit beslis nie goedkoop kritiek nie. Verder is ‘n deel van my motivering afgesny met die redaksionele versorging van die brief.(Terloops die Kerkbode se riglyne vir redaksie-briewe is feitlik totaal “vaag en onsigbaar” en daarom is my ietsie langer brief ingekort!). Een van die probleme wat die NGK tans het, soos ek dit sien as ‘n mens vanuit my Unisa-ervaring oor 13 jaar, ens, is dat ons nog baie sukkel om die verskeidenheid van groeperinge te handhaaf en te hanteer binne die eenheid van die ekumene. Dit gebeur ook bv tussen die AS en die SARK. Die een skakel tog nie die ander uit nie! En as ons eerlik wil wees word die NGK geskaak deur soveel ideologiese kragte en eensydige segsmense (soos bepaalde kerkleiers en bv ook mense soos Rian de Villiers en Rudi Swanepoel) dat die NGK werklik in almeer faksies verdeel, elk met ‘n eie agenda. Eers as ons werklik weer mekaar in ons sg “ruim huis” in opregte versoening, respek en liefde in die NGK (en ook die VGKSA) gaan vind, sal ons vorentoe kan beweeg. Want die ruim huis se fondamente is soms maar baie wankelmoedig. Ook jy het ‘n taak in hierdie versoeningsproses! Sterkte vir jou werk. Hoffie
1. Marinda, ek het nog altyd waardering vir jou persoon en werk gehad, oa ook in die veld van stedelike bediening.
2. My enkele kritiese opmerkinge kom uit ‘n lojaal-kritiese hoek en die motiverings vir my standpunte is grootliks deur die redaksionele inkorting verwyder.
3. Ek het die afgelope tyd jammer genoeg geen nuus oor RespondSA se reaksie op die rampe gesien nie.
4. Vanuit my baie jare by Unisa en my gebalanseerde instelling in die algemeen, dink ek dat ook ons in die NGK baie sukkel om die verskeidenheid en eenheid binne die ekumeniese raamwerk reg te verstaan en te hanteer. Die een kan tog nie die ander uitskakel nie. Dis dieselfde tipe probleem wat die NGK met die SARK het.
5. Intussen is die NGK diep verdeeld in verskillende faksies en is daar bittermin versoening sigbaar in die NGK maar ook in ons verhoudinge met die VGKSA. Bepaalde kerkleiers en ook mense soos Rian de Villiers en Rudi Swanepoel help nie juis hierdie versoening met hul ideologiese agendas aan nie.
6. Ook jy het ‘n rol te speel in hierdie versoening op die pad vorentoe. Seenwense en groete. Hoffie
Marinda, ek het twee keer op jou opmerkinge gereageer met goeie verduidelikings. Lyk my die webwerf van Kerkbode is tegnies en andersins nie op standaard om dit te plaas nie. Ek volstaan dus maar deur te stel dat ek steeds ‘n gebalanseerde en lojaal-kritiese mens is en dit steeds bly. Intussen het ek nerens gesien dat RespondSA in hierdie ramptye gereageer het nie. As dit nie erens genoem is nie, verpas hierdie ekumeniese bus die geleentheid. Verder word die NGK natuurlik oa agter die dekmantel van ekumeniese organisasies tans deur soveel faksies geskaak en is die ruim huis ook nie insluitend van aard nie, dws die huis van die NGK is maar taamlik wankelrig en verdeeld Omdat ek waardering het vir jou dink ek jy behoort ‘n duideliker rol in die NGK mbt eenheid en versoening te speel. Groete. Hoffie
Kan die prof dalk vir ons die voorbeeld stel en foto plaas van sy trok met die hulp volgelaai, dit sal ons almal inspireer. Dankie prof.
Ek herinner my dat Christus gesê het, die een hand moet nie weet wat die ander hand doen nie. My verstaan is dat die Kerk nie gepla is oor publisiteit nie, maar oor die Wil van God. En die Kerk werk oral waar daar nood is. Veral ongesiens.
Hallo Hoffie, ek reageer op jou opmerking oor riglyne vir briewe aan Kerkbode.
Ons ontvang lesersbydraes vir die briewe-afdeling (https://kerkbode.christians.co.za/category/briewe/) via hierdie skakel:
https://kerkbode.christians.co.za/lesersbrief/
As jy op die skakel kliek, sal jy sien dit is ‘n eenvoudige proses. Daar is ‘n paar gespreksriglyne om deelname op ‘n bepaalde peil te hou en daar is dieselfde woordperk vir alle bydraes in daardie forum.
Skrywers wat vrae het, kan ons per e-pos bereik via kerkbode@tyskrifte.co.za.
Le Roux Schoeman, redakteur: Kerkbode
Dawie, kyk maar gerus net na Gift of the Givers se vervoermiddels gevul met die noodlenigings-inhoud en dan sal jy ‘n goeie prentjie kry.
Dit gaan vir my hoegenaamd nie oor publisiteit nie maar naas die gemeentelike-en ringsaksies is hierdie ‘n addisionele moontlikheid.
Danie Kritzinger, ek stem volmondig met jou saam. Dit gaan vir my hoegenaamd nie oor publisiteit nie. Die eintlike saak waaroor dit gaan is dat noodlenigings-hulp by mense moet uitkom en dat daar genoegsame bronne daarvoor beskikbaar sal wees om spoedeisend te reageer. Naas gemeentelike- en ringsbetrokkenheid kan ‘n oorhoofse poging tog ook van hulp wees. Dit is op sigself ook ‘n stuk getuienis na die wereld daarbuite wat soms wonder wat in die kerk aan die gang is. Deur die kerk se eie toedoen is daar reeds genoeg negatiewe publisiteit teen die kerk. Mag die NGK naas sy ekumeniese betrokkenheid nie sy barmhartigheidsplig versuim nie en mag die wereld ook daarvan in dankbaarheid kennis neem!
Die kerk kan nooit deur publisiteit gedryf word nie. Ons moet doen wat ons doen omdat die Here dit van ons verwag. En omdat ons uit dankbaarheid graag wil help waar ons kan.
Tog is daar ‘n saak uit te maak dat ons as kerk ons lig moet laat skyn.
Dit lyk dus of ons ons hulpaksies (deur gemeentes, ringe, sinodes, algemene sinode, Badisa en ander kerklike organisasies) nie onder ‘n kombers moet wegsteek nie.
Ons lidmate wil sien dat ons ‘n daadwerklike verskil maak. Hulle wil sien waar hulle geld heen gaan en waar ons help. Die twyfelaars en kritici kan ook maar kennis neem.
Daarom moet alle media (van gemeenteblaaie tot sosiale media, koerante, radio en YouTube benut word om te vertel wat ons in die Naam van die Here doen.
Johannes, jy vat die hele gesprek hiermee baie goed saam en dit is dus tipies van ‘n goeie akademikus. Dit wat jy hier uitspel was ook die bedoeling van my skrywe, en ‘n hele aantal mense het dit nie so ge-interpreteer nie en eerder op die verdediging probeer gaan. Selfs die voorsitter van die Moderamen het laat blyk dat ek op tone getrap het. Om ‘n profeet in ‘n ryke tradisie van voorgangers (oa Ben Marais, Johan Heyns, en eeue-oue profete) te wees, soos jy ook in jou loopbaan ervaar het, is nie altyd maklik nie maar bepaalde kern-kwessies moet altyd in die lig van die Woord uitgewys word. Dit bly ons noodsaaklike uitdaging!
Ek het nie tyd om al die terugvoere te lees nav hierdie brief nie. Maar ek het tyd om te getuig oor watter verskil DIE KERK hier in Robertson gemaak het toe die eerste vloed (water) en toe die tweede vloed (emosies) gekom het! Ongelukkig het ek nie fotos geneem nie, want my hande en klere was vol modder soos DIE KERK gehelp het om modder uit huise te skep. DIE KERK het ons netjiese skoene uitgetrek en gum boots gaan koop sodat ons nie gly wanneer ons kos aanry vir mense wat sopas alles verloor het nie. DIE KERK het spaarkamers en sitkamers in gastehuise verander toe die res van die liggaam alles verloor het. DIE KERK het op ons kniee vloere geskrop, rommel weggery en so mense getroos! DIE KERK het boere se hande gaan vashou en troos gebring toe 2000 ton water per sekonde hulle plase verwoes en weggevee het! Toe 2 miljoen liter water per sekonde jare en jare se hektare wingerd en boorde in sekondes see toe gevat het. DIE KERK het bakkies en lorries met kos en klere 100e kilometers laat ry om voorrade te bring aan mense wat anderkant die rivier vasgekeer is.
Daar was wragtag nie tyd om groot trokke te reel vanuit Sinodale kantore nie. En dit was nie nodig hier in Robertson nie, want DIE KERK het ingespring en kos en klere aangery en uitgedeel. Nog nooit in my bediening het ek n beter voorbeeld van DIE KERK gesien nie! En Goddank was dit nie nodig om groot media verklarings daaroor te maak nie. Want die groei wat DIE KERK hier by ons beleef het hierdie week kom net aan Jesus en sy Pinkster Trooster toe!
Ek nooi Suid Afrika om te kom kyk hoe lyk DIE KERK hier in Robertson! Ons is n liggaam. Ons het mekaar lief. Ons is een. Ons is vuil en moeg en flippen broos. Maar ons, ek en almal van my gemeenskap, is DIE KERK van die Opgestane Jesus!
Ek is ontsettend dankbaar Janlu vir wat julle in Robertson as kerk gedoen het! Dit is soos ek in my KB-brief aangedui het dat gemeentes en ringe die eerste plek is waar dinge moet gebeur. Maar soos prof Johannes Froneman (kenner op die terrein van kommunikasie) hierbo aandui, wil ons lidmate maar ook die publiek weet van hd wonderlike aksies. Die buitewereld wil ook hoor vd kerk se lig wat skyn en daarvoor moet ook kerklike kommunikasie-media in so ‘n tyd optimaal funksioneer. En Janlu onthou maar net soms is die kerk ook met so baie sekondere dinge besig dat hy ook maar net herinner moet word soos nou, wat sy kerntake is. Sterkte vir julle daar in Robertson. Hoffie
Rudolph, groot waardering vir alles wat julle in Rawsonville doen. Soos ook in my brief gestel, is dit juis op plaaslike vlak waar die belangrikste aksies moet plaasvind. Maar soos prof Johannes Froneman, ‘n topkundige op die terrein van kommunikasie hierbo aandui, moet die nuus oor en die lig op hierdie dinge baie duidelik deur veral kerklike kommunikasie-middele uitgedra word. Soms is dit ook goed dat die kerk herinner sal word aan sy primere taak terwyl hy soms te veel op sekondere dinge fokus. Sterkte daar en groete. H
Geagte Professor, daar is ’n pad wat vir elkeen reg mag lyk maar dit is nie noodwendig nuttig nie. Ek kan hoor dat u regtig ’n wroeging het oor baie dinge. As akademikus het u sekerlik die Bybel deur en deur bestudeer, moet u maar soos ons almal in ons stiltetyd vir die Here vra of ons eie denke en aannames vir Hom aanneemlik is. Ons plig is immers nie om die Almagtige te verkwalik omdat sy kinders nie optree soos u van hulle verwag nie. Daar staan in Kol. 4 vers 5 en 6: Tree met wysheid op teenoor die mense wat (volgens ons opinie, my eie invoeging) nog buite die gemeente is. Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord. Ons moet allereers op ons knieë begin, God is liefde, nêrens lees ek in sy Woord dat Hy anders optree teenoor Sy kinders. Dink net, as ons die hoeveelheid energie wat ons aan kritiek bestee tog maar liewer oorskakel na liefde vir ons naaste, (ook die Kerkmense wat ons insiens op die verkeerde pad is). Ons moet op die Here vertrou, Psalm 23 Hy bring my by waters waar daar vrede is. Vreugde in oorvloed word U toegebid.
Vriende, sonder om verduidelikings te gee vir elke opmerking van julle kant af hierbo, net die volgende van my: verskeies het gevra wat doen ekself tov verligting van nood onder ons mense. Vir bv afgelope 15 jaar dra ek konstant by, naas my dankoffer tot lewensonderhoud van een swart familie en dan hulp-studie gelde vir 2 ander swart studente. Een van hulle het selfs so goed gevorder dat hy tans besig is om as breinchirurg te spesialiseer. Verder voel ek op voetspoor van prof Ben Marais sterk oor die profetiese rol vd kerk, en daarom my vraag waar is die NGK. Het ons maar in 1948 alreeds geluister toe prof Ben gese het apartheid kan nie op die Bybel gefundeer word nie!! Hiermee sluit ek dan my verdere kommentare af. Seenwense. Hoffie