Ek is eerste daar en skuif agter die vleuel in Wellington-Noord se kerkgebou in. Die klavier se aanslag is sag en die klank besonders. Dit is aand en net sommige ligte brand. Die loodglasvensters, hoë plafon en kerkbanke skep vir my ’n heilige atmosfeer. Tussenin al die bedrywighede van die afgelope paar weke kom daar ’n vrede oor my. Dit is tyd om nuwe musiek te skryf.
LEES OOK: Zander van der Westhuizen | Skuif jou fokus na die foute of die vreugdes?
Ek vind ’n paar akkoorde, ’n paar woorde en pen dit in my rooi notaboek neer. Dit is nie maklik om nuwe musiek te skryf wat deur ’n groep mense gesing moet word nie. Tydens die PredikanteSaamkoms in Augustus wil ons graag vir die kerk ’n geskenk gee – nuwe liedere met vars woorde wat aanklank vind by ons hedendaagse lewe en terselfdertyd getrou bly aan die Skrif.
Die ander arriveer. Ons gesels en begin werk aan idees. Almal bring woorde en selfs ’n melodie of twee. Ek verduidelik die Saamkoms se teologiese lyne en ons kom ooreen oor die temas vir ten minste drie liedere. Ons mik ook vir ’n nuwe lied tydens Saam in Lof op die Donderdagaand – die eerste musiekproduksie van die NG Kerk, sover ek weet, wat later op televisie uitgesaai gaan word.
Later die week ontmoet ons in Neil-hulle se huis. Hulle bly op ’n wynplaas en ek moet erken ek is ’n klein bietjie jaloers. Dit is koud dié oggend en daarom brand die vuur reeds in die kombuis. Deur die venster met die wit raam kan ’n mens die berge sien. Die lug is blou en vir ’n oomblik sien ek die simboliek van God se skepping en ons eie skeppings wat hande vat.
LEES OOK | Zander van der Westhuizen: Ons vier te min die lewe. Ons stop te min om dankie te sê
Lettie bid vir ons. Vir die musiek. Vir die woorde. Vir die mense se harte wat dit eendag sal hoor. En vir die braaibroodjies.
Ferreira sit op die vloer en speel kitaar. Jattie sit op die bank, besig om notas te maak. Nico sit by die tafel en dink oor die woorde van ’n gebedslied. Neil se vingers beweeg oor die snare van sy kitaar, terwyl Deon staande saam sing en die melodie verfyn.
Terwyl die toneel voor my afspeel, dink ek aan die ongelooflike voorreg om hier te sit. Ek besef wat dit beteken. Hier is nie egos nie. Niemand is liggeraak oor sy eie melodie of woorde nie. Almal gee eerlike terugvoer en almal is opreg dankbaar wanneer iemand anders se inset die lied of die woorde verbeter.
Elkeen weet: dit gaan nie oor my nie. Dit gaan oor die Here se kerk. Dit gaan oor gemeentes en die evangelie. Dit gaan daaroor om jou musikale talent aan te wend ter wille van die jongmense in Bloemfontein of die ouer lidmate in De Aar. Van die kinders in die voorstede van Kaapstad tot die selgroepe in Johannesburg.
Neil bring koffie en ons almal raak ingetrek in die nuansering van sekere lirieke. Ons lag en spot ’n bietjie met mekaar. Ons voel die emosie van die musiek en raak verdiep in gebede.
Vir ’n oomblik is Jattie weg van die geraas van ’n kantoor vol mense. Nico ontdek ’n nuwe plek vir sy woorde. Neil deel iets van homself en Deon skryf saam met nuwe vriende. Ek en Ferreira is vir ’n oomblik nie met gemeentewerk besig nie.
Ons is in ’n ruimte – ’n heilige ruimte. Ons is kerk. Ons skryf musiek – nuwe musiek.
Soos dit hoort.
Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.
