Die aantal emeritus-predikante word al meer. In die lys van emeritus-predikante in die 2025-jaarboek van die NG Kerk is die lys 60 bladsye lank. Maar hoe lyk ’n emeritus-dominee? In my kontak met afgetrede dominees lyk dit vir my daar is breedweg drie groepe emeriti.
LEES OOK: ’n Jong dominee se emeritus-gids: Herken jy dié 5 ‘soorte’?
Emeriti wat wil aftree maar hulle kan nie
Daar is dominees wat na ’n bediening van 35-40 jaar bedieningsmoeg is. Die dominee is moeg daarvan om lidmate te besoek. Huisbesoek is uitputtend. Hospitaalbesoek irriteer hom. Die dominee se fut vir preekmaak is uit. Kerkraadsvergaderings lê soos ’n berg voor hom. Die dominee wil aftree. Die dominee is moeg daarvoor om dominee te wees.
Maar, die dominee kan nie aftree nie. Finansieel is dit net nie moontlik nie. Onvoldoende finansiële voorsiening dwing die dominee om so lank as moontlik aan te bly in gemeentes. Daarom swerf die dominee van aflospos na aflospos.
Emeriti wat kan aftree maar hulle wil nie
Dié groep dominees kan finansieel kommervry aftree. Hulle het vroeg reeds in die bediening besef dat ’n sinodale pensioen oor 40 jaar by aftrede onvoldoende gaan wees. Daarom het hulle belê in annuïteite wat ’n goeie aanvulling tot ’n sinodale pensioen bied. Vroeg reeds is die voordeel van ’n pastorie benut om ’n eie eiendom aan te koop wat huurders met die jare vir hulle afbetaal het. Die dominee kan aftree.
Maar, die dominee wil nie aftree nie. Die wêreld van die dominee het vereng na die grootte van die gemeente toe. Die dominee het ’n stewige greep op die bediening, daar word moeite gedoen met prediking en liturgie, besoekwerk word met entoesiasme gedoen. Hy is ’n goeie dominee, geniet goeie gesondheid en is vol energie. Met ’n tikkie trots en ’n skeut vroomheid vertel hy dat hy nog ’n passie vir die bediening het en nie nou kan ophou nie. Daarom word daar met die kerkraad beding vir ’n voortgesette bediening na die amptelike emeritaat in ’n kontrakpos van een, twee of drie jaar. Daar is nie lewe buite die gemeentelike bediening nie en daarom word daarmee volgehou. Identiteitsverlies is dalk ’n faktor. Wie is ek as ek nie meer die dominee van “my gemeente” is nie?
Emeriti wat kan en wil aftree
Dié groep van dominees het vroeg reeds besluit: ek tree af – niks later as ouderdom 65 nie. Daarom is daar vroegtydig gesorg vir voldoende finansiële sekuriteit. Na ’n geseënde en vervulde bediening met sy rykdom aan ervarings in gemeentes, met lidmate, in kerkvergaderings het daar met aftrede ’n einde gekom hieraan.
Dit is die dominees wat weer fisies meer aktief begin raak. Die dominee kan nie meer tennis speel soos 10 jaar gelede nie, maar hy word ’n aktiewe padel-speler. Nadat hy vir lank nie gedraf het nie, kan hy nou weer ’n 10 km in 50 min draf. Sy gholfvoorgee is af van 22 na 15 toe omdat hy nou twee tot drie keer per week die kans het om gholf te speel.
Stokperdjies herleef of word ontdek en daar word gewerskaf aan ’n stoel of tafel wat aan mekaar gesit moet word. Hy leer weer om (nie-teologiese) boeke te lees. Hy geniet ’n goeie fliek. Hy neem skilderklasse. Hy en sy vrou woon musiekkonserte saam by. Hulle reis graag.
Sommige dominees in dié groep word entrepreneurs. Hy verkoop die meubels wat hy maak met sy houtwerkbedrywighede. Hy word ’n eiedomsagent wat eiendomme verkoop. Hy publiseer ’n boek. Hy huur ’n stukkie grond en boer met ’n klompie Bonsmaras. Hy neem ’n kursus en word ’n arbeidskonsultant. Hy doen hierdie dinge nie omdat hy moet nie, hy doen dit sommer net omdat hy kan en ontdek ’n stuk verrryking daarin. Daar is baie lewe na emeritaat.
Kerklik is hy ’n lojale lidmaat wat eredienste bywoon, maar hy is nie meer kerkraadslid nie. Hy neem eredienste waar indien hy uitgenooi word om dit te doen maar neem nie deel aan die wedywering tussen afgetrede kollegas wat graag vertel oor hoeveel Sondae hulle verlede jaar op ’n kansel gestaan het nie. Hy bied Bybelstudies aan en is ook betrokke by kort kursusse en Bybelskole waar sy kundigheid waardeer word. Hy is nie krities oor die mees onlangse sinodebesluite nie of wat hy beleef as nuwe tendense in die kerk nie en probeer nie van sy gemeentedominee ’n beter dominee maak nie.
Miskien herken emeritus-leraars hulle in een van die groepe. Miskien herken die eggenote van emeritus-leraars hulle eggenote in een van die groepe. Miskien herken lidmate die emeritus-leraars in hulle gemeente in een van die groepe. Kom ons kyk met deernis en begrip na emeritus-leraars. Immers, elkeen van ons dra iets in ons rond waarvan ander mense niks weet nie. Wees daarom empaties met almal.
Prof Fanie Snyman is emeritus-professor en navorsingsgenoot by die Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van die Vrystaat.
