Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

My gebed is dat ons, as kerk, sal aanhou om sáám te sing, dat die melodieë wat hierdie week uit ons monde gekom het, sal aanhou weerklink regoor die land, en bowenal dat dit wat ons saamsing, ook gestalte sal kry in ons lewens, ook saam met en tot diens van ander wat nie hierdie week daar was nie, skryf Marnus Havenga.

‘Ek was daar’ | Storie-reeks oor SAAMkoms 2026: Marnus Havenga oor Augustinus en samesang

In die antieke wêreld het party denkers opgemerk dat daar ’n rede is waarom die woorde koor (choros; χορός) en vreugde (chara; χαρά), en selfs genade (charis; χάρις), so na aan mekaar is. Want, is daar gesê, om te sing – en veral om dit sáám met ander te doen – is ’n vreugdeshandeling. Dit spreek ook van genade, die genade wat van God af kom, maar ook tussen mense self kan leef. Iemand wat dit ten diepste geglo het, en regdeur sy lewe passievol daaroor gepraat het, was ons mede-Afrikaan uit die 4de/5de eeu, Augustinus.

Augustinus het ’n besondere liefde vir musiek gehad, soos ons onder meer in sy merkwaardige vroeë werk, De Musica – wat van die eerste werke is wat hy ná sy bekering geskryf het – sien. Hy was egter veral lief vir sang, hetsy dit voëlgesang was (waaroor hy aangrypend skryf), óf die melodieë wat uit mense, veral wanneer hulle saam is, opklink. Augustinus het geglo dat om sáám te sing ’n heilige daad is, ’n “geestelike misterie”, soos hy dit noem, wat ons “harte beweeg en aan die brand steek”, en só ons verlangens en liefdes na God toe rig, terwyl dit ons ook na mekaar toe draai.

Reeds as ’n kind is hy aan die liedere van die kerk blootgestel toe sy ma, die immer-singende Monica, gedurig “in sy ore gesing het” – liedere wat ten spyte van sy jeugdige opstandigheid, só diep in hom ingesink het dat dit vir die res van sy lewe deel van hom sou bly. Ná vele omswerwinge was dit dan ook – in Milaan – die saamsing van gelowiges wat van die diepste indrukke op hom gemaak en ’n sentrale rol in sy bekering gespeel het. In sy Confessiones skryf hy byvoorbeeld hoe hy met die aanhoor van die singende kerk in Milaan nie anders kon as om te begin huil nie. Biddend tot God skryf hy: “How copiously I wept at your hymns and canticles, how intensely was I moved by the harmonies of your singing Church”. Dit was dan ook, aangespoor deur kinders wat in hulle spel tolle lege, tolle lege – “neem en lees” – sing, dat hy Paulus se Romeinebrief opgetel het, in daardie bekende toneel in sy Belydenisse.

Sang, en veral samesang, sou hierna ’n sentrale deel van Augustinus se lewe en bediening bly, in tye van blydskap, maar veral te midde van intense hartseer. Hy vertel byvoorbeeld hoe hy, met Monica se afsterwe, saam met ander gelowiges, insluitend sy vriend en mede-Afrikaan Evodius, Psalms begin sing het, en ook vertroosting gevind het in ’n himne van sy mentor, Ambrosius, wat hy heel waarskynlik vroeër saam met ander in die kerk leer ken het. In sy preke – en ander skrywes, selfs hoogs teologiese werke – moedig hy gelowiges ook gereeld aan om deurgaans saam te sing. Om te sing, sou hy volgens oorlewering aan sy gemeente in Noord-Afrika sê, is om tweemaal te bid, en daarom is sy oproep aan die kerk, byvoorbeeld in Preek 256, om voort te gaan met die doen van die goeie in die wêreld, maar om dit al singende te doen.

LEES OOK: ‘Ek was daar’ | Storie-reeks oor SAAMkoms 2026: Ruan Nieuwenhuizen van NG Somerset-Oos Gemeente

Hierdie laaste punt is belangrik. Vir Augustinus staan samesang nie los van ons roeping en deelname aan God se werk in die wêreld nie. Inteendeel, omdat sang – hetsy dit liedere van lof, of skuldbelydenis, of klaag is – so ’n transformerende effek op ons eie, maar veral ook ons gesamentlike lewe het, en ons aan mekaar verbind, vra dit van ons, en vorm dit ons, om ook anders te lewe. In sy kommentaar op Psalm 149 sê hy dat, soos wat ons met ons stemme en harte sing, ons ook geroep en gevorm word om dit met ons lewens en dade in die wêreld te doen. Hy skryf: “It is the same for you if, when you sing ‘Alleluia’ you also hand out bread to the hungry, clothe the naked, and welcome the traveler; then it is not only your voice that makes a sweet sound but your hands too are joining in”. 

Ek dink almal wat vandeesweek by die Predikante SAAMkoms was, sal saamstem dat dit moeilik is om in woorde om te sit net hoe betekenisvol dit was. Die feit dat ons sáám kon wees, en gesels, en leer, en rus, en eet, en lag en huil, en bid, en luister, was besonders, en ’n mens kan maar net vir God dank vir wat in hierdie paar dae gebeur het. Saam met baie ander dinge is ek egter veral dankbaar dat ons deurentyd saam kon sing hierdie week – nuwe liedere, ou liedere uit ons liedskat, kinderliedere, noem maar op. In dié saamsing (χορός) was daar inderdaad vreugde (χαρά) en genade (χάρις), en baie daarvan.

My gebed is dat ons, as kerk, sal aanhou om sáám te sing, dat die melodieë wat hierdie week uit ons monde gekom het, sal aanhou weerklink regoor die land, en bowenal dat dit wat ons saamsing, ook gestalte sal kry in ons lewens, ook saam met en tot diens van ander wat nie hierdie week daar was nie. Om Augustinus se woorde uit Preek 256, waarna hierbo verwys is, aan te haal en dit ook vir die NG Kerk toe te bid:

“Sing, and keep on walking. What’s ‘keep on walking’? … You, if you’re making progress, are walking; but make progress in goodness … Sing and keep on walking.”

  • Marnus Havenga is die PSD vir Opleiding en Navorsing van die Wes-Kaapse Sinode. Foto’s: Le Roux Schoeman vir Kerkbode. 

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top