Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief | Kerk in hof: Aktuarius se verklaring skep vrae

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dawie de Wet van Die Strand skryf: Die aktuarius van die Wes-Kaapse Sinode se amptelike verklaring (DK 05.06.2026) oor “die Coetzee saak, soos op 2 Junie 2026 in die Kaapse hooggeregshof afgehandel,” moet bevraagteken word.

Hy som die uitkoms van die saak in ’n enkele sin op: “Die hof het ds Coetzee se aansoek op prosedurele gronde toegestaan en die besluit van die Ring van Knysna, asook die bevindings van die twee appélliggame ter syde gestel.”

LEES OOK: Hooggeregshof stel tugsaak teen Marius Coetzee ter syde; nuwe ondersoek gelas

Verder word genoem dat die aanvanklike klag teen ds Coetzee van nuuts af ondersoek moet word en dat die hof ook ’n kostebevel teen al die respondente beveel het.

Die boodskap wat die kerkpubliek hier hoor, is dat die tugliggaam van die Ring van Knysna prosedurele foutjies gemaak het. Dit kon nie te ernstig gewees het nie, want die ring en appélliggame van die Wes-Kaapse en die Algemene Sinode het dit nie opgemerk nie! Daar is dus niks om oor bekommerd te wees nie, dis net prosedures wat per abuis nie reg gevolg is nie. Dit moet met ’n nuwe ondersoek reggestel word.

Die regter skets ’n radikaal ander prentjie. Kom ons kyk na paragrawe 40-44 van die uitspraak (my verkorte parafase-vertaling):

“Die Kerkorde beveel mediasie, versoening en pastorale betrokkenheid aan as meganismes wat dissiplinêre prosesse vooraf behoort te gaan. Dit vorm die teologiese basis van die kerk se waardestelsel van genade, versoening, vergiffenis en herstel.

“Daarom is dit jammer dat geen betekenisvolle poging tot mediasie aangewend is voordat ’n tugproses, wat op die applikant se verwydering uit die bediening uitgeloop het, begin is nie. Net so ontstellend is die weiering van ’n baie billike versoek dat die proses vir ’n kort rukkie uitgestel word.

“Die howe is nie teoloë of godsdienstige tribunale nie, en raak normaalweg nie by die huishoudelike sake van kerke betrokke nie. Daarom is dit altyd jammer dat sulke dispute in die sekulêre hof beland.

“Maar wanneer ’n kerk prosedures daarstel om regverdigheid en geregtigheid te verseker en wanneer daardie prosedures nie gevolg word nie, kan die hof nie anderpad kyk nie. Respek vir die gesag van godsdienstige instellings kan nie gerek word om prosesse toe te laat wat nie die standaarde van regverdigheid wat die kerk self bepaal het, bereik nie.

“Dis ironies dat ’n instelling wat op die beginsels van versoening, vergiffenis en verlossing gebou is, nie eers alle moontlikhede om verhoudings te herstel uitgeput het voordat ’n proses, met sulke ernstige gevolge vir beide die applikant en vir sy gemeente, begin is.”

Die prent wat die regter skets, is baie ver van ’n blote “ligte mistykie” – soos die “amptelike verklaring” insinueer. Dit laat ernstige vrae by die kerkpubliek:

  • Waarom word die ernstige teregwysing aan die tug- en appélliggame verswyg?
  • Hoe gaan hulle dit regstel?
  • Hoe raak hierdie uitspraak ander soortgelyke sake teen leraars elders in die land?
  • Hoeveel moet die kerk nou aan regskostes betaal?

Ons hoor graag!

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top