Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Een van die praktyke wat wêreldwyd met Pat Keifert (regs) se werk verbind word, is 'Wandel in die Woord'. In ons konteks dikwels bekend as ’n luisterende omgang met die Woord. Dit het iets kernagtig van Pat se teologie beliggaam: die kerk se roeping begin nie by ons planne en strategieë nie, maar by luister – na God, na die Skrif, na mekaar en na die mense en gemeenskappe waarheen God ons stuur. Foto: Verskaf.

Huldeblyk aan Patrick R Keifert: ’n Teoloog wat die kerk geleer het om te luister

Pat Keifert se nalatenskap leef voort in gemeentes wat begin vra het, “Waar is God reeds aan die werk – en hoe word ons genooi om daarby aan te sluit?” skryf Frederick Marais en Nelus Niemandt.

 

Met die afsterwe van prof. Patrick R. Keifert op 6 Augustus 2026 het die wêreldwye kerk een van die belangrikste denkers oor missionale kerkwees en gemeentelike vernuwing van die afgelope dekades verloor. 

Vir baie van ons in Suid-Afrika was Pat egter veel meer as ’n invloedryke Amerikaanse teoloog. Hy was ’n vriend van die kerk in Suid-Afrika, ’n reisgenoot, mentor en leermeester wat ’n diep en blywende invloed op die NG Kerk en ander kerke uitgeoefen het. Byna daagliks sal jy in gesprekke onder leiers hoor dat iemand vertel van wat ons by Pat geleer het.

Pat was vir baie jare professor in Sistematiese Teologie aan Luther Seminary in St Paul, Minnesota, en later emeritusprofessor. Hy was ook die dryfkrag agter Church Innovations Institute. Deur sy vriendskap met Coenie Burger het hy ’n sabbatsverlof in Stellenbosch deurgebring en so het sy verbintenis met Suid-Afrika begin wat vir byna twee dekades sou voortduur. Sy besondere gawe was om goeie teologie en die konkrete lewe van gemeentes bymekaar te bring. Een vraag het telkens in sy werk teruggekeer: Wat is God besig om te doen, en hoe kan die kerk leer om dit te onderskei en daaraan deel te neem?

Vir ons persoonlik is hierdie verlies besonder groot. Van al die mense met wie ons oor baie jare kon saamwerk, was Pat waarskynlik die enkele persoon wat ons teologie én ons verstaan van gemeentelike praktyk die diepste beïnvloed het, skryf Frederick Marais en Nelus Niemandt. In die foto hiernaas is Niemandt (middel) by Pat Ellison en Pat Keifert. Foto: Verskaf

Dit was juis hierdie verstaan van die missio Dei wat sedert die vroeë 2000’s ’n besondere invloed in Suid-Afrika begin uitoefen het. Deur Pat se inspirasie is het die  Suider-Afrikaanse Vennootskap vir Gestuurde Gemeentes (SAVGG) tot stand gekom en het ’n beweging aan die gang gekom wat mettertyd tot ’n veel groter missionale golf ontwikkel het. Wat aanvanklik in ’n aantal gemeentes en netwerke begin het, het geleidelik deur ringe, sinodes, teologiese opleiding en leierskapsontwikkeling versprei en uiteindelik die denke en praktyk van die NG Kerk as geheel diep beïnvloed.

Pat het nie van ’n afstand af raad gegee nie. Hy het saam met gemeentes gereis. Hy het onblusbare energie gehad om ook hier in Suid-Afrika en Namibië, met gemeenteleiers gesprek te voer oor die uitdagings wat hulle beleef. Hy was betrokke by gemeentes en ringe en het ’n besonder betekenisvolle verhouding met die Hoëveld Sinode van die NG Kerk en Communitas in Stellenbosch opgebou. Juis daar, soos ook op ander plekke, het sy invloed nie net deur teologiese konsepte gekom nie, maar deur persoonlike verhoudings. Hy het met lidmate en leraars om tafels gesit, geluister, vrae gevra, saam Skrif gelees en gemeentes gehelp om te onderskei waar God reeds aan die werk is. Sy besondere gawe was dat hy gemeentes kon help deur ‘n kombinasie van praktiese metodes, sistematiese teologie en sosiale teorie. Daar is min teoloë wat ons ken wat hierdie breedheid van denke op ‘n geïntegreerde manier kon toepas in sy hulp aan gemeentes.

Een van die praktyke wat wêreldwyd met sy werk verbind word, is Wandel in die Woord – in ons konteks dikwels bekend as ’n luisterende omgang met die Woord. Dit het iets kernagtig van Pat se teologie beliggaam: die kerk se roeping begin nie by ons planne en strategieë nie, maar by luister – na God, na die Skrif, na mekaar en na die mense en gemeenskappe waarheen God ons stuur.

Sy invloed het ook diep in teologiese opleiding ingegaan. Pat het ’n belangrike rol gespeel in die aanvanklike konseptualisering van die MTh in Missionale Leierskap wat by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch ontwikkel is. Daarmee het sy invloed ’n nuwe geslag predikante en kerkleiers bereik en gehelp om missionale teologie nie bloot as ’n akademiese onderwerp nie, maar as ’n bepaalde manier van kerkwees en leiding gee te vestig.

Wat in Suid-Afrika gebeur het, was deel van ’n veel groter verhaal. Deur Church Innovations het Pat met kerke en denominasies in verskillende wêrelddele gewerk. Hy het ’n leidende rol gespeel in ICEF – die International Consultation for Ecclesial Futures – waar kerkleiers, teoloë en navorsers oor denominasionele en landsgrense heen saamgedink het oor die toekoms van die kerk. Oral waar hy gewerk het, was dieselfde patroon sigbaar: diep teologiese nadenke, aandagtige luister, respek vir die plaaslike konteks, interaksie met sosioloë en sosiale teorie en ’n vaste vertroue dat God reeds voor die kerk uit in die wêreld werksaam is.

Vir ons persoonlik is hierdie verlies besonder groot. Van al die mense met wie ons oor baie jare kon saamwerk, was Pat waarskynlik die enkele persoon wat ons teologie én ons verstaan van gemeentelike praktyk die diepste beïnvloed het.

Pat Keifert laat daarom ’n nalatenskap na wat veel groter is as sy boeke, artikels en metodologieë. Dit leef voort in gemeentes wat geleer het om anders na hulle omgewing te kyk; in predikante wat anders oor leierskap dink; in teoloë wat die gemeente weer as ’n plek van teologiese onderskeiding ontdek het; en in kerke wat begin vra het, nie in die eerste plek “Hoe red ons die kerk?” nie, maar eerder: “Waar is God reeds aan die werk – en hoe word ons genooi om daarby aan te sluit?”

Die NG Kerk en die breër Suid-Afrikaanse kerklike gemeenskap het baie aan Patrick Keifert te danke. Ons groet ’n besondere teoloog, mentor, vriend en medereisiger met diepe dankbaarheid.

Mag hy rus in die vrede van die God wie se komende toekoms hy sy lewe lank die kerk help raaksien en onderskei het.


Prof Niemandt is ‘n teoloog en gewese rektor van Hugenote-kollege en dr Frederick Marais is direkteur van die Sentrum vir Innovasie aan Hugenote Kollege. 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top