Die March and March-veldtog wat afgeskop is teen onwettige immigrante in die land, het duisende mense ontwortel. Konvooie busse vol mense is onder polisiebewaking na grensposte begelei terwyl ander immigrante vir weke in motorhuise en pakkamers moes wegkruip. Boere sukkel omdat hulle skielik sonder arbeiders moet klaarkom, want die immigrante is weg en die plaaslike bevolking daag nie op nie. Met die salaris van ’n suikerrietsnyer koop jy immers nie ’n Ferrari nie!
Hierdie gebeure het die hele saak van migrasie van mense opnuut onder die vergrootglas geplaas. Wanneer ’n mens terugblaai deur die geskiedenis van Suid-Afrika, en van die NG Kerk word een saak gou duidelik: Dit is niks nuuts nie. Almal in die land en al die kerke in die land is immigrante! Die enigste mense wat op die feit dat hulle “nog altyd” hier was, kan aanspraak maak,is die Khoisan. Witmense het van Europa gekom, bruin mense oorwegend van Maleisië en die swart stamme van Midde- Afrika.
Almal ken die verhaal van die koms van Jan van Riebeeck in 1652 en hoe die vestiging van ’n verversingspos ook die vestiging van die Gereformeerde godsdiens en die kerk aan die suidpunt van Afrika tot gevolg gehad het. Dit is versterk met die aankoms van Duitse families vanaf 1660, die Franse Hugenote in 1688 en die koms van die Britse Setlaars in 1820. Met die uitbreiding na die binneland in 1835/36 het duisende emigrante die Kaapkolonie verlaat in hulle strewe na politieke onafhanklikheid. Die kerk is saamgeneem op die trekpad en soos wat dorpe aangelê is, is gemeentes gestig Ja, die NG Kerk was inderdaad ’n immigrantekerk!
Minder bekend, is die groot migrasie van swart stamme wat vanaf Nigerië en die Kongo teen ongeveer 350 nC plaasgevind het. Dit het tot grootskaalse ontworteling van die Khoisan gelei. Heelwat later het ’n plaaslike groot migrasie wat as die Difaqane bekend geword het, tussen 1815 en 1840 plaasgevind. Tydens hierdie migrasies het die Matabelekoninkryk onder Silkaats, die Zoeloekoninkryk onder Shaka en die Basothokoninkryk onder Mosjesh ontstaan. In die suide het dit tot konflik tussen die Xhosas en die migrerende boere gelei en die Grensoorloë het gevolg.
Wanneer huidige geslagte vinnig daarop aanspraak maak dat hulle hier gebore is, en daarom die reg het om hier te wees en dat dit hulle ook sommer die reg gee om oor ander se hierwees te besluit, moet die geskiedenisboeke dalk weer oopgemaak word. Dalk sal dit help om sagter en met groter deernis te praat oor mense wat migreer. Almal in hierdie land se wortels lê elders. Die NG Kerk se wortels lê elders. Miskien is dit daarom ’n besondere deel van die kerk se profetiese roeping om met ’n sagte hart, sensitiewe oë en oop hande die Missio Dei in 2026 sigbaar te maak – veral wanneer mense migreer.
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.
