Hoe vorm ’n geloofsgemeenskap jongmense in ’n wêreld wat vra na ekumene en ‘n sensitiwiteit vir ons unieke Afrikakonteks? vra Janke Hurter.
As jy hoor dat daar van 2022 tot 2026 ’n groei was in die wyse waarop die NG Kerk oor die algemeen haar kategesetyd bestee het om kennis oor die Bybel en geloof onder laer- en hoërskoolkinders te verhoog, sou jy nie ook wakker gelê het nie?
Die Kerkspieëldata, wat deur Taakspan Navorsing ingesamel is, toon ’n positiewe groei in die wyse waarop die NG Kerk oor die algemeen haar kategesetyd bestee het ten opsigte van laer- en hoërskoolkinders. Dit is naamlik ’n verhoging van kennis oor die Bybel en geloof, die inoefening van geloofsvormende gewoontes, gesprekke oor aktuele lewensvrae vanuit ’n geloofsperspektief, die skep van ’n gevoel van behoort, die aktivering van jongmense om ’n verskil te maak, en die skep van geleenthede waar jongmense kan dien.

Tog wil dit voorkom asof ’n ekumeniese en kontekstuele aanvoeling in die NG Kerk se verstaan van geloofsvorming ontbreek.
Wanneer ’n mens deur die Kerkspieëldata werk, kan ’n mens nie help om te wonder oor die volgende vrae nie: Kan die belydenisskrifte onder die katogorie “kennis oor die Bybel en geloof” ingelees word? Moet die gewoontes wat ingeoefen word vir geloofsvorming, as liturgiese geloofsgewoontes verstaan word, of gaan dit hoofsaaklik hier oor persoonlike geloofsdissiplines? Verwys die “skep van ’n gevoel van behoort” ook na jongmense se deelname aan teologiese gesprekke waarin gemeentes saam reflekteer oor geloof en die vorming daarvan?
Hoewel ’n mens die gevolgtrekking sou kon maak dat die NG Kerk droom van jongmense met ’n dinamiese en gebalanseerde verstaan van gemeentelewe en geloof, bly die vraag of die NG Kerk dalk meer besig is om jongmense vir die kerk te vorm as om hulle vir die wêreld te vorm. ’n Wêreld wat vra na ekumene en ’n sensitiwiteit vir ons unieke Afrikakonteks.
Ek dink die Kerkspieëldata is belangrik aangesien dit ’n groei in elk van die onderskeie kategorieë in die NG Kerk reflekteer en dat daar ’n dinamiese verstaan van geloofsvorming in die kerk aan die ontwikkel is wat verder versterk en uitgebrei kan word. Tog maak dit my bekommerd dat hierdie die vrae is wat ons belangrik ag om te vra soos ons as NG Kerk verder oor geloofsvorming nadink. Veral as kerk wat binne ’n Suid-Afrikaanse konteks leef. Moet ons nie dalk meer genuanseerd oor geloofsvorming begin praat nie?
Iets wat ek mis in die data – en veral in die vrae wat rondom geloofsvorming in die NG Kerk gestel is – is die ontwikkeling van ’n ekumeniese aanvoeling by jongmense binne die NG Kerk, sowel as ’n groter sensitiwiteit vir die multikulturele konteks waarin ons leef. Ek wil daarom die gesprek oor geloofsvorming verder uitbrei deur die NG Kerk uit te daag om, onder andere, jongmense se sensitiwiteit en bewussyn teenoor ander denominasies en gemeentes, asook teenoor die multikulturele konteks waarin ons leef, doelbewus te help ontwikkel en te laat ontwaak.
Ek vermoed die rede vir die gebrek aan ’n ekumeniese lens het te make met die NG Kerk se klem op die Woord, die intellektuele en die rasionele. Kopkennis is alles – of so wil dit voorkom. Ek vermoed ook dat die afsydigheid teenoor die konteks grotendeels te make het met ’n stryd om oorlewing; dat hierdie stryd die vertrekpunt vorm waarvandaan ons beweeg wanneer ons in die NG Kerk oor geloofsvorming begin nadink.
Ek staan dankbaar teenoor die data en die gesprek wat dit open. Ek sien die data as ’n inleiding tot ’n belangrike gesprek oor geloofsvorming wat noodsaaklik is indien die NG Kerk in die toekoms sinvol oor geloofsvorming wil praat.
Ds Janke Hurter is jeugleraar by NG Berg-en-Dal in Bloemfontein.
