Halfpad deur die lewe: Wysheid vir wanneer die lewe jou stilmaak
Deur Cas Wepener
Uitgewer: Bybelkor, 2026
Resensent: Rethie van Niekerk
Moenie dat hierdie skat ongemerk by jou verbyglip nie! In hierdie boek lê diep wysheid aan die hand van die boek Prediker opgesluit, verpak vir maklike gebruik deur kleingroepe, vir stiltetyd of as reekse in gemeentes.
Wepener se manier van omgaan met woorde skilder ’n aangrypende verstaan van die lewe. Gekombineer met etse deur Wessel van Dyk gee Halfpad deur die lewe vir die leser genoeg woorde om te lees, hulpmiddels om te oordink, besondere insig in die boek Prediker en ’n diepe verstaan van die skoonheid van ’n vlietende lewe.
Volgens Wepener is die wysheid van die Prediker op heelwording gemik. Hy beskryf hierdie “heelwording” met die woorde van Ronald Grimes: “To be healed, is to be reconnected.”
Saam met die Prediker, tussen dooie vismotte, paradokse en heilige modder, begelei Wepener sy leser om – stadig (“hang aan ’n tak”), prakties, Bybels, beeldskoon – deur vyf herverbintenisse te gaan: ek en God; ek en ek; ek en dinge; ek en ons; ek en jy.
Of jy nou Halfpad deur die lewe is of nog nie – hierdie boek is ’n kosbare kleinood wat besondere wysheid ontgin.
Bestel die boek (R160) aanlyn by Bybel-Media .
Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.
