Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Kerk in hof: ‘Dié uitspraak is ’n oorwinning vir geregtigheid’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Gerhard Ferreira van Johannesburg skryf: Kan almal wen uit ’n hofsaak? Dit blyk so. In die onlangse Wes-Kaapse hofsaak, Marius Xavier Coetzee v The Congregation of the Dutch Reformed Church Karatara-Sedgefield and Others (2 Junie 2026), het die saak nie oor die meriete van die aanklagte teen ds Coetzee gegaan nie. Dit het eerder gedraai om die nakoming van behoorlike prosesse gedurende sy tugproses. Regter Louw het die kernvraag soos volg saamgevat: “The central question before this Court is whether the proceedings before the DBPK were so procedurally irregular and fundamentally unfair as to warrant judicial intervention.”

LEES OOK | Hooggeregshof stel tugsaak teen Marius Coetzee ter syde; nuwe ondersoek gelas

As gelowiges het Moses (Lev 19:18) en Jesus (Matt 7:12; Luk 6:31) die Goue Reël as sentrale waarde gegee: Dit wat jy wil hê mense aan jou moet doen, moet jy ook aan hulle doen. In hierdie hofsaak word die Reëls van Natuurlike Geregtigheid as die praktiese toetssteen vir hierdie Goue Reël gebruik.

Wat behels die Reëls van Natuurlike Geregtigheid? Hierdie gemenereg-beginsels beskerm ’n regverdige regsproses deur twee kernkonsepte:

1. Audi alteram partem (“luister na die ander kant”) Niemand mag gestraf of benadeel word sonder ’n billike geleentheid om hulle saak te stel nie. Die hof het bevind dat hierdie reël in ds Coetzee se saak gefaal het: Kennisgewing: Die basiese inligting van die klagtes is nie aan hom verskaf nie. Omdat die eerste klagtes al vier jaar gelede ontstaan het, was daar geen dringendheid wat ’n oorhaastige proses kon regverdig nie.

  • Voorbereidingstyd: Waar die Kerkorde ’n kennisgewingtydperk van 7 dae vereis, was die werklike tyd wat hom gegun is tussen 1,5 en 3,5 dae.
  • Reg om gehoor te word: Die klagstaat het te min inligting bevat vir hom om te bepaal watter getuies hy vir sy verdediging moes roep.
  1. Nemo iudex in causa sua (“niemand mag ’n regter in eie saak wees nie”) Besluitnemers moet onpartydig en sonder enige skyn van vooroordeel wees. Die Gedragskode van Leraars trek hierdie konsep selfs wyer deur te vereis dat leraars en beamptes hulleself van enige situasie met ’n botsing van belange moet onttrek. Ds Coetzee het aangevoer dat die aanklaer moontlik vooraf betrokke was, wat ’n billike verhoor in die wiele gery het.

Waarom is dit belangrik vir die kerk? Jesus het self in sy verhoor voor Pontius Pilatus nie die voordele van hierdie reëls geniet nie. Hy is onskuldig bevind en tog gekruisig. Ook in ons land se geskiedenis is mense sonder regsprosesse veroordeel. Die beginsels van natuurlike geregtigheid sluit egter aan by die Skrif (soos Matteus 18:15-17) en Kerkorde Artikel 61.2.

Beteken hierdie uitspraak dat die kerk nou magteloos is om tug toe te pas? Hoegenaamd nie. In my opinie beteken dit bloot dat ds Coetzee moontlik herverhoor sal word, maar dan onderworpe aan ’n nuwe, regverdige proses. Die kerk moet hierdie uitslag nie as ’n nederlaag beskou nie, maar as ’n oorwinning vir geregtigheid en die Goue Reël.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top