Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Johan Botes is ’n leraar by NG Kerk Hermanus. Hy was een van die deelnemers by vanjaar se skryfslypskool (28-30 Julie) onder leiding van Kerkbode en die NG Kerk se Taakspan Navorsing. Hierdie skrywe is deel van 'n reeks wat insigte uit die jongste navorsing ontgin.

Kerknavorsing oor ruimtes vir konneksie: Cheers, Bybel-en-Bier … Hello Koffiekroeg?

Baie van ons het grootgeword in ’n era van ’n “koffiekroeg-jeugbediening” wat die jeug weg gehou het van die gevare van die straat of die kroeg. Vandag moet ons daardie idee herbesoek – met ’n nuwe ingesteldheid, skryf Johan Botes.

 

Die kerk en die kroeg het nog altyd ’n ingewikkelde verhouding gehad. Die kerk sou waarsku teen die gevare van die kroeg, maar in die kroeg instrumente en melodieë gaan haal vir haar nuwe gereformeerde musiek. Sommige gemeentes het al kerk gehou in die kroeg (à la Bybel-en-bier) terwyl mense wat nie meer in die kroeg kan kom nie weeklikse vergaderings bywoon in die kerk (à la AA). Die kerk en die kroeg is beide plekke wat ruimtes wil skep waar verhoudings kan vorm en ervarings gedeel kan word. En vandag vra die kerk en die kroeg dieselfde vraag: Waar is die jongmense?

LEES OOK: Kerkspieël 2026 onthul die stippellyne wat gemeentes sélf moet trek

Die mees onlangse Kerkspieël-navorsing bevestig wat baie gemeentes reeds beleef: Die gemiddelde lidmaat van die NG Kerk word ouer. Wat egter ook waar is, is dat die mediaanouderdom van die gemiddelde burger van byna elke land in die wêreld ook verouder. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Verenigde Nasies is bevolkingsveroudering een van die grootste demografiese verskuiwings van ons tyd. Mense leef langer, terwyl geboortesyfers wêreldwyd daal. Die voorspelling is dat teen 2030 een uit elke ses mense op aarde ouer as sestig sal wees. Dit is nie vreemd dat die gemiddelde kerk- en kroegbesoeker verouder nie, maar waar is die ander vyf wat oor vier jaar nog nie ouer as 60 is nie?

Dalk is dit vir die kerk goeie nuus om te weet dat hulle ook nie in die kroeg is nie. Internasionale navorsing wys dat jonger generasies minder alkohol gebruik as hulle ouers op dieselfde ouderdom, minder kuierplekke besoek en vroeër huis toe gaan. Jonger mense kuier anders, ontmoet op ander maniere en vorm verhoudings anders as ouer generasies. Inisiatiewe en innoverende pogings om jonger mense te bereik deur kerk te hou in die kroeg baat dalk nie meer die kerk óf kroeg nie.

Die 2026-gemeente-opname (Kerkspieël) is pas voltooi en tweederdes van al die gemeentes in die NG Kerk het daaraan deelgeneem. Hierdie opname word sedert 1981 elke vier jaar voltooi en gee veral ’n prentjie van wat met gemeentes in die kerk gebeur; hoe hulle as geloofsgemeenskappe leef en hoe die bediening oor tyd verander het.

Navorsing oor jonger generasies herinner ons dat hulle steeds smag na egtheid, aanvaarding en betekenis. Wat verander het, is nie noodwendig die behoefte aan gemeenskap nie, maar die plekke waar daardie gemeenskap gevorm word. Dit wil lyk asof die navorsing wys dat die jongste van die vyf wat in 2030 onder sestig jaar oud gaan wees, waarskynlik nie meer tuis gaan kom in die tradisionele kerk óf kroeg nie.

Plaaslike jeug- en marknavorsing (soos studies deur KLA en Digitas SA) skets ’n boeiende prentjie van hoe jonger generasies hulle eie “derde ruimtes” skep. In ’n Suid-Afrikaanse konteks waar fisiese veiligheid ’n groot rol speel, beweeg jongmense weg van ’n tradisionele, alkoholgesentreerde kuierkultuur. Hulle sober-en-veilig-revolusie vind plaas in ’n kombinasie van digitale wêrelde en veilige, lae-druk fisiese ontmoetingsplekke soos koffiewinkels, winkelsentrums en huise.

Hierdie navorsing stel dalk voor dat jonger generasies nie op soek is na ons nuwe innoverende programme of eksperimente nie. Hulle stel ervarings bo besittings en waardeer geestesgesondheid, egtheid en deursigtigheid. Hulle soek ruimtes waar die drumpel laag is, waar hulle hulle eerlike en soms ingewikkelde vrae oor die lewe en geloof kan vra, en waar hulle bloot net kan tuiskom.

Data oor NG gemeentes wys ’n opwindende werklikheid wat ons gerus kan vier: Geloofsvorming is besig om terug te skuif na die mees natuurlike en veiligste ruimtes vir jonger generasies – die huis. Vir dekades lank het gemeentes probeer om geloofsvorming die verantwoordelikheid van professionele jeugwerkers te maak met indrukwekkende programme of gesteun op goeie kurrikulums in kategeseklaskamers. Maar die data van NG gemeentes wys ’n heel ander, hoopvolle prentjie. Vir die laaste paar jaar is meer as die helfte van ons ouers “altyd” of “gereeld” aktief betrokke by die leiding en organisering van jeugbediening. Wat meer is: Gemeentes dui aan dat geloofsvorming buite die kategese die heel sterkste bevorder word in huise en gesinne.

In ’n era waar Generasie Alpha en ander jonger generasies smag na veilige, lae-druk ruimtes en diepe verhoudingsvertroue, is hierdie verskuiwing na die gesin nie ’n krisis nie – dit is ’n oorwinning. Jongmense soek nie meer helder ligte, orkeste of ’n kunsmatige rookmasjien nie. Hulle soek die eerlikheid van ’n kombuistafel, ’n sitkamer en ouers wat eerlik saam met hulle deur die lewe kan reis.

Die onlangse Kerkspieël-data bring ook ’n bevrydende boodskap vir gemeentes wat mag dink hulle “misluk” omdat hulle nie spoggerige jeugprogramme kan bekostig nie. Die statistiek toon dat tussen 80% en 90% van NG gemeentes géén voltydse of deeltydse jeugwerker het nie. Die verantwoordelikheid rus reeds hoofsaaklik by predikante en die meer as 50% groeiende groep ouers wat betrokke is by gemeentes se jeugbediening.

Na aanleiding van die navorsing, veral oor Generasie Alpha, wil dit lyk of die bediening aan jonger generasies nie meer vra dat ons jongmense uit hulle leefwêreld na ons strukture lok nie, maar dat ons die ouers en gesinne wat reeds daar is, omhels en versterk.

Hoewel daar baie tekens van hoop is wat die NG Kerk kan vier en op voortbou, is daar uitdagings. Hoewel gemeentes wat nooit oor huisgeloof preek al hoe kleiner word (minder as 5%), bied ’n toenemende groep gemeentes nooit kursusse vir ouerleiding aan nie terwyl meer as 70% darem oefening vir huisgeloof gee om die uitleef van geloof by die huis te bevorder. Die geleentheid wat voor die kerk lê, is om ons energie te skuif vanaf die bou van groot programme na die toerusting van die ouers wat reeds bereid is om die pad te stap.

Dink terug aan die “koffiekroeg-jeugbediening” van weleer. Vandag moet ons daardie idee herbesoek met ’n nuwe ingesteldheid. Die goeie nuus is dat ons nie meer soos die kroeg hoef te probeer wees nie, nie ons geld op die orkes, ligte en klank hoef te spandeer of ’n jong dinamiese jeugwerker hoef aan te stel nie. Ons kan dalk net die ketel tuis aansit, die ouers ondersteun, luister sonder oordeel of voorgee en selfs dalk vroeër huis toe gaan.

 

Ds Johan Botes is ’n leraar by NG Kerk Hermanus.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top