Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Jong dominee se emeritus-gids: Herken jy dié 5 ‘soorte’?

’n Tong-in-die-kies-artikel vir predikante wat eendag gaan emeriteer, wat binnekort die titel emeritus kry, en dié wat reeds daar is.

 

Ek is 38 jaar oud. Wat weet ek nou eintlik van emeritaat?

Eerlikwaar… bitter min.

Net vir my vriende binne en buite die kerk wat nie met dié kerktaal vertroud is nie: wanneer predikante aftree, gaan hulle nie met pensioen nie – hulle emeriteer. Die woord kom van die Latynse emeritus, wat beteken: iemand wat sy of haar diens met eer voltooi het; iemand wat eervol afgetree het.

Ek dien nou al vyf jaar in ‘n gemeente waar ons, as ons regtig wil, waarskynlik ‘n klein sinode net uit emeriti kan saamstel. Die see, die klimaat en die leefstyl het klaarblyklik ‘n besondere aantrekkingskrag op afgetrede predikante.

Omdat ek die voorreg het om gereeld saam met hierdie wonderlike mense te leef en te werk, het ek begin agterkom dat daar – met ‘n glimlag gesê – ‘n paar verskillende “soorte” emeriti is.

My skoonpa emeriteer ook binnekort en verhuis na ‘n kusdorp met net soveel emeriti. Daarom skryf ek hierdie vir hom, vir myself en vir almal wat op pad is na daardie besondere seisoen van die lewe – of reeds daar is.

Hierdie artikel is natuurlik met die tong stewig in die kies geskryf. Maar soos met alle goeie humor, steek daar tog dikwels ‘n stukkie waarheid in.

  1. Die Koninkrykbouer

Elke gemeente bid vir só ‘n emeritus.

Hierdie emeritus verstaan dat die roeping nooit afgetree het nie; slegs die verantwoordelikheid as leraar van ‘n spesifieke gemeente.

Hulle word deel van die plaaslike gemeente. Hulle ondersteun die predikant. Hulle vra nie: “Hoe sou óns dit gedoen het?” nie, maar eerder: “Waar kan ek help? Ek is hier vir julle. Ek bid vir julle.”

Hulle deel hulle wysheid sonder om voor te skryf, maar om van waarde te wees.

Hulle probeer nie weer die stuurwiel vat nie, en nog minder word hulle ’n “backseat driver” in die bediening.

Ek dink dikwels aan ’n goeie emeritus-vriend, wyle ds. Neels van Zyl, wat altyd gesê het: “Onthou, ek is die spaarwiel.”

Hoe mooi is dit nie?

Hulle mentor jonger predikante sonder om hulle na hulle eie beeld te probeer vorm. Hulle dien waar daar behoefte is. En wanneer mense hulle vorige bediening ophemel, glimlag hulle net en sê:

“God doen vandag steeds mooi en nuwe dinge.” Hulle weet ook dat God dikwels met ‘n krom stok ‘n reguit hou slaan – daarom vertrou hulle God om sy kerk deur nuwe leiers en op nuwe maniere te bou.

Sulke emeriti is goud werd.

2. Die Mede-reisiger

Elke jong predikant het só ‘n emeritus nodig – iemand wat ‘n mede-reisiger is, maar nooit jou roete probeer oorneem nie. Hulle stap saam met jou terwyl die reis ontvou en mentor jou deur hulle teenwoordigheid en menswees.

Hierdie emeritus verstaan mentorskap. Hulle skep ‘n veilige ruimte, is beskikbaar en word mense wat jy met vertroue kan nader.

Jong predikante weet: “Hier is iemand by wie ek raad kan vra sonder om veroordeel, beheer of gekorrigeer te voel.” Hulle luister eers, vra wyse vrae en deel hulle ervaring wanneer dit werklik tot voordeel van die ander is.

Na my waarneming bied sulke mentors hulle skouers aan sodat jonger predikante soos ek daarop kan staan en verder kan sien. Hulle gun die volgende geslag om verder te kom as wat hulle self gekom het.

Dít is die nalatenskap van ‘n ware emeritus: nie dat hulle volgelinge om hulle versamel nie, maar dat hulle leiers vermenigvuldig vir die volgende generasie.

  1. Die Historiese Opposisieleier

Dan is daar die emeritus wat wel aftree, maar nooit regtig uit die vergadering – of dalk eerder uit die kryt – tree nie.

Kort voor lank raak hulle krities oor “die kerk vandag”, “die jong dominees”, “die sinode” en “die nuwe manier van dinge doen”.

Dikwels bou hulle weer bande met lidmate uit hulle vorige bediening wat ook in hulle omgewing afgetree het, en kort voor lank ontstaan daar ‘n informele WhatsApp-groep. Dit begin met die beste bedoelings, maar eindig soms as ‘n plek waar nostalgie gevoed word. En ons weet mos: die truspieëltjie is baie kleiner as die voorruit.

Elke nuwe besluit, elke verandering en elke nuwe rigting word gemeet aan hoe dinge twintig jaar gelede gewerk het.

Ongelukkig weet ons almal dat kritiek aansteeklik is.

Voor jy jou oë uitvee, raak lidmate ook moedeloos, sinies en uiteindelik kerklos.

Dis merkwaardig hoe ‘n emeritus steeds ‘n gemeente kan bou … of dit stadig kan afbreek.

  1. Die Welverdiende Rusgenoot

Hierdie emeritus het vrede gemaak.

Hulle woon eredienste by.

Hulle glimlag vriendelik.

Hulle drink koffie.

Hulle bid vir hulle gemeente.

Maar hulle voel nie meer dat hulle oral betrokke hoef te wees nie.

Hulle het hulle deel gedoen. Die innings is verby, dit was goed.

Hulle hoef nie meer elke komitee te dien of elke probleem op te los nie.

En weet jy? Dis heeltemal reg so. Elke seisoen het sy eie roeping. Soms is getroue teenwoordigheid op sigself ‘n kosbare bediening.

  1. Die Selfaangestelde Kwaliteitsbeheerder

En dan kry jy hierdie een.

Hulle stap blykbaar nooit langs die see nie.

Hulle asem nooit die vars seelug in nie.

Hulle ontdek nie nuwe stokperdjies nie.

Hulle koop nie ‘n visstok of – in ons konteks – ‘n “surfboard” nie.

Nee.

Hulle neem notas.

Van preke.

Baie notas.

Hulle hou rekord van elke formulering, elke liturgiese skuif en elke uitspraak.

Teen Maandag lê daar ‘n e-pos in jou inboks.

Soms lang e-posse.

Soms met drie bylaes.

En soms met volledige voorstelle oor hoe die gemeente eintlik bestuur behoort te word – asof die konteks, grootte, kultuur en uitdagings presies dieselfde is as dié waarin hulle jare gelede gedien het.

Dit voel amper asof emeritaat vir hulle beteken hulle skuif bloot van die kansel af na die hoë skeidsregterstoel langs ‘n tennisbaan…

…waar hulle nou die wedstryd van bo af beoordeel.

Die groot uitdaging van emeritaat is om nie toe te laat dat kritiek ‘n nuwe identiteit word wanneer aktiewe bediening eindig nie. Miskien is emeritaat juis die seisoen waarin jou identiteit die duidelikste in Christus kan rus, en jou invloed nie minder word nie, maar anders: stiller, wyser en dieper.

 

‘n Laaste gedagte

Miskien is emeritaat nie die einde van bediening nie. Miskien is dit bloot die begin van ‘n ander manier om jou roeping en dissipelskap uit te leef.

Die beste emeriti wat ek ken, is nie dié wat voortdurend probeer bewys hulle was reg of steeds al die antwoorde het nie. Dis dié wat jonger predikante laat voel:

“Ek is saam met jou. Ek bid vir jou. Ek is beskikbaar as jy my nodig het.”

Hulle verstaan iets wat baie van ons nog moet leer: die kerk het nog nooit aan een generasie behoort nie. Elke geslag ontvang haar vir ‘n kort tyd as rentmeesters, voordat ons haar met vertroue en vreugde aan die volgende geslag oorhandig.

Juis daarom kan emeriti ‘n onskatbare rol speel – as mentors, bemoedigers, wysheidsdraers en voorbidders. Hulle hoef nie die stuurwiel vas te hou om steeds ‘n verskil te maak nie. Hulle grootste invloed lê dikwels nie in beheer nie, maar in begeleiding.

Miskien is dit die mooiste nalatenskap van emeritaat: om ‘n spoor van geloof, wysheid en bemoediging agter te laat wat nog lank ná jou steeds vrug sal dra.

En miskien is dít die grootste preek wat ‘n emeritus ooit sal preek: nie met woorde nie, maar met ‘n lewe van nederige diens, getroue gebed en wyse begeleiding.

Mag daar eendag, wanneer ons eie emeritaat aanbreek, van elkeen van ons gesê word:

“Hulle het hulle diens met eer voltooi. En selfs ná emeritaat het hulle die kerk met wysheid, nederigheid en liefde bly dien.”


* Ds Joe Janse van Rensburg, Gemeenteleier: NG Gemeente Jeffreysbaai. (Oppad na emeritaat)

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “’n Jong dominee se emeritus-gids: Herken jy dié 5 ‘soorte’?”

  1. Frans van Heerden

    Die artikel van Ds Van Rensburg is interessant, dankie daarvoor. Persoonlike groei vind nie in isolasie plaas nie. Ek dink soveel soos wat jong predikante van emeriti kan leer, net soveel kan laasgenoemde van jong ontwikkelende predikante, ook leer. Die leer proses is n lewenstaak wat ons aan onsself verskuldig is!

Comments are closed.

Scroll to Top