Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Suid-Afrika gaan moontlik al weer ʼn fase binne waar ʼn golf van xenofobie ons oorweldig. Die woord “xenofobie” veronderstel vrees vir die vreemdeling, maar die realiteit is meestal haat. Dit is duidelik dat die Ou Testament en ook die Tora hierdie verskynsel geken het. Ek het al hier geskryf oor die Heiligheidswetgewing en die vreemdeling, maar wat sê die oudste regsversameling in die Tora oor die onderwerp? Wat sê die Bondsboek?
Eers ’n woord van waarskuwing. Ons moet altyd baie versigtig wees om antieke tekste op vandag toe te pas, selfs al glo ons as Christene dat hierdie tekste gesag het vir ons. Net een voorbeeld: Ons onderskei vandag tussen wettige en onwettige immigrante of gebruik begrippe soos ongedokumenteerd en gedokumenteerd. Die Bondsboek ken nie hierdie onderskeid nie. Daar word nooit gevra hoekom die vreemdelinge daar is nie. Die Tora se reaksie is eenvoudig: Hulle is nou hier. Wat nou gemaak?
Die Bondsboek is te vinde in Eksodus 20:22 tot 23:33. Dit begin net na die Tien Gebooie en eindig voor die verhaal oor die verbondsluiting in Eksodus 24. Dit word gewoonlik gedateer tot die agste/sewende eeu vC. Die Bondsboek praat by drie geleenthede oor die vreemdeling: Eksodus 22:21, 23:9 en 23:12. In die eerste twee verse is die inhoud dieselfde.
Eers word die hoorders verbied om die vreemdeling te mishandel. Tweedens word daar op hulle medemenslikheid aanspraak gemaak: Onthou julle was self vreemdelinge in Egipte, julle weet dus hoe dit voel. Dit is ʼn oproep tot empatie. Die derde vers is ʼn herhaling van die Sabbatsgebod en onderstreep dat ook die vreemdeling op die dag moet rus. Die Sabbat is nie ʼn geleentheid om hulle uit te buit nie.
In die geval van 22:21 word daar in die volgende vers ook verwys na ander weerlose mense in die antieke wêreld: weduwees en weeskinders. Ook hulle mag nie onderdruk word nie. Die Tora vind die uitbuiting van weerlose mense duidelik walglik. In vers 23 beloof die Here dat as die Israeliete hierdie weerlose mense gaan verdruk dan sal Hy hulle noodroep hoor en optree. Die volgende vers vertel van God se toorn wat ontbrand teen sy eie mense. Aan die begin van Eksodus het God juis sy eie mense se noodroep gehoor en sy toorn teen Egipte laat ontvlam. Nou word die rolle potensieel omgeruil. Die Bondsboek verstaan God se posisie as volg: Onthou wat Ek vir julle gedoen het. Onthou dat julle ook vreemdelinge was. Onthou dit alles as julle met weerlose mense omgaan!
Miskien moet ons politici wat so openlik vreemdelinge uitbuit om stemme te werf en om hulle eie politieke mag te versterk aan die Bondsboek herinner! God haat die uitbuiting van weerloses! Wees gewaarsku!
Prof Sias Meyer doseer Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria.
