Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
’n Week vóór ons in Goudini byeenkom, ontvang ek dié klein rooi boekie met die titel For such a time as this: An emergency devotional van die outeur, prof Hanna Reichel (Princeton Theological Seminary). Op die trappe voor die Vrouemonument in Bloemfontein. Ek was bevoorreg om haar en haar kollega, prof Frederike von Oorschot (Universiteit van Zurich), en hulle gesinne deur die Oorlogsmuseum te begelei en iets meer te vertel van daardie drie jaar wat só ’n traumatiese impak op die mense van Suid-Afrika gehad het; hoe beslissend dit die land en lewe in die twintigste eeu hier gevorm het. Hulle vrae weer, vertel waar húlle vandaan kom, met die gerugte van oorloë oral omheen: Amerika, Europa, 2026.
LEES OOK | Regstreeks: In aanloop tot PredikanteSAAMkoms 24-28 Augustus
Die meditasies in dié boek vir jou stiltetyd – ook opgedra aan prof Dirkie Smit – is in vier bewegings georden: Eers “Prepare yourself, or Gathering”; dan “Hear the Word, or Listening”; daarna “Become what you have received, or Communion”; en eindig dit met “Go into the World, or Sending”. Sommer so met die eerste oogopslag herken ’n mens daarin die weg waarop Jesus met sy dissipels gegaan het. Reichel kontekstualiseer dit: “Doing theology in a time of war”, en tree vanuit ons wêreld van die laaste drie jaar – sy verwys onder andere na 7 Oktober 2023 – in gesprek met Karl Barth en die opspraakwekkende opstel wat hy in die 1930’s in Nazi-Duitsland geskryf het, “Theological Existence Today”. Die eerste meditasie open met Markus 4, Jesus wat die stormwind beveel: “Wees stil! Bedaar!” (Markus 4:39). Ek blaai na Lukas se weergawe daarvan (want ons gaan die Lukasevangelie by Goudini lees): “Op ’n sekere dag het Jesus en sy dissipels in ’n boot geklim, en Hy het vir hulle gesê: ‘Kom ons gaan na die oorkant van die meer …” (Lukas 8:22). Eenkant toe. En ’n openbaring wat gebeur – ’n sleutelmoment in die groter Evangelieverhaal.
Op ’n sekere dag. Lukas, die “geskiedskrywer” onder die vier evangeliste, wóú die chronologie vasstel, wóú wys op aanloop, ontknoping en uitkoms. So my gedagtes gaan in hierdie dae voor die SAAMkoms in Goudini, na vorige momente in die geskiedenis van ons NG Kerke toe daar op redelike groot skaal gesê is “Kom ons gaan eenkant toe …” – in April 1860, juis op Worcester, 340 dominees uit die Kaapse Kerk, ook Presbiteriane en Metodiste; in Julie 2005, 1 400 dominees in Bloemfontein. Dit is eintlik nog te kort gelede om tot finale gevolgtrekkings oor die effek van die Bloemfontein-predikantekonferensie te kan kom. Wat het nie alles sedertdien met ons in ons kerke gebeur nie? In die herinneringe van diegene wat daar was, leef twee indrukke: die teologiese debat wat gevoer is, leidende rolspelers in die NG Kerk toe; en dan die herontmoeting met kollegas en klasmaats.
Kerkhistorici beskou die 1860-Worcesterkonferensie as die stimulus vir die “golf van herlewing” wat in daardie dekade oor die (Kaapse) NG Kerk sou spoel. Dit was gereël deur die Zuid-Afrikaansch Evangelische Verbond, in ’n tyd toe daar in verskillende kerkgenootskappe kommer was oor enersyds ’n vervlakking en morele onverskilligheid in die Kaapse samelewing en andersyds die opkoms van die 19e eeuse “Moderne Teologie” (die “Liberale Rigting”). Terloops: die Kaapse sosio-politieke konteks wás besig om ingrypend te verander, met die vrystelling van slawe in die 1830’s en die “Groot Trek” weg uit die Kolonie; die “Grensoorloë” in die Oos-Kaap en nuwe republieke in die binnelande oorkant die Garieprivier. In Worcester het dr William Robertson (egter) oor “Revivals” in Amerika en Europa gepraat, en is daar ernstig gebid vir herlewing.
Die dominees het begeesterd na hulle gemeentes teruggekeer, met aksiestappe, ’n “Metode”. Toe gebeur dit: in die Paarl die geboorte van ons Pinksterbidure; Sankey-liedere; die aksent op persoonlike vroomheid en Puriteinse waardes; ’n nuwe sendingbewussyn wat opvlam; evangelisasieveldtogte wat in die volgende twintig jaar tot in die verre buitegemeentes ’n nuwe manier van Woordbediening sou word. Kritiek het van weerskante gekom: vanuit strenger Nederlands-gereformeerde kringe in en langs die NG Kerk (dit was skaars ’n jaar ná die totstandkoming van die Gereformeerde Kerk van ds Postma-hulle!), én vanuit die “Liberale Rigting”. Met die oordrewe emosionele belewenisse in Worcester, Wellington en elders is daar gehekel; selfs dr Andrew Murray moes dit later tot orde roep! En tóg, op die lang pad van die NG Kerk deur die 19e eeu en daarná, is ook die 1860-Predikantekonferensie en die uitkoms daarvan ingeweef in die spiritualiteit en getuienis van hierdie kerkfamilie. Ten goede.
Dit is goed dat ons volgende week eenkant toe gaan. Nie vir groot teologiese debatte of vreeslike sinodebesluite nie. Vir seker, skryf Hanna Reichel: “The storm is not an illusion; its dangers are real.” Nuus oor die storms waarin óns ons bevind – van die donkerte tans in sovele wêrelddele tot al die kommerwekkende realiteite in ons eie land (geweld, korrupsie, ’n falende staat, vloedskade en bek-en-klouseer en voorspellings van droogte) tot die lewensgebeure elke dag in ’n gemeente, die kruispaaie waarby lidmate beland en ons vir raad vra – al hierdie nuus, dreig om ons as dominees te verswelg. “Don’t ignore or sugarcoat what is happening. But don’t let it mesmerize you” (Reichel). Dit is goed dat ons Goudini toe gaan (en baie dankie aan die span en die kerkverband wat dit vir ons moontlik maak). Pak jou Lukasevangelie in, bring jou skryfboekie en potlood saam. Want toe Jesus die stormwind stilmaak, was sy vraag aan die arme, uitasem, waterdeurdrenkte groepie dissipels: “Waar is julle geloof?” (Lukas 8:25).
Meer as enigiets anders, het ons as dominees in die NG Kerk ’n ontmoeting met Hóm nodig. Of dit sal wees in die vroegoggend-aanbidding, in die Bybelstudie, in ’n kunsateljee, rondom ’n koppie koffie, in ’n paneelgesprek, in die saamkuier met kollegas, in die stap teen die berg, in ’n eenkantgebed, in die aandgodsdiens – dít is nie vir ons te bepaal. ’n Metode is daar nie, maar wél dat Hý die regte moment vir jou kies. Naderkom deur sy Woord en Gees. Mag Jesus volgende week ook na óns toe draai, en ’n genadewoord spreek om die storm in ons binneste stil te maak. Sodat ons – Lukas 8:25 – weer “met ontsag vervul en verwonderd” sal wees. En die NG Kerk bereid om te vra “Wie is Hy tog …?” Sodat ons Hom nederig en gehoorsaam sal volg na “die oorkant”, “die land van die Geraseners”, “berg-af”, na “die siekes” en “die honger skare”, rigting Golgota en anderkant uit die Tuin van Getsémane.
Hanna Reichel eindig die eerste meditasie só: “If there is to be life beyond totalitarianism, we must cultivate a life outside its grasp, even as we live within it.”
’n Gebed vir Goudini.
- Ds Jan Lubbe is predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.
