Geloof in God is poësie deur Danie van Zyl
Uitgewer: Turksvy Publikasies, 2026
Resensent: Ernst Conradie
Turksvy Publikasies staan skrywers by wat die roete van selfpublikasie wil volg. Groter uitgewers word oorval met manuskripte en dit is nie vir hulle moontlik om alle goeie boeke bekostigbaar uit te gee nie. Daar is wel ’n fooi aan verbonde om te help met die proeflees, uitleg, registrasie en drukwerk van manuskripte. Skrywers (eerder as lesers) betaal daarvoor. Behalwe vir die uitgewer se webwerf is skrywers dan self verantwoordelik vir bemarking en verspreiding. Op hierdie manier word boeke gepubliseer wat nie andersins beskikbaar sou wees nie. Geloof in God is poësie is ’n goeie voorbeeld hiervan.
Danie van Zyl was vroeër ’n predikant in die Transkei, werk veral in die veld van Ou Testament en was vir baie jare betrokke by die Sokhanya Bible School. Soos ander kollegas probeer hy na aftrede om steeds na te dink oor die inhoud van sy geloof, bediening, sy liefde vir die Bybel, sosiale kwessies en die intellektuele uitdagings wat saamhang met veranderende wêreldbeskouings. Hy bring dit alles bymekaar in hierdie bydrae om homself, die mense rondom hom en ander wat belangstel te help om met hierdie soort vrae te worstel.
Met die titel Geloof in God is poësie neem Van Zyl ’n duidelike posisie in, naamlik dat geloof nie iets is wat ten beste in wetenskaplike kennis, dogmatiese uitsprake of selfs persoonlike ervarings uitgedruk kan word nie. Om geloofstaal te verstaan, moet ’n mens die metaforiese aard van enige taal begryp. Dit is skeppend van aard. Hy verstaan God as Skepper, daarom as Digter, amper letterlik as Poëet. Hierdie oortuiging vloei oor in die soms digterlike, selfs liriese toonaard van dele in die boek.
Die boek is ingedeel in drie afdelings: 1) Hoe dink en praat ons oor God? 2) Kan ons anders oor God dink? en 3) Die Bybel as “Woord van God”. In die bespreking kom ’n wye verskeidenheid temas aan die orde – oor die Bybel en die verskillende literatuursoorte daarin, Genesis 1-3, die Psalms, die geskiedenis van nadenke oor God, die uitdagings van filosofie en wetenskap en dan klassieke dogmatiese temas soos openbaring, die inspirasie en gesag van die Skrif, skepping, erfsonde, lyding, ellende, dood, verlossing, verkiesing, voleinding (eskatologie), hemel en hel, die godsleer, Christologie, Pneumatologie, engele, die duiwel en wat nog meer as “verwante kwessies”.
Hy dui strykdeur aan hoe die betekenis van hierdie temas verdraaid geraak het deur die loop van die eeue. Uiteraard is dit nie moontlik om al hierdie temas binne die bestek van net meer as 200 bladsye in diepte te bespreek nie. Die bedoeling is egter nie om uitsluitsel oor alles aan te bied of selfs te soek nie. Dit is eerder om vrae aan die orde te stel en doodloopstrate aan te dui – wat dan dien as ’n uitnodiging aan ander om saam verder daaroor na te dink.
Ek wil ten slotte ’n bietjie tong in die kies ’n waarneming maak. Die woord dogma word in verskillende vorme ’n stuk of 30 keer in die boek gebruik en dan omtrent uitsluitlik in ’n negatiewe sin. Dit is verstaanbaar, want onder dogmatici word die woord dogma (of selfs leerstellinge) ook dikwels bevraagteken. Die meeste sistematiese teoloë wat ek ken sal daarop aandring om sisteemdenke te vermy.
Wat opval van hierdie boek is hoedat iemand wat geskool is in Ou-Testamentiese studies bereid is om uit te reik en temas aan die orde te stel wat in die tradisionele veld van dogmatiek val. Dit lok nie net verdere gesprek tussen dissiplines uit nie, maar maak dit ook moontlik. Dit is dan ook die welkome bydrae van hierdie boek.
Beskikbaar by Turksvy Publikasies.
Prof Ernst Conradie doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
