Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Publieke getuienis | Anton Knoetze: Die kerk is ’n stad wat op ’n berg is

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Die diepgaande institusionele krisis wat deur die Madlanga-kommissie blootgelê word, bring spesifieke praktiese en morele uitdagings vir Christene en die kerk, skryf Anton Knoetze.

 

Die Madlanga-ondersoekkommissie is in die lewe geroep ná skokkende bewerings dat georganiseerde misdaadsindikate, dwelmkartelle en politieke inmenging die land se wetstoepassing geïnfiltreer het. Die gereelde onthullings wat hieruit na vore gekom het oor die optrede van senior figure in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gee rede tot ernstige kommer. Senior figure wat reeds geskors is of vrywillig met verlof gegaan het, sluit in: die Minister van Polisie, Senzo Mchunu, generaal Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, luitenant-generaal Shadrack Sibiya, die adjunk-nasionale polisiekommissaris en Julius Mkhwanazi, die adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolitaanse polisiedepartement.

Die persepsie by die publiek het vererger toe die hoof van die NVG, Shamila Batohi, skielik besluit het om nie voort te gaan om getuienis te lewer nie en die gebeure rondom Andrea Johnson (hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie). Te midde van hierdie krisis, was die beste wat gedoen kon word om twee persone in “waarnemende” poste aan te stel. Andy Mothibi en professor Firoz Cachalia. Die president is egter self onder die soeklig en daarom is niemand verbaas dat daar nie met groter daadkrag opgetree word nie.

Die Suid-Afrikaanse publiek verdien veel beter. Elke Suid-Afrikaner betaal belasting in een of ander vorm en is geregtig op ’n strafregstelsel wat doeltreffend, effektief is, en resultate lewer. Vir baie jare reeds geld die opvatting dat sekere individue in senior poste aangestel is, wat nie geskik was om daardie ampte te beklee nie. Die verantwoordelikheid hiervoor moet voor die regerende party gelê word. Opposisiepartye en die media sal egter ook hulle verantwoordelikheid moet erken, want die onaanvaarbare situasie is toegelaat. In Afrika is die staat dikwels die enigste ware meganisme om rykdom te genereer. Om ryk te word, moet jy toegang tot staatskontrakte hê. Verder word ’n politieke leier ook dikwels gesien as ’n beskermer wat sy eie faksie moet versorg. Mag word dan die sleutel tot hulpbronne, en hulpbronne is die sleutel om aan bewind te bly. Soos gesien in die getuienis voor die Madlanga-kommissie, wanneer die NVG, die polisie en die regstelsel gekaap of verswak is, is daar geen afskrikmiddel nie. Diegene wat die reëls oortree, word ryk en magtig, terwyl diegene wat eerlik bly, agtergelaat word.

 

Die vraag is, kan dit anders in Afrika?

Botswana en Mauritius is twee bekende suksesverhale in Afrika. Albei lande het bewys dat die siklus van korrupsie en magsbeheptheid wel verbreek kan word. Hulle het van die wêreld se armste state na stabiele, hoë-middel-inkomste-ekonomieë getransformeer. Hierdie sukses het nie vanself gekom nie, spesifieke, doelbewuste beleidskeuses is gemaak.

  1. Toe Botswana in 1966 onafhanklik geword het, was dit die derde armste land ter wêreld met slegs 12 kilometer se geteerde paaie. Kort daarna is massiewe diamantvelde ontdek. In plaas daarvan dat die elite die rykdom geplunder het, het hulle dit as ’n nasionale bate bestuur. Die Pula Fund is gestig – dit is ’n soewereine welvaartfonds waar diamantinkomste vir die toekoms en vir nasionale infrastruktuur (skole, hospitale, paaie) belê is.
  2. Die regering het ’n 50/50-vennootskap (Debswana) met die diamantreus De Beers aangegaan. Tot 80% van diamantinkomste vloei deur belasting en gee dividende direk terug na die staat. Dit het verseker dat “kitsgeld” omskep is in langtermyn nasionale ontwikkeling.
  3. Botswana het die tradisionele stelsel van die “kgotla” (gemeenskapsvergaderings waar leiers deur die volk gekritiseer en raad gegee kan word) behou. Hierdie ingeboude kultuur van openbare aanspreeklikheid het verhoed dat leiers absolute, onaantasbare diktators word.
  4. Toe Mauritius in 1968 onafhanklikheid verkry het, was die verwagting dat hulle uiterste oorbevolking en totale afhanklikheid van suiker die land sou laat ineenstort. Dit was egter ’n suksesverhaal, want die regering het besef dat suiker nie genoeg is nie. Daar is doelgerig oorgeskakel na tekstielvervaardiging, toerisme en later finansiële en tegnologiedienste.
  5. Mauritius het ’n hoogs diverse bevolking (Hindoes, Moslems, Kreole en Franko-Mauritiërs) en daar is besluit om te belê in onderwys en gesondheidsorg. ’n Hoogs geletterde bevolking is minder vatbaar vir die leë beloftes van korrupte politici wat stemme met kospakkies probeer koop.

 

Uitdaging vir die kerk

Die diepgaande institusionele krisis wat deur die Madlanga-kommissie blootgelê is, bring spesifieke praktiese en morele uitdagings vir Christene en die kerk.

Hier is die belangrikste implikasies vir Christene in Suid-Afrika:

1      Die kerk is die “lig vir die wêreld” (Matteus 5:14). Dit beteken dat lidmate eerstens self in daardie lig moet lewe. Christene word opgeroep om volgelingskap en absolute integriteit te modelleer. Baie van Suid-Afrika se maatskaplike probleme (soos misdaad en geslagsgebaseerde geweld) spruit uit gebroke gesinne en die afwesigheid van vaders. Die kerk moet die lig wees wat genesing in huise bring. Daar moet gewaak word teen amptelike besluite wat in pas is met ’n humanistiese ingesteldheid.

2      In tye van groot historiese herlewings (revivals) het die beginsel van ’n “stad op ’n berg” verander in ’n tasbare, sigbare realiteit wat hele gemeenskappe en lande getransformeer het. Christene se lewenswandel was so radikaal dat die samelewing nie anders kon as om dit op te merk nie. Tydens die Walliese Herlewing (1904-1905) was die verandering in die samelewing so groot dat dit die hele openbare lewe geraak het. Calvyn het geglo dat die kerk se rykdom ten bate van die armes aangewend behoort te word. Hy het die diakonaat (die amp van diakens) in die kerk herstel om ’n aktiewe rol in die samelewing te speel.

3      Wat vandag in “Suid-Afrika” gebeur, dwing die kerk om ons profetiese stem duideliker te laat hoor, (Amos 5:24: “Laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom, laat dit aanrol soos watergolwe, soos ’n standhoudende stroom …”). Daar is ’n dringende behoefte aan kanale en morele leierskap om die regering, wetstoepassers en kerklike instansies sonder vrees of guns tot verantwoording te roep. Dit is nie genoeg om kerklike vergaderings in isolasie te hou nie.

4      Voor Christene kritiek lewer, word hulle beveel om vir hulle leiers te bid (1 Timoteus 2:1-2). Die hoogste gesag is nie die grondwet van die land of die wil van die mense nie maar die Skrif. Christene is draers van hoop en dit beteken om aktief te weier om te glo dat korrupsie die “nuwe normaal” is.

5      Daar moet gewaak word dat die korrupsie en magsbeheptheid wat strukture soos die NVG en SAPD vernietig, nie ook binne kerkstrukture floreer nie.


Dr Anton Knoetze is emeritus-predikant van die NG Kerk.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Publieke getuienis | Anton Knoetze: Die kerk is ’n stad wat op ’n berg is”

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top