Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Philip Coetzee van Strand skryf:
Die berig oor Dignity SA se hofsaak om mediese bystanddood te laat wettig, laat my met een groot vraag: Waar is/was die kerk in hierdie debat? (Jana Breytenbach, Die Burger 2026/05/28).
Volgens die berig was daar vier respondente in die saak, naamlik die Minister van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling, die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, die Minister van Gesondheid en die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA). Tog blyk dit dat slegs die HPCSA werklik teenkanting in die vorm van ’n betoogskrif gelewer het.
Maar waar is die groot kerke en denominasies van Suid-Afrika? Waar is die sinodes, algemene sinodes, moderature, kerkrade en geestelike leiers? Indien ongeveer 80% tot 85% van Suid-Afrikaners hulleself as Christene beskou, waarom hoor ons so min van die kerk se stem oor ’n saak wat die waarde van menslike lewe raak?
Vir Christene is hierdie nie bloot ’n politieke of mediese debat nie. Dit raak die kern van ons geloof. Die Bybel leer duidelik: “Jy mag nie doodslaan (doodmaak) nie” (Eksodus 20:13). Die menslike lewe is nie ’n besitting waaroor ons finale gesag het nie. Die lewe is ’n gawe van God, en Hy alleen bly uiteindelik Heer oor lewe en dood (Deut 32:39, Ps 139:16, 1 Kor 6:19-20).
Ja, ons het diep meegevoel met mense wat ondraaglike lyding beleef. Niemand wil sien dat mense onnodig swaarkry nie. Daarom moet palliatiewe sorg, emosionele ondersteuning en geestelike begeleiding uitgebrei word. Maar om doelbewuste beëindiging van die lewe te wettig, skuif ’n grens wat ernstige morele en geestelike gevolge het.
Dieselfde bekommernis geld ook vir die groeiende normalisering van aborsie. Wanneer die mens begin besluit watter lewe nog waarde het en watter nie, beweeg ons gevaarlik naby daaraan om God se plek in te neem.
Die kerk behoort nie stil te bly wanneer fundamentele etiese sake soos hierdie bespreek word nie. Selfs mense wat van mekaar verskil, behoort ten minste eerlik en openlik oor die heiligheid van lewe te kan praat.
Miskien is dit tyd dat gelowiges weer met wysheid, deernis én moed hulle stem laat hoor.
