Ds Ruan Nieuwenhuizen NG Somerset-Oos Gemeente skryf: Ek deel een of twee belewenisse van die Predikante SAAMkoms (24-28 Augustus).
“Die kerk is baie dinge, maar definitief nie dood nie.” Ek dink hierdie sin, deur ds Rudi Swanepoel, beskryf iets van my belewenis van die Predikante SAAMkoms. Want ja, die kerk is baie dinge. Ons is steeds te wit, te eksklusief en te veel aan die eenkant van ons samelewing. Ons dra ’n geskiedenis en bagasie wat ons nie kan ignoreer nie. Maar dit beteken nie dat daar nie ook merkwaardige stories van mense en gemeentes is wat besig is om dit anders te doen nie. Stories van mense wat grense oorsteek, nuwe verhoudings bou en op konkrete maniere probeer om iets van God se koninkryk sigbaar te maak. Dit gee my hoop.
LEES OOK: Goudini: ‘Genade in die saamsing … en baie daarvan’
My eerste belewenis van die SAAMkoms was daarom die wonder daarvan dat meer as 650 predikante bymekaar kom. ’n Besonderse diversiteit, ’n skakering van andersheid – mense met verskillende stories, persoonlikhede, gawes en kontekste. Elkeen wat op sy of haar eie manier ook geroep is.
En dan besef ek: hierdie is nie bloot 700 mense wat op een plek bymekaar is nie. Agter elkeen van hierdie predikante staan ’n gemeente en ’n gemeenskap. Honderde gemeenskappe, versprei oor ons land, van diep platteland tot middestad, waar mense weekliks saamkom, waar kinders grootword, waar mense trou, rou, vier, twyfel en hoop. Gemeenskappe wat op hulle eie manier ’n enorme impak op die samelewing het. Die SAAMkoms het ons ’n klein kykie gegun in die omvang en veelkleurigheid van daardie kerk.
LEES OOK | Kerkbode se blog: Stemme, stories en beelde vanaf SAAMtrek by Goudini (24-28 Aug)
Dit was wonderlik om te sien en te hoor hoe elkeen hom- of haarself uitleef, wat vir hulle energie gee en selfs waar hulle broos is. Daar was iets besonders daaraan om te hoor hoe mense, elkeen op hul eie manier, probeer om ’n verskil te maak in die gemeenskappe waar hulle geplaas is.
En op hierdie punt wil ek ook sommer net dankie sê aan my kerkraad en gemeente. Dankie dat julle vir my en my kollega hierdie wegbreek gegun het. Ons het dit nodig gehad. Die bediening vra baie van ’n ons, en soms is dit juis nodig om vir ’n oomblik uit die gewone ritme te tree, asem te haal, te luister en weer perspektief te kry. Maar meer as dit: ons het met nuwe energie teruggekom. Die SAAMkoms het ons nie net ’n blaaskans gegee nie; dit het ons opnuut lus gemaak vir die bediening en herinner aan die voorreg daarvan om hierdie werk saam met ander mense te mag doen. Dankie dat julle ons die ruimte daarvoor gegee het.
My tweede belewenis is die wonderlike manier waarop die SAAMkoms ons voortdurend begelei het om met mekaar in gesprek te tree. Elkeen van die sessies wat ek bygewoon het, gee nie net inhoud nie, dit maak gesprekke los. En hierdie gesprekke het nie opgehou wanneer ’n sessie eindig nie. Dit het voort gegaan by die etenstafels, in die parkeerarea, op die shuttles en selfs in die swembad.
Daarom ook ’n groot dankie aan almal wat die SAAMkoms gereël en moontlik gemaak het. Dit was ongelooflik goed georganiseer. Met 16 verskillende stasies en soveel verskillende gesprekke en moontlikhede kan so iets maklik oorweldigend raak, maar dit was vir my verrassend maklik om iets te vind wat vir my sinvol was. Daar was ruimte om te kies, te ontdek, te luister en selfs net by iets aan te sluit omdat dit interessant klink. Die verskeidenheid het juis gemaak dat elkeen op sy of haar eie manier iets uit die SAAMkoms kon neem. Dit is ’n besondere prestasie om soveel mense, stories en gesprekke op een plek bymekaar te bring en dit steeds toeganklik en sinvol te laat voel.
Ek het die SAAMkoms daarom as uiters sinvol ervaar. Dit het ons die geleentheid gegun om nuut te dink en vernuwe te word – om vir ’n oomblik buite die stippellyne en donkergrense van wat “moet” en “moenie” is, net te wees. Om te leer. Om te luister. Om saam te leef met ander wat ook net getrou wil bly aan hulle roeping.
Miskien is dit juis wat ek van die SAAMkoms waardeer het: dat dit my herinner het dat ek nie die hele kerk is nie. My gemeente is nie die hele kerk nie. Ons manier van dink, glo en kerkwees is nie die enigste manier nie. Meer as 650 predikante. Honderde verskillende gemeentes en skakerings van gemeenskappe. Ontelbaar baie stories.
Ons het nog baie om aan te spreek en aan te pak, baie om oor te dink en baie om van mekaar te leer.
Die kerk is baie dinge, maar definitief nie dood nie.
