Voltydse predikante het in die verlede ’n groot rol in die bediening van die gemeente gespeel. Maar die situasie is besig om wesenlik te verander en dit stel nuwe eise aan gemeentes, skryf Kobus Schoeman op grond van omvattende nuwe navorsing oor die gemeentes van die NG Kerk.
Dit is nie so maklik en eenvoudig om ’n gemeente te beskryf nie. Daar is heelwat artikels en bepalings wat die roeping en taak van ander kerklike vergaderings (byvoorbeeld die ring en sinode) gee, maar ’n helder omskrywing van ’n gemeente ontbreek. Dr Dewyk Ungerer, aktuarius van die Algemene Sinode, het by navraag daarop gewys dat die kerkorde inderdaad nie ’n duidelike omskrywing van ’n gemeente gee nie.
Gemeentes werk dus meer met stippellyne om hulle koers en rigting te ontdek. Die opdrag om lief te hê en om die evangelie te verkondig gee ’n duidelike raamwerk, maar hoe gebeur dit vandag waar twee of drie in sy Naam as ’n geloofsgemeenskap vergader? Daar is spasies tussen die stippellyne wat gemeentes self moet verbind.
’n Empiriese opname kan help om die lig te laat val op die spasies tussen die lyne en hoe dit gevul word. Die 2026-gemeente-opname (Kerkspieël) is pas voltooi en tweederdes van al die gemeentes in die NG Kerk het daaraan deelgeneem. Hierdie opname word sedert 1981 elke vier jaar voltooi en gee veral ’n prentjie van wat met gemeentes in die kerk gebeur; hoe hulle as geloofsgemeenskappe leef en hoe die bediening oor tyd verander het.
Al die bevindinge van die 2026-opname kan nie hier bespreek word nie, maar ’n paar lyne kan wel getrek word om van die veranderinge en verskuiwings uit te wys. Voltydse predikante het in die verlede ’n groot rol in die bediening van die gemeente gespeel. Die situasie is besig om wesenlik te verander, want 31% van die gemeentes beskik nie meer oor die dienste van ’n voltydse predikant nie, terwyl ongeveer 10% van die gemeentes nie meer ’n predikant (voltyds of deeltyds) het wat Sondag ’n erediens kan lei nie. ’n Gemeente is meer as net die werkopdrag van ’n voltydse predikant of Sondag se erediens.
Gemeentes wat sukkel om by veranderende omstandighede aan te pas, bly gewoonlik by die bekende en wat in die verlede gewerk het. Instandhouding word ’n uitweg vir 53% van die gemeentes wat sukkel om te oorleef en hulle is daarom besig met ’n bediening wat op instandhouding fokus. Hierdie gemeentes skuif hulle aandag na binne en nie na die groter gemeenskap waarbinne die gemeente geleë is nie. Ongeveer ’n derde van die gemeentes se ouderdom en kultuur weerspieël nie die demografie van die gemeenskap rondom hulle nie. Die 2026-opname het bevind dat individuele lidmate meer as gemeentes in die gemeenskap betrokke is. Die gevaar is dat so ’n gemeente ’n eiland binne haar breër gemeenskap word.

Op watter wyse kyk die gemeente na die mense en gemeenskap rondom hulle? Die opname van 2018 en 2022 het daarop gewys dat die pandemie gemeenskapsprobleme na die voorgrond verskuif het. Die volgende is ’n paar merkers wat die 2026-opname uitwys:
- Net meer as ’n derde van die gemeentes het ’n georganiseerde evangelisasiebediening, terwyl meer as 60% van die gemeentes nie so ’n bediening het nie. Die verkondiging van die evangelie is ’n sentrale opdrag aan elke gemeente.
- Armoede is waarskynlik een van die grootste knelpunte wat daagliks gemeentes uitdaag, en 52% van die gemeentes het aangedui dat hulle altyd by armoede as sosiale probleem betrokke is. Daarteenoor gee slegs 19% van die gemeentes aan werkloosheid aandag. ’n Kospakkie kan nie die enigste antwoord wees nie.
- Geweld, misdaad en korrupsie is meer komplekse en uitdagende sosiale kwessies en net 13% van die gemeentes gee altyd hieraan aandag. Dit is waarskynlik ook ’n vraag na die profetiese roeping van die gemeente wat meer aandag verdien.
Lidmate lewer as individue ’n wesenlike bydrae in elke gemeenskap, maar gemeentes kan hulle verantwoordelikheid en roeping teenoor die gemeenskap nie ontduik nie.
Die kerkorde kan help om duideliker stippellyne vir die gemeente te trek. Dit bly die verantwoordelikheid van elke gemeente en haar leierskap om konkreet daagliks op ’n unieke wyse die stippellyne te verbind.
Prof Kobus Schoeman is lid van die NG Kerk se Taakspan Navorsing en verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.
