Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Tussenin | Zander van der Westhuizen: Skuif jou fokus na die foute of die vreugdes?

Die Here leer my tans iets: Die kerk is dalk nie so dood soos wat my frustrasie met sommige aspekte van die kerk my soms laat dink nie. Daar is steeds predikante en lidmate wat elke dag getrou opdaag, droom, dien, lei, innoveer – en selfs hulle WhatsApp’s en e-posse antwoord.

 

Die ander dag ontmoet ek ’n predikant en sy raakvattervrou wat aan die einde van hulle bediening in ’n gemeente staan – en tog is hulle steeds ’n enorme aanwins vir die kerk. Hulle bring mense bymekaar, organiseer funksies en sorg dat die hele dorp weet: “Hierdie gemeente leef. Hierdie gemeente is dinamies!”

LEES OOK: Tussenin | Zander van der Westhuizen: Ons vier te min die lewe. Ons stop te min om dankie te sê

 

Ek kuier saam met twee kollegas in ’n gemeente wat raad soek en planne wil maak. Hulle droom oor nuwe moontlikhede om hulle fasiliteite kreatief te benut en doen moeite met hulle preekreekse en musiek. Daar is ’n gasvryheid wat mense van heinde en verre na hulle dienste toe trek.

Tydens ’n koffie-afspraak hoor ek ’n kollega se hart – ’n jong diensleraar vol passie vir die Here en sy bediening. Hy wil leer, groei en ontwikkel. Daar is leierskap in hom, en sy sosiale media is vol inspirasie en hoop vir jongmense.

Ek sien hoe ’n ouderling in ’n gemeente sonder ’n predikant leiding neem, die regte hulp betrek en oop bly om te leer sodat hulle hulle gemeenskap beter kan dien.

LEES OOK: Tussenin | Zander van der Westhuizen: Tegnologie moet die mens help, nie anders om nie

 

Ek lees die berigte oor hulpverlening tydens die vloede in die Kaap. Ek weet die NG Kerk het waarskynlik tydens Pinkster meer sop bedien as wat die meeste restaurante in ’n jaar doen.

Ek werk saam met aanbiddingsleiers op die mees onwaarskynlike plekke – mense wat met “tracks” lofprysing begelei, kreatief dink en soms meer tegnologie gebruik as wat ons in die stad regkry.

Die lys is langer as wat ek dink. En die frustrasie wat ek soms ervaar, word makliker om te hanteer wanneer ek my fokus plaas op die plekke waar predikante, lidmate en leiers groei, leiding neem en vorentoe beweeg.

Ek het ’n belydenis om te maak: Ek sukkel soms met predikante. Dit grens waarskynlik aan oordeel of selfregverdiging. Daarom probeer ek my hart mooi dop hou en vra ek die Here se hulp daarmee.

LEES OOK: Tussenin | Zander van der Westhuizen: Gelykenis van die prater en die grassnyer

Dit val my soms op dat binne die kerk en ons professie, eenvoudige dinge soos om ’n e-pos of WhatsApp te beantwoord agterweë bly. Daar word soms baie stadig gereageer in terme van terugvoer en besluite. Ek beleef dit nou self met die predikantesaamkoms se reëlings.

En dan begin my kop maal. Dan wonder ek oor dieper dinge – oor hoekom die kerk op sommige plekke is waar sy vandag is. As ons nie eens ’n WhatsApp of e-pos kan beantwoord nie – sê dit iets? Kom ons by die mense wat ons nodig het uit of hardloop ons gemeentes se organisasie effektief?

Of ek hoor verhale van gemeentes waar die energie opgeraak het. Waar daar min nuwe planne, nuwe drome of nuwe inisiatief is, terwyl daar jonger predikante is wat brand om te dien en nuwe moontlikhede te verken, maar nie die kans gegun word nie.

Terwyl ek hieroor nadink, besef ek weer hoe maklik ’n mens se fokus verskuif na dit wat pla, eerder as na dit wat lewe gee. Die Here leer my om minder te fokus op dit wat dood of vasgeloop voel, en eerder raak te sien waar Hy besig is om nuwe lewe te bring.

Die Here is steeds met sy kerk besig.


Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.

No data was found
Scroll to Top