Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Johann Theron van Kraaifontein skryf: Toe my dogter klein was, wou sy nie gaan slaap saans nie. Na ’n paar keer se opdrag om te gaan slaap, het sy dan gevra vir ’n soentjie. Hierop het ons gesê dit is ’n “stoute soentjie”, want dit is maar net ’n verskoning om nie die opdrag uit te voer nie. Dit is nogal vir my tekenend van die NG Kerk se Saamkoms 2026 in Goudini. Die rus en deel tussen kollegas is nie op sig self die probleem nie, die tydsberekening is wel onder verdenking.
LEES OOK | Jan Lubbe: Op die vooraand van PredikanteSAAMkoms, ’n Gebed vir Goudini
Dit is interessant om te hoor dat daar in 1860’s so ’n saamkoms was. Die feit dat die onderlinge dominee-bande gesmee moes word net nadat die NG kerk in die helfte geskeur is in 1857 met die “swakheid van sommige”- besluit (ten behoude van die weggetrekte broeders) en dat dit gelei het tot die uitstoot van al die bruin lidmate net daarna in 1863, is nogal treffend. Sou dit maar per abuis wees dat die herders trakteer word terwyl die kudde uitmekaar gejaag word?
Die 2005 Saamkoms volg ook, per ongeluk, op die feit dat Artikel 44 vanaf 2004 tot 2013 ekstra verskans is, om enige kans vir die aanvaarding van die Belydenis van Belhar onmoontlik te maak, want nou moes nie net die tien Sinodes nie, maar ook twee-derdes van al die kerkraad stem vir ’n Belydenis verandering. Daarmee is die Skriftuurlike eise vir eenheid geoffer en die “swakhede” van die broeders weereens tegemoetgekom.
Nou is daar die 2026 Saamkoms. In die Kaap Sinode was daar in die 2023 Agenda (p87) ’n voorstel dat die Kaap Sinode in getrouheid aan die Woord en Belydenis, die Belhar Belydenis bely as vierde Belydenisskrif (soos die Kaap Sinode eintlik reeds in 2011 besluit het). Hierdie voorstel is egter deur die Kaapse moderamen-voorstel omseil deur weereens vir die Algemene Sinode te vra om Artikel 44 aan te pas, wetende dat Sinodes wat teen Belhar gestem het, enige verandering van Artikel 44 kan bly veto tot in der ewigheid.
In ’n Gereformeerde Kerk is dit die gedeelde Belydenis wat ons aan mekaar verbind. As die Woord en Belydenis die hoogste gesag in die NG Kerk sou dra, soos ons bely (NGB Artikel 7), was die Kaap Kerk, sedert die aanvaarding van die Belhar Belydenis in 2011, nie meer deel van die Algemene Sinode nie, maar wel een kerk met sy Sendingkerk (tans die VGK).
Nadat die verskeurdheid van die liggaam van Christus dus in die 2023 Kaap- en Algemene Sinode effektief verewig is, is dit tyd dat die bande tussen die herders weer gesmee word langs die waters van rus in Goudini. Dit is egter nie ’n Belydenis saamkoms nie, maar ’n aparte rasse bymekaarkoms en dalk eintlik maar net ’n stoute soentjie om God se opdrag te verontagsaam.
