Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Elmarie Jooste (Noordelike) en Wilmi Wheeler (Wes-Kaapland) gesels oor ’n kerknuusstorie tydens ’n onlangse slypskool op Wellington gehou vir die kommunikasiekantore van die NG Kerk se nege streeksinodes. Foto's: Hendrien van Vliet

Leergeleentheid daag NG Kerk se storievertellers uit om ’n kaart nader te trek (en teen spertyd te werk)

’n Intensiewe leergeleentheid vir verteenwoordigers van bykans al die NG Kerk se samestellende sinodes het van 1-2 Junie in die Wes-Kaap sowat 11 deelnemers uitgedaag om op nuwe wyses en onder tydsdruk saam te werk aan die verpakking van kerknuus.

Die formaat was prakties en uitkomsgerig. Die tema was: ‘Storiekaart: Waar stories leef’. Deelnemers moes in spanverband binne enkele ure inhoud uit hulle kontrei “plant” op ’n interaktiewe “storiekaart”, wat spesiaal vir die geleentheid ontwerp is en weldra uitgebou sou kon word. Kliek hier om te verken: https://kerkbode.christians.co.za/storiekaart/

Só het deelnemers binne enkele ure tot hul beskikking hul ‘storievlaggies’ geplant op die interaktiewe kaart waarop deelnemers aan die onlangse slypskool gewerk het. ’n Hiperskakel na die kaart is in die teks hierbo. Foto: Skermgreep

“Die Storiekaart gee ’n prentjie van die werksaamhede van die NG kerk. Dit help om ’n bewussyn te bring dat ’n gemeente nie op sy eie is nie maar deel van die groter kerkverband van die NG Kerk,” het dr Johan Botha gesê. Botha het Oostelike Sinode verteenwoordig.

Juan du Toit van die NG Kerk Vrystaat het gesê die interaksie met ander deelnemers het hom laat voel hulle as kommunikasiespan kan by mekaar leer en mekaar help om gemeentes se stories te help bekendmaak.

Louis Nel van die NG Kerk in KZN het vertel dat hy eiehandig werk om dié streek se nuusbrief (Posduif) saam te stel en klokslag aan alle gemeentes te stuur. “(By hierdie slypskool) moes ek leer om deel te wees van ’n span … Dit was vir my ’n totaal nuwe benadering tot publikasie. Ek moes opnuut leer kyk na die verskillende elemente van publikasie van ’n storie. Die hele oefening was vir my van groot waarde, want na dese sal ek stories anders benader.”

Vir dr Nioma Venter, die algemene sekretaris van die Algemene Sinode, was die slypskool ’n “viering van ons eenheid as kerk”. Sy het bygevoeg: “Die inhoud van die stories waaroor berig word, is kosbaar en bemoedigend … Dit maak die voetspore van die NG Kerk deur die land en God se teenwoordigheid in mense se lewe en gemeenskappe op ’n besondere manier sigbaar,” het sy van die voorlopige uitset gesê.

Die deelnemers hard aan die stories insamel, skryf en “plant” op die storiekaart. Foto’s: Hendrien van Vliet

Buiten Goudland en die Sinode van Oos-Kaapland was al die NG Kerk se nege samestellende sinodes verteenwoordig by die oefening.

Vir van die deelnemers was die proses ’n nuwigheid. Nadia Alers, administratiewe bestuurder van die Algemene Kantoor van die NG Kerk, vertel “ek was uit my comfort zone gevat om my eie storie te skryf van wat die AS kantoor doen”.

Die saamkoms is by Boekhuis op Wellington aangebied. Dit is die kantoor van Bybel-Media, die uitgewer van Kerkbode en die Jaarboek, asook die tydskrif LiG. Dit was die derde saamkoms van sy soort om kapasiteit te help bou binne die kerkverband se sogenaamde e-Kommunikasienetwerk, waarby Venter nuwe asem probeer inblaas in die hoop om die NG Kerk se kommunikasievermoë te verbeter.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top