Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hoe omvangryk is vaderloosheid en ’n tekort aan biologiese pa’s wat fisies, emosioneel en geestelik teenwoordig is, in Suid-Afrika. En wat kan die SA geloofsgemeenskappe doen om’n transformasie te bring by pa’s in die land?

In Diepte | ‘Party pa’s probeer nog dieselfde styl gebruik as 30 jaar gelede – dis dissipline sonder ’n verhouding’

Toe Jenny, sy vrou, die prediker ds Cassie Carstens in 2005 oorreed het om ’n 15-jarige weeskind, Abongile, in hulle huis te laat bly, het Abongile hom onverwags “my daddy” genoem. Dit was ’n grondverskuiwende oomblik; iets wat Carstens se “siel in beroering” gebring het.

Dit het hom genoop om ’n omvattende Bybelstudie te onderneem oor vaderskap, en het die grondslag help lê vir die internasionale beweging The world needs a father. Carstens beskryf ook vaderloosheid as die grootste vraagstuk in die hedendaagse wêreld.

Maar hoe omvangryk is vaderloosheid en ’n tekort aan biologiese pa’s wat fisies, emosioneel en geestelik teenwoordig is, in Suid-Afrika. En wat kan die SA geloofsgemeenskappe doen om’n transformasie te bring by pa’s in die land?

“Virtually ever major social pathology has been linked to fatherlessness,” het Stephen Baskerville, voorheen assosiaat-professor in regeerkunde aan die Patrick Henry-kollege in Virginia, in aansluiting by Carstens oor vaderloosheid gesê.

“Violent crime, drug and alcohol abuse, teen pregnancy, suicide – all correlate more strongly to fatherlessness than to any other single factor.”

Die State of the Father-verslag van 2024 verklaar dat 64,5 % van Suid-Afrika sonder hulle biologiese vaders leef, ’n sorgwekkende syfer omdat kinders uitermate afhanklik is van hulle pa’s se aktiewe omgee en emosionle teenwoordigheid.

“Dit is baie demoraliserend dat mans in Suid-Afrika te kort skiet, selfs om tradisionele rolle wat jy sou assosieer met ’n man en ’n pa soos geldelike voorsiening, te vervul. Selfs wat daardie finansiële versorging betref, raak pa’s al hoe meer agter,” lui die verslag.

Volgens Victor Pike van die nie-regeringsorganisasie Father a Nation wat in Khayelitsha werk om positiewe manlikheid te bevorder, leef kinders in ’n vakuum,’n leegte, sonder ’n pa.

“Our nation is broken because there are no fathers there; we are fatherless,” sê hy.

Dr Llewellyn MacMaster, voormalige moderator van die VGKSA Kaapland, waarsku wel teen growwe veralgemening oor vaderloosheid en swak pa-figure. Hy het etlike dekades as gemeenteleraar van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Bishop Lavis gedien, waar bendes dikwels die afwesigheid van pa’s of pa-figure uitgebuit het om ’n gevoel van behoort aan tienerseuns te bied. “’n Mens moet versigtig wees om te wil aanvoer dat waar pa’s nie teenwoordig is in gesinne nie, bendes voordeel trek. Daar is baie gesinne waar enkel-ma’s wonderlike werk doen, gesinne bymekaar hou en goeie gesagsfigure is,” het MacMaster verduidelik.

 

Vyf huise, een uitdaging

Niel Steyn, predikant, stigter en leier van die Isibindi-gemeenskap, sê die werklikheid wat by Isibindi beleef word, bevestig die kommerwekkende SA statistieke oor vaderloosheid.

“Daar is vyf huise in die Isibindi-gemeenskap waar ons ’n familie probeer wees vir jong mense in nood, in Milnerton, Ysterplaat, Table View, Stellenbosch en die Paarl. Daar is min kinders in hierdie huise wat weet wie hulle pa’s is of kontak met hulle het. Baie van hierdie kinders is weggeneem uit hulle ouerhuise en na kinderhuise en later Isibindi geneem omdat daar baie mishandeling en verwerping deur hulle ouers tuis gebeur het. Van die rebellie wat ons by die jong mense sien, is net ’n hulpkreet na ’n rolmodel of vaderfiguur in hulle lewe. Hulle het ’n diepe verlange na ’n pa en die emosionele geborgenheid en fisiese bystand wat hy bied,” het Steyn gesê.

Dr Braam Hanekom, voormalige direkteur van die NG Kerk se sentrum vir publieke getuienis, sê hy het min twyfel dat die gebrek aan vaderskap aan die kern lê van die meerderheid van die land se sosiaal-maatskaplike probleme.

“Statistieke toon dat 62% van kinders wat gebore word, nie hulle pa se naam op die geboortesertifikaat kan sit nie. Al my blootstelling aan gesprekke oor bendegeweld op die Kaapse vlakte wys direk terug na die gebrek aan vaderskap as ’n kernfaktor,” sê Hanekom.

 

Bendeleiers as surrogaat-pa’s

MacMaster het sy doktorsverhandeling gedoen oor die onderwerp “In search of family, challenge of gangsterisms to faith ministries on the Cape Flats.”

Hy glo gebroke huisgesinne en veral die afwesigheid van pa’s en vaderfigure is ’n vrugbare teelaarde vir bendes wat aan jong tieners as ’t ware ’n surrogaatvaderskap bied.

“Baie van die tieners soek familie – en ’n gevoel van behoort (Engels: sense of belonging) en kry dit in die tradisionele bendes. Hulle aanvaar die bendeleiers se gesag en dissipline ook soos hulle’n pa-figuur s’n sou aanvaar,” sê MacMaster.

Bendeleiers werf deesdae kinders – party van selfs 10 jaar oud – om die werk te doen van ‘hitmen’ of sluipmoordenaars.

’n Paar weke gelede was daar ’n artikel van ’n 14-jarige wat in die hart van die dwelmbedryf en die bendebedryf werk wat gesê het hy het geen ander keuse as om hierdie werk te doen as bendelid en dwelmhandelaar nie. Hy is lankal uit die skool en daar moet kos op die tafel wees.

Die ouma wat na hom moet omsien is weg. Hy moet brood op die tafel sit en die bende het hom “uitgesorteer”, het MacMaster verduidelik.

Die bende speel dus ’n rol in die voorsieningsketting van jong vaderlose seuns.

En wanneer ’n kind by die skool geboelie word en die pa daag nie op om dit op te los nie, reik hy uit na die bendes, wat sy beskerming vorentoe hanteer, maar teen ’n groot prys, volgens MacMaster.

Jare gelede toe die 28’s-bende se leier Colin Stanfield deur die polisie vasgetrek is op grond van belastingontwyking, het ’n vrou hardop gekla daaroor en gesê “wie gaan nou vir ons en ons kinders sorg.”

So die bende word ’n soort pa-figuur wat voorsien in die Kaapse Vlakte waar baie pa’s afwesig is en die werkloosheidskoers hoog is, volgens MacMaster.

 

Presidensiële pyn

Die prediker John Bishop wys in sy boek God distorted daarop dat in Amerika, 90% van alle hawelose en wegloop-kinders uit huise sonder ’n biologiese pa kom. Altesame 80% van verkragters met woede-probleme kom uit huise sonder biologiese vaders.

Vaderloosheid of swak vadersfigure diskrimineer nie op grond van ras, kultuur, klas of stand nie.

Oud-president Ronald Reagan het ’n oomblik uit sy kinderjare onthou waarin hy as 11-jarige sy pa wat ’n akoholis was, van die voorstoep moes insleep na die voorhuis nadat hy hom dronk en met sneeu bedek, gesien het.

Oud-president Bill Clinton het in sy tienerjare sy stiefpa gekonfronteer en hom gewaarsku om nooit weer sy ma te lyf te gaan nie.

Oud-president Gerald Ford se pa het sy kinders fisies te lyf gegaan, aangerand en was wreedaardig.

Hy het ook geweier om onderhoud te betaal nadat Ford se ma hom verlaat het, volgens Bishop.

 

Worteloorsake van die vaderloosheidskrisis

Volgens Hanekom is daar drie redes vir die vaderloosheidskrisis in die land.

Daar het ’n nuwe seksuele moraal oor tyd gegroei wat seksualiteit losgemaak het van die verantwoordelikheid en die verbintenis wat daarmee gepaardgaan in die gesin.

“Tweedens, die kwessie van afwesige vaders hou ook verband met selfbeeldprobleme wat onder vaders gegroei het vanweë die kontekstuele faktore in Suid-Afrika soos die wyse waarop vaders in sekere gemeenskappe as minderwaardig hanteer word.

“In die laaste tyd word wit mans in sekere kringe gedemoniseer. Dit breek ook af aan waardigheid wat weer ’n negatiewe impak het op vaderskap,” het Hanekom bygevoeg.

Voorts is daar ’n verbrokkeling van waardes wat die gesonde verbintenisse met pa’s ondermyn.

“Daar is wel goeie nuus dat daar sekere instansies is, soos die Calling Academy buite Stellenbosch. Dit is waar seuns in minder bevoorregte gemeenskappe geleer en aangemoedig word om die kernboustene van gesonde manlikheid en goeie opvattings oor vaderskap te omarm, het Hanekom bygevoeg.

 

The world needs a father

In sy boek The world needs a father wys Carstens daarop dat vaderloosheid nie ’n probleem is nie, maar die hoofprobleem en dat dit aan die wortel lê van alle sosiaal-maatskaplike probleme in die land.

“Jou kanse om byvoorbeeld arm te wees in Suid-Afrika is vier keer hoër as jy nie ’n biologiese pa het nie. Daar is ’n regstreekse verband tussen die afwesigheid van ’n pa en alkoholisme en daar is ook ’n regstrekse verband tussen misdaad en die afwesigheid van pa’s.

“In die tronk by Malmesbury is bevind 72% van die gevangenes is deur hulle oumas grootgemaak.”

Pa’s wat fisies en emosioneel teenwoordig is, se taak is om heelheid te skep in die lewe van hulle seuns en dogters in al ses dimensies van hulle menslike wese, naamlik geestelik, fisies, emosioneel, sosiaal, intellektueel en in die omgewing, volgens Carstens.

Carstens se internasionale bediening , The world needs a father, is uit pyn gebore.

In 2002 was hy by ’n vlugtelingkamp in Tanzanië waar hy getuienisse gehoor het van ekstreme geweld en trauma wat “my siel in stukke gebreek het”, waarna sy ervaring met Abongile, wat nou sy aangenome dogter is, ’n verdere omwenteling gebring het en hom genoop het om die pillare van vaderskap in die Bybel te vind.

Die pilare is volgens Carstens die vestiging van morele outoriteit, bevestiging van iemand se waarde of “affirmation”, die vorming van identiteit, asook diepe selflose en opofferende omgee of “affection” en aandag.

 

Bybelstudie uit Matteus

Hy het daardie pillare gekry uit sy Bybelstudie oor Matteus 3 vers 17 en Matteus 17 vers 5.

Deur die woorde “dis my seun” gee die Vader aan sy seun identiteit. Deur die woorde “geliefde seun” gee die Vader aan sy seun emosionele sekuriteit. Deur die woorde “oor hom verheug ek my” gee die Vader aan sy seun emosionele bevestiging of “affirmation”. En deur die woorde “luister na hom” gee die Vader aan die seun morele gesag, volgens Carstens.

Volgens die pastorale berader dr Christo de Klerk is Suid-Afrika se vaderskapleemte inderdaad ’n krisis.

“En dit is nie bloot fisiese afwesigheid nie; partykeer het jy pa’s wat fisies daar is, maar nie emosioneel nie en afsydig is of onverskillig,” volgens De Klerk.

“Weens die trekarbeidstelsel (onder Apartheid) was baie geslagte se kinders grootgemaak waar biologiese pa’s afwesig is.

“Die gebrek aan vaderlike rolmodelle lei tot stres, depressie en ’n swak selfbeeld.

“Waar pa’s wel teenwoordig is, behoort hulle met onvoorwaardelike liefde en respek op te tree en diensbaarheid aan hulle kinders te demonstreer,” meen De Klerk.

Party pa’s probeer nog dieselfde styl gebruik as 30 jaar gelede – dis dissipline sonder ’n verhouding. Dertig jaar gelede het die pa’s dikwels bloot gesorg vir die kos, klere en dak en die ma’s vir die verhoudings.

“Maar as jy jou kind net so wil grootmaak as 30 jaar gelede en nie kan onderhandel met tieners nie, is jy in groot moeilikheid,” waarsku De Klerk.

“As hedenaagse pa moet jy jou tiener-seun respekteer vir sy standpunt, omgee vir hom en ruimte vir hom gee om sy standpunte te lig,” voeg hy by.

 

Kerk se rol

“Die kerk moet verstaan dat die bou van die koninkryk van die Here deur dissipelmaking sy belangrikste taak is, beklemtoon Carstens.

“Maar die bou van ’n dissipelskapsbeweging begin binne die huis, nie daarbuite nie. Dit is waarom ons leuse by The World Needs a Father is: We bring heaven home,” sê Carstens.

Dikwels verkondig die kerk egter nie jy moet hemel in jou huis vestig nie, omdat dominees se gesinne volgens Carstens nie hemel op aarde beleef nie. Hulle sal liefs preek oor goed wat nie naby die lyf kom nie.

Dit help nie die kerk verkondig dat die Here alles nuutmaak en dat Hy gekom het dat ons lewe in oorvloed kan beleef, maar daardie nuutheid en oorvloed – ja die hemel self – kom nie tuis nie.

Dit moet in die huisgesinne van die predikant en in die breë kerklike gemeenskap gesien word, het Carstens bygevoeg.

Volgens Steyn kan die kerk ’n rol speel in die transformasie van die vaderskapskrisis deurdat volwasse manslidmate kan besluit om elk een seun te mentor, tyd saam met hom te bestee en waardes soos positiewe manlikheid aan hom oor te dra.

Dit is waar ’n organisasie soos The Character Company byvoorbeeld formeel met jong mans byeenkom en sekere Christelike waardes oor man-wees aan hulle oordra.


Fanie Heyns is ’n vryskutjoernalis.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top