Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Rikus van Zyl en ouderling Pieter Borrington was deur die NG Gemeente Edenburg afgevaardig na die onlangse Vrystaatse sinodesitting. Jaco Strydom het met hierdie plattelandse leraar gesels. Foto's: Verskaf

‘Ons moet daar wees vir mense’ – Rikus van Zyl vertel van ’n trekkerongeluk as draaipunt en bediening op die platteland

“Ek wil nooit ’n dominee op die platteland wees nie!”

Hoe baie moes ek dit al hoor. Of iets soortgelyks. Veral onder jonger dominees deesdae. Ja, hulle sien dalk nog kans vir “’n klein plekkie langs die see”, sal hulle dan opmerk – die roeping Kaap toe loop al sterker – maar nie sommer vir ’n klein plekkie in die Vrystaat of Noord-Kaap nie. “Ek sal gaan,” sê iemand, “maar net as ’n Engel self die boodskap bring.”

Rikus van Zyl is ’n dominee op die platteland in die Vrystaat, op Edenburg, 80 km suid van Bloemfontein, en sy oë blink as hy oor die bediening praat.

Die platteland is in Rikus se murg. Hy onthou sy grootwordjare op Wesselsbron. Hulle was mielieboere, hy het gereeld gaan visvang, elke aand was daar huisgodsdiens, Sondae as gesin kerk toe … daai tipe lewe.

En toe gebeur ’n amper tragiese ding. ’n Trekker trap hom en keer sy hele lewe om.

“Toe ek 16 jaar oud was, was ek in ’n trekkerongeluk waar die agterwiel oor my kop en skouers gery het in ’n land waar ons besig was om te ploeg. Genadiglik het ek nie ’n skedelbreuk opgedoen nie. Ek was baie dankbaar teenoor die Here. En dit was een van die groot draaipunte in my lewe,” sê hy.

Op 48 oorleef hy ’n hartaanval.

“Die Here is goed vir my,” sê hy meer as een keer.

Ek vra hom uit oor die gemeente en hy wys my ’n paar fotos. Wat ’n beautiful bont spul, dink ek, dis mos hoe kerk in Suid-Afrika moet lyk!

Ouderling Pieter Borrington was onlangs saam met hom by die Vrystaatse sinodesitting – hy is al van 2024 af deel van die gemeente.

“Toe ons terugry kon hy nie uitgepraat raak oor sy belewenis van die sinode nie. Veral hoe die sinodegangers na hom uitgereik het: hom gegroet het, met hom gepraat het en sy insette by die tafelgesprek. Hy het gevoel hy is deel,” vertel Rikus.

Kyk ook: Oorsig in 90 sekondes: Kerknuushoogtepunte vanaf sinodesitting van NG Kerk Vrystaat

Ek vra hom uit oor die gemeente en hy wys my ’n paar fotos. Wat ’n beautiful bont spul, dink ek, dis mos hoe kerk in Suid-Afrika moet lyk!

Behalwe vir die sigbare diversiteit binne die gemeente, werk hulle ook graag oor kerkgrense heen. Soos vroeër die jaar met Paasfees. NG Edenburg, Lede in Christus Kerk en die Woord in Waarheid Bediening het ’n gesamentlike getuienisaksie op die dorp geloods en toe saam nagmaal gevier.

“Daar is baie meer goodwill tussen mense as wat ons dink. ’n Mens wens dat die politici dit ook sal raaksien!” sê hy en vertel hoe baie onderlinge verhoudinge op grondvlak tussen mense van verskillende agtergronde hom inspireer.

Rikus en sy gemeente is oral op die dorp betrokke. Onder andere by die Boerevereniging, twee sportklubs en die VVA (Vrystaat Versorging in Aksie) wat inwoners wat swaarkry van kos te voorsien. Soms help die boere in die gemeente en maak hulle saam die dorp se paaie reg.

Rikus en sy gemeente is oral op die dorp betrokke. Onder andere by die Boerevereniging, twee sportklubs en die VVA (Vrystaat Versorging in Aksie) wat inwoners wat swaarkry van kos te voorsien. Soms help die boere in die gemeente en maak hulle saam die dorp se paaie reg.

Wat laai jou batterye? vra ek.

“Om vir mense iets te doen. Om ’n vuurtjie aan te steek en saam met mense rondom die vuur te kuier, om vleis te braai en ’n glasie wyn te geniet! Jag, hengel, stap en die natuur.” Vir ontspanning werk hy ook graag met sy hande en restoureer meubels.

Behalwe vir teologie, het Rikus ’n BComRek-graad van die Universiteit van die Vrystaat. Tussen al die kerkdinge, werk hy deeltyds saam met sy seun Henku – wat in Frankfort woon – as finansiële adviseur. ’n Besige man!

Hy en sy vrou Marietjie het twee kinders. Hulle dogter, Kirna, ook ’n predikant, is betrokke by Good Foundations for Good Fruit (GF4GF) in Somerset-Oos.

Rikus se verbintenis met Edenburg loop diep. Hy het al twee keer ’n beroep na NG Edenburg aanvaar. Gedurende 2002 tot 2006 was hy dominee daar. Toe is hy vir ’n tyd by ’n ander gemeente. En toe, in 2021, beroep die gemeente hom weer! En hy aanvaar.

“Watter rol behoort die kerk te speel in ’n land soos hierdie in ’n tyd soos dié?” vra ek.

“Ons moet daar wees vir mense,” sê hy, “luister en weer luister. Seker maak ons hoor die behoefte reg. Te veel kere doen ons, sonder om régtig te luister.”

In Johannes 17 bid Jesus vir sy dissipels – en vir ons, die gelowiges wat ná hulle sal kom. Meer as een keer bid Hy dat hulle “een sal wees, sodat die wêreld sal weet”. Edenburg-gemeente leef hierdie getuienis op praktiese maniere uit. Hulle is vredemakers op die platteland wat mense oor grense heen bymekaarbring.

“Jesus is die lewende hoop,” sê Rikus. “Ons wil deur ons teenwoordigheid by mense iets van God se liefde weerkaats.”

Op 66 is Rikus steeds vol passie, vir die land en die kerk.

“Ek wil graag soos jy lyk op 66!” sê ek en vra oor sy drome vir die toekoms.

 “My grootste droom vir die toekoms is om steeds ’n verskil te maak in mense se lewe,” sê hy en glimlag.

 

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeugbediening en die NG Gemeente Villieria.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top