Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Stories van Hoop: Wanneer die kaart verander (tesame met CMR Gauteng-Oos)

Vir Mia, Hannah en Joshua het die lewe ‘n ander koers ingeslaan as wat enigiemand ooit vir hulle sou toewens*.

Hoewel hulle uit verskillende biologiese gesinne gekom het, is die drie kinders saam aangeneem toe hulle nog jonk was. Hulle het ‘n huis gekry om hul eie te noem en ouers wat daarna gestreef het om aan hulle die liefde, stabiliteit en geleenthede te bied wat elke kind verdien. Mettertyd het hulle ‘n hegte gesin geword. Die kinders is tuis onderrig en vir ‘n tyd lank het dit gelyk asof die lewe uiteindelik in die regte rigting beweeg.

DIe Christelike Maatskaplike Raad Gauteng-Oos glo dat elke storie van hoop die potensiaal het om ander te inspireer. Grafika verskaf

Die jare daarna het egter nog ingrypender veranderinge en nuwe uitdagings gebring.

Mia, die oudste, het met emosies geworstel wat sy self dikwels nie kon verstaan of verwoord nie. Haar innerlike pyn en verwarring het uiteindelik daartoe gelei dat sy in pleegsorg geplaas is. Die skeiding was pynlik. Terwyl Hannah en Joshua by hul aanneemouers gebly het, moes die drie kinders leer om op verskillende paaie groot te word. Tog het die band wat hulle deur hul gedeelde kinderjare gevorm het, nooit verdwyn nie.

Ná hul aanneemma se dood het rou hul gesin se lewe ingrypend verander. Mia, wat toe reeds 18 jaar oud was en reeds uit pleegsorg ontslaan was, het teruggetrek om hul aanneempa te help om na die twee jonger kinders om te sien. Die daaglikse stryd om kop bo water te hou, het egter daartoe gelei dat skoolwerk, roetines en langtermynbeplanning noodgedwonge afgeskeep is. Gevolglik het hul opvoedkundige agterstande al hoe groter geword.

Te midde van hierdie onsekerheid het daar nuwe hoop ontstaan. Planne is beraam vir die drie kinders om na die buiteland te verhuis, waar hul aanneempa familiebande gehad het. Hulle het gedroom van nuwe skole, nuwe vriende en die geleentheid om weer van voor af te begin.

Toe tref nog ‘n verlies.

Kort daarna is hul aanneempa ook oorlede, en die planne het nooit gerealiseer nie. Weer eens is die drie jongmense met onsekerheid oor hul toekoms gekonfronteer.

Vriende van die familie het tydelik hul huis vir die twee jonger kinders oopgestel terwyl daar na ‘n langtermynoplossing gesoek is. Teen dié tyd het die opvoedkundige agterstande so groot geword dat hulp deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ingeroep is. Die saak is daarna na CMR Gauteng-Oos verwys.

Vandag getuig Mia se verhaal van veerkragtigheid en deursettingsvermoë. Reeds ‘n jong volwassene, het sy haar studies aan ‘n privaat kollege hervat en haar skoolopleiding suksesvol voltooi.

Hannah en Joshua is in ‘n jeugsorgsentrum geplaas waar hulle die struktuur, ondersteuning en opvoedkundige hulp ontvang wat hulle nodig het. Hoewel dit ‘n groot uitdaging is om jare se agterstand in te haal, is hul toekoms weer doelbewus op koers geplaas.

Maatskaplike werkers, versorgers en ander ondersteuners help hulle om die vaardighede, selfvertroue en opvoedkundige grondslag te ontwikkel wat hulle vir volwassenheid nodig het. Statutêre ondersteuning strek egter net tot op die ouderdom van 18. Daarom leef die hoop, terwyl hulle voortgaan om hul toekoms te herbou, dat nog mense sal aansluit by dié wat reeds betrokke is, om ‘n netwerk van sorg, geleenthede en aanmoediging te help bou wat hulle kan ondersteun totdat hulle 21 jaar oud is.

Hul verhaal herinner ons daaraan dat wanneer mense saamstaan rondom ‘n kind, nuwe moontlikhede begin groei waar daar eens net beperkinge was. Hoop kom nie altyd in die vorm van ‘n wonderwerk nie. Soms kom dit as ‘n veilige plek om te bly; iemand wat in jou glo; of bloot nog ‘n geleentheid om weer te begin.

Te midde van die uitdagings flikker daar nuwe lig. Hoop in elke toets wat geslaag word, hoop in elke nuwe vaardigheid wat aangeleer word. Hoop in elke geleentheid wat aangegryp word en in elke persoon wat bereid is om ‘n ent saam met hulle te stap.

Want soms is dit juis wanneer die kaart verander, dat ‘n nuwe bestemming moontlik word.

*Skuilname.


Meer oor Kerkbode se *storievennote

By die Christelike Maatskaplike Raad Gauteng-Oos glo ons dat elke storie van hoop die potensiaal het om ander te inspireer. Daarom deel een van ons personeellede elke maand ’n verhaal wat haar diep geraak het, ’n oomblik wat haar laat stilstaan en anders laat kyk het, en wat ons herinner aan die veerkragtigheid en menswaardigheid wat in elke gemeenskap leef.

Meer oor ons: As ’n nie-winsgewende organisasie lewer ons al meer as 40 jaar lank omvattende maatskaplike dienste wat daarop gerig is om mense sosiaal, emosioneel en ekonomies te bemagtig – ongeag ras, ouderdom, geslag of agtergrond. Met sewe kantore wat ’n wye gebied bedien, raak ’n toegewyde span van 15 maatskaplike werkers en vyf maatskaplike hulpwerkers daagliks lewens aan op maniere wat nie altyd in woorde vasgevang kan word nie.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top