Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Brief vir die vroue van ons kerk

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Tielman Roux (leraar van die NG & Hervormde Gemeentes Hendrina): ’n Paar jaar gelede vra ek my ma hoekom sy my Sondagskoolonderwyser van standerd 2 tot standerd 8 was? Haar antwoord? “Omdat ek bang was hulle skop jou uit!” Vandag glimlag ek nog daaroor. Ek was vir seker nie my ma se soetste kind nie.

Dit was eers met my ma se dood vanjaar dat ek besef het sy was veel meer as my Sondagskooljuffrou. Sy was my grootste mentor – nie alleen in my geestelike vorming nie, maar ook in my bediening.

My ma het ’n groot liefde vir die kerk gehad, veral vir die gemeentelike bediening. Sy het pannekoek gebak, in die koor gesing, op feeskomitees gedien, kategese gegee, as diaken en ouderling gedien en was ook ’n bedienaar met preek- en erediensvaardighede. Sy was nooit op soek na ’n titel of erkenning vir wat sy gedoen het nie. Sy het eenvoudig opgedaag waar daar gedien moes word. Dit was juis haar liefde vir die kerk en die teologie wat my geïnspireer het om self predikant te word.

Sondag 9 Augustus, vier ons weer Nasionale Vrouedag. Vir my is dit ook die perfekte geleentheid om die vroue van die gemeente en van die kerk te bedank.

Dikwels hoor ek nog mense sê wanneer hulle groot kerkgeboue op die platteland sien: “Weet jy hoeveel koeksisters en pannekoek die vroue verkoop het om daardie gebou op te rig?” Dit herinner ’n mens dadelik aan die rol wat vroue deur die geskiedenis van die kerk gespeel het, en dat hulle nie altyd die erkenning daarvoor ontvang het nie. Daarom is dit juis ’n goeie tyd om die baie maniere waarop vroue God se liefde uitleef, raak te sien en te vier.

Hierdie viering binne ons eie kerk is des te meer betekenisvol in die lig van die huidige gesprek oor vroue in die amp op grondvlak. Onlangs het die besluit van die Gereformeerde Kerke (GKSA) dié gesprek weer laat opvlam. ’n Gesprek wat ons herinner dat gelowiges die Skrif soms verskillend interpreteer en verstaan. Juis daarom is dit goed om op Vrouedag nie eerste oor ons verskille te praat nie, maar oor ons dankbaarheid. Sedert 1990 dien vroue ook as predikante, ouderlinge en diakens in die NG Kerk. Vandag is ons dankbaar vir die baie gawes waarmee hulle die kerk verryk.

Vir ’n oomlik wil ek elke vrou in die kerk bedank vir die rol wat julle in die koninkryk van God speel.
Vir die vroue wat pannekoek, jaffels en koeksisters verkoop.
Vir die vroue wat kinders leer bid, sing en Bybelstories vertel.
Vir die Bybelstudieleiers.
Die vrywilligers.
Die ouderlinge.
Die diakens.
Die predikante.
Vir elke vrou wat eenvoudig opdaag en begin dien waar daar gedien moet word.

Dankie vir julle diens. Dankie vir julle gebede. Dankie vir elke opoffering wat julle maak. Dankie dat julle die evangelie verkondig én dit leef. Die kerk, die liggaam van Christus, is ryker omdat julle daarin dien.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “’n Brief vir die vroue van ons kerk”

  1. Chael TerBlanche

    Amen.
    Dankie aan die vroue wat hulle plek volstaan in die koninkryk van God.

    Ek vind dit net jammer dat ons verskille as ‘n gegewe aanvaar. Dit blyk asof die waarheid nie meer belangrik is nie. Dalk omdat ons met hedendaagse revilatisme nie die waarheid volgens God se woord wil hoor nie.

    Ons het die moed gehad om apartheid weer te besoek en tot die waarheid te kom. Ek dink dit is tyd dat ons dieselfde moet doen met vroue in die amp.

Comments are closed.

Scroll to Top