Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Riaan de Villiers is ’n leraar by Groote Kerk in Kaapstad. Hy was een van die deelnemers by vanjaar se skryfslypskool (28-30 Julie) onder leiding van Kerkbode en die NG Kerk se Taakspan Navorsing. Hierdie skrywe is deel van 'n reeks wat insigte uit die jongste navorsing ontgin.

Wat Kerkspieël nie kan meet nie

Die jongste Kerkspieëldata van 2026 is nóg ’n stel statistiek waarmee ons gekonfronteer word en sou waarskynlik baie vrae kon ontlok, en interpretasies kon oplewer, oor die rigting waarheen die NG Kerk in Suid Afrika neig.

Die jongste Kerkspieël-data bied ’n blik op hoeveel gemeentes – uit die 646 wat die vraelys voltooi het – betrokke is by spesifieke maatskaplike en sosiale uitdagings in hulle gemeenskap.

Ons word daagliks gebombardeer met kommerwekkende statistiek in ons land wat dikwels ons persepsie van ’n toename in die verval en agteruitgang van ons samelewing versterk. Of dit nou die vreesaanjaende misdaadstatistiek is, òf die onrusbarende werkloosheidsyfer, òf die groeiende getal haweloses – dit is meer as genoeg om ons paniekbevange en hopeloos te laat.

Die interpretasie van statistiek word sekerlik ook bepaal deur die vrae wat jy aan daardie data stel. Wat is die storie wat ’n kerk se statistiek behoort te vertel, te midde van die oorweldigende negatiewe statistiek, binne die samelewing waarin daardie kerk geroep word om ’n lewegewende en hoopvolle teenwoordigheid te hê?

 

LEES OOK: Kerkspieël 2026 onthul die stippellyne wat gemeentes sélf moet trek

 

Hoe meet ons sukses in die kerk? Hoe meet ons getrouheid aan die evangelie? Wat bepaal of ’n kerk groei of sterf? Is dit die maklike kwantifiseerbare getalle – soos finansies, hoeveelheid mense, grootte van geboue? Wat sou die statistieke ons vertel van ’n kerk wat die swaarkry en lyding van gewone mense sien? Agter die statistieke en syfers is daar mense en stories – een só ’n verhaal is dié van Margaretha Moller.

Margaretha is ’n lidmaat van ’n stadsgemeente. Sy het nie statistiek nodig om haar te oortuig dat daar ’n sosiaal-maatskaplike krisis in haar gemeenskap ontvou nie. Sy sien dit elke dag op die voorstoep van haar huis en haar kerk. Elke Sondagoggend op pad kerk toe sien sy hulle daar op die hoek skuins oorkant die kerk sit. Hulle is kinders wat in die koue nagte in ’n nabygeleë veld slaap en daagliks in die strate bedel vir iets om te eet. Die groep het ook al gegroei van daardie eerste keer toe sy hulle iets aangebied het om te eet en hulle haar vertel het dat hulle ouers nie meer lewe nie.

Haar selgroep kom weekliks bymekaar en bid saam oor die toenemende nood wat so opsigtelik is in hulle stad. Hulle word geïnspireer deur die prediking en gesindheid van hulle leraar met sy evangeliese hart vir die weerloostes. Hulle glo ook dat hulle geroep word om nie net vir die lot van die kinders te bid nie, maar voel ook al hoe meer hoe hulle beweeg word om iets daaraan te doen. Hulle noem hulleself die Bid-en-Werkgroep – miskien nie die kreatiefste naam nie, maar dit verwoord hulle oortuigings en beweegrede.

’n Ekumeniese vrouegroep met lidmate vanuit ’n Gereformeerde en Lutherse agtergrond – verskeie kerklike agtergronde maar een fokus – is saam in diens van die koninkryk van God en byeengebring deur gebed en gerig op naasteliefde en diens. Margaretha en haar selgroep voel dikwels oorweldig deur die groeiende statistiek van nood waardeur hulle omring word en wonder of hulle pogings werklik ’n volhoubare verskil kan maak.

Die 2026-gemeente-opname (Kerkspieël) is pas voltooi en tweederdes van al die gemeentes in die NG Kerk het daaraan deelgeneem. Hierdie opname word sedert 1981 elke vier jaar voltooi en gee veral ’n prentjie van wat met gemeentes in die kerk gebeur; hoe hulle as geloofsgemeenskappe leef en hoe die bediening oor tyd verander het.

Kerkspieël se data dui daarop dat daar toenemend in elke uithoek van Suid-Afrika gemeentes is met verhale soos dié van Margaretha en haar Bid-en-Werkgroep. Gemeentes vir wie dit nie net ’n lang lys van sosiaal-maatskaplike uitdagings is nie – bejaardes, armoede, krissise waarin kinders en gesinne hulleself bevind, middelafhanklikheid, werkloosheid, geweld, misdaad, die effek van rassisme en seksisme, gesondheidskrisis – maar mense met gesigte en name wat omarm en liefgehê moet word.

Hierdie is nie bloot maar nog ’n ekstra stel statistiek te midde van lidmaatgetalle, finansies en administrasie nie, maar ’n hoopvolle getuienis oor ’n kerk wat beweeg word deur die swaarkry en lyding binne hulle konteks. ’n Kerk wat raaksien wat Jesus raakgesien het toe hy die menigtes se moegheid en hulpeloosheid raakgesien het, hulle innig jammer gekry het en sy dissipels opdrag gegee het om te bid en werk vir God se koninkryk. Dit is ook vanuit hierdie empatie met die worsteling van die mense dat hy sy dissipels stuur om die evangelie te leef en hulle te beywer vir genesing – en steeds vandag sy kerk roep om te onthou waarom hulle bestaan.

Margaretha Moller se verhaal is nie nuut nie, trouens, dit is ’n baie ou verhaal. Margaretha se geloof het haar uiteindelik laat droom om ’n weeshuis te bou vir die kinders op die strate van Kaapstad en hiervoor het sy haar tyd en hulpbronne bewillig. Sy sterf egter kort voordat die Orphan House in 1815 open en sy haar droom kon sien verwesenlik. Haar geliefde leraar, ds Helperus Ritzema van Lier, sterf nog vroeër op die ouderdom van 27 in 1793.

Vandag meer as 200 jaar later staan die Suid-Afrikaanse Kinderhuis steeds in Kaapstad as ’n veilige hawe en plek van genesing vir kinders wat die slagoffers is van die tragiese statistiek in ons land. Die oudste liefdadigheidsorganisasie in Suid-Afrika word na twee eeue steeds, volgens Margaretha se wense, ekumenies bestuur deur die NG Kerk Kaapstad en die Strandstraat Lutherse kerk.

Ons tradisionele maatstawwe vir sukses soos lidmaatgetalle, finansies en eiendomme kan nie hierdie soort impak sien of meet nie. Margaretha Moller se gemeente het nie geweet dat hulle besig was om iets bou wat oor meer as 200 jaar nog sal staan nie. Hulle het net gesien wat die nood voor hulle was en opgetree.

Jesus het nog ’n gelykenis aan hulle voorgehou: “Die koninkryk van die hemele is soos ’n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar wanneer dit gegroei het, is dit die grootste van al die tuinplante en word dit ’n boom, sodat die voëls van die hemel in sy takke kom nesmaak” – Matteus 13:31-32.

Miskien is die vraag wat elke kerkraad, elke bedieningsgroep, elke lidmaat wat voel dat hulle “net ’n klein bydrae maak” moet vra: nie “hoeveel het ons vermeerder nie?”, maar “watter saad saai ons wat ons nie kan sien groei nie?”

Dit is dalk presies waar die volgende Margaretha haar werk begin.


Ds Riaan de Villiers is ’n leraar by Groote Kerk in Kaapstad.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top