Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dinkstof | Verstaan die Ou Testament: Die stilte waarin God nie vasgevang kan word nie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

1 Konings 19 vertel die verhaal van Elia wat moet vlug voor Isebel, die koningin van Israel, wat hom graag wil doodmaak. In vers 9 kom hy by ʼn grot aan op berg Horeb en word met ʼn eenvoudige vraag deur God gekonfronteer: Wat maak jy hier? Elia se antwoord is effens oordrewe en beulblaserig: Hy alleen is oor van al die profete en “hulle” soek sy bloed. God sê vir Elia om by die grot uit te gaan en te wag dat Hy verbygaan. Dan volg een van die bekendste gebeure in die Bybel. Daar is ʼn wind, ʼn aardbewing en ʼn vuur, maar in dié goed is God nie. Uiteindelik is daar ’n eienaardige stilte; die Hebreeus praat letterlik van “die geluid van ʼn sagte stilte”. Wanneer dit gebeur weet Elia dat dit ʼn heilige oomblik is en bedek hy sy gesig met sy mantel.

Ons almal het al preke en oordenkings oor die teks gehoor wat aanvoer hoekom stilte belangrik is as ons God se stem wil hoor. Hoewel daar geen twyfel is dat stilte inderdaad belangrik is nie, is dit heel waarskynlik nie wat die teks wil sê nie.

Om te verstaan wat die teks wil sê, moet ʼn mens terugblaai na die vorige hoofstuk. Daar konfronteer Elia die Baälprofete op die berg Karmel. Die vraag daar is: Wie is die ware God? Op Karmel word ʼn altaar gebou en Baäl daag nie op om die brandoffer met vuur te verteer nie, al doen die Baälprofete hulle allerbeste. Uiteindelik is dit die God van Israel wat vuur vanuit die hemel stuur om die brandoffer te verteer. So, wie is die ware God? Dit is die een wat met vuur kom om die brandoffer te verteer. Die probleem met hierdie verhaal is dat dit ʼn mens laat wonder: Is dit al wat ons verwag van ʼn God? Om vuur uit te hemel te stuur? Is dit hoe God homself aan ons bekend maak?

1 Konings 19 wil juis hierdie misverstand uit die weg ruim. Hier daag God op in stilte, maar dit is nie noodwendig ʼn resep vir die toekoms nie. Op ander plekke verskyn hy in aardbewings (Eks 19:18), soms in wind (Eks 14:21), of soms in vuur soos op Karmel en Sinai (Eks 19:18), maar hierdie keer kommunikeer hy deur die stilte. God is nie net ʼn God wat in vuur of in stilte opdaag nie. Hy maak homself aan ons bekend op die manier wat hy dink die effektiefste gaan wees.

God laat hom nie vasvang nie. God is ook nie voorspelbaar nie.

Prof Sias Meyer doseer Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top