Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Vier nuwe kerkliedere is bekendgestel tydens die 2026 PredikanteSAAMkoms wat van 24 tot 28 Augustus by die Goudini-vakansieoord in die Boland gehou is. Dit kan op Bybel-Media se webblad afgelaai word. Foto: Le Roux Schoeman

Goudini: ‘Genade in die saamsing … en baie daarvan’

Die 2026 PredikanteSAAMkoms het honderde dominees en diensleraars genooi om te kom ontspan, saam te aanbid en te leer. Hoe het deelnemers dit ervaar? vra Heléne Meissenheimer.

Die sanger Jo Black vertel hy het in kroeë begin musiek maak na hy gehoor het iemand maak na ’n kerkdiens die opmerking dat sy niks gevoel het tydens die lofsang nie.

Dit was jare terug toe hy in ’n kerk se band gespeel het. “Toe sê ek vir my vriend, het jy gehoor sy dink ons speel vir haar?”, het die ‘Voel jy die genade?’-liedskrywer onlangs vir ’n gehoor van honderde NG predikante vertel. Black was een van ’n aantal gewilde Afrikaanse sangers wat op Donderdag 27 Augustus op luisterryke wyse ’n landwye saamkoms vir NG predikante, diensleraars en dienende emeritusleraars afgesluit het (sien onder vir meer oor latere TV-uitsendings van hierdie musiekaand).

Lees meer oor die musiekaand en deelnemers se belewenis op Kerkbode se regstreekse blog: Stemme, stories en beelde vanaf SAAMtrek by Goudini (24-28 Aug)

Saamsing was ’n integrale deel van die 2026 PredikanteSAAMkoms gehou van 24-28 Augustus by die Goudini-vakansieoord in die Boland. Elke oggend en aand het honderde mans en vroue God saam geloof, saam gebid, saam stil geword. Die gesamentlike sessies is gebou rondom sewe kernmomente uit Jesus se lewe en sterwe op aarde.

Hierdie grootsaalbyeenkomste is deur talle uitgelig as ’n hoogtepunt, selfs dat dit ’n emosionele belewenis was. Lambert Jacobs, ’n Stellenbosse dominee naby aftrede, het geskryf: “Ek raak deesdae baie makliker emosioneel as vroeër in my bediening, maar ek kon ’n paar liedere net nie klaar sing nie, so groot was die knop in my keel. Die impak van die saamwees en die deelname van mense wat regoor die land verspreid is en oral probeer om hulle ding te doen in ’n verskeidenheid gemeentes was baie spesiaal en het my keer op keer gevang”.

Vier nuwe liedere is vir die geleentheid geskryf en tydens samesang aangeleer.

  • Jy kan die SAAMkoms liedere op Joyna (Bybel-Media se nuwe platform) luister, aflaai of die bladmusiek daar kry. Besoek www.joyna.co.za en skep ’n profiel vir toegang.

‘’n Ruimte waar predikante saam kan wees’

Die idee van ’n byeenkoms gebou rondom ervarings saam met ander – na mekaar se roepingsverhale luister, nuwe dinge leer, ontspan, net menswees – was van die begin af die oogmerk van die organiseerders. Só het sameroeper Maartje van der Westhuizen byna ’n jaar terug hulle visie verduidelik: “Ons droom is om ’n ruimte te skep waar predikante saam kan wees, mekaar kan versterk en herinner kan word dat ons nie alleen in ons roeping en bediening stap nie. Ons verlang na ’n geleentheid waar ons saam kan bid, kuier, groei en vier – ’n tyd van herverbinding, bemoediging en nuwe hoop.” Só het sy geantwoord as deel van ’n eerste artikel vir Kerkbode oor hierdie saamkoms. Lees meer: Vooraf: 5 vrae aan Maartje van der Westhuizen.

Goed om saam met ander oor roeping te dink: ‘Ek is nie alleen nie’

Predikante en diensleraars het gekom van klein en groot, naby en ver gemeentes. Van sover as Londen en Pretoria in die noorde tot by die Kaap en Mosselbaai, van Lutzville aan die Weskus tot by Skukuza in die Krugerwildtuin.

Dit was vir sowat 650 predikante en diensleraars ’n kans om vir drie, vir sommige vier, dae saam met klasmaats, oud-kollegas en vriende te kuier en gesels. ’n Mens het telkemale gehoor wat so ’n rare ontspanne geleentheid vir wye interaksie beteken, veral vir diegene wat al vir jare die enigste predikant is in ’n gemeente op ’n afgeleë dorp.

Deurlopend was ek dus nuuskierig hoe mense die geleentheid ervaar. By Marius Smith het ek gehoor hy is al 32 jaar die enigste leraar van Breyten-gemeente, ’n klein dorpie in Mpumalanga “so tussen Ermelo, Carolina en Hendrina”. Hy het vertel hierdie saamkoms was ’n ongelooflike ervaring vir dominees soos hy. “Doodgewoon vanweë die feit dat … ons heerlik saamgesels, dinge met mekaar kan deel wat ons as dominees van die landelike dele van Suid-Afrika nie kans voor kry nie,” het hy gesê.

Ander soos Arion Naidoo van die Cape Peninsula Reformed Congregation in Kaapstad het vertel hoekom dit goed is om saam met ander oor roeping en die bediening te dink. Dit het hom laat besef daar is ook “ander soos ek wat oor dieselfde goed worstel … ek dink dit gee vir my baie hoop dat ek nie alleen is nie,” het hy bygevoeg.

Vir vele was die natuurskoon van die Bolandse berge en die genot van die warmwaterbronne en fasiliteite op Goudini ook ’n verkwikking. Hendrien van Vliet, al die pad vanaf Kempton-Hoogland, het vertel sy was getref deur ’n “wonderlike verwelkomende atmosfeer” oral waar sy gekom het.

Hoewel vroue steeds in die minderheid was – sowat 25% – was daar tog meer as 160 vrouepredikante by hierdie saamkoms. Genoeg om ’n hele vertrek vol te sit vir ’n groepfoto. By navraag het dr Nina Müller van Velden, ’n dosent en dominee van Bloemfontein, op die diversiteit binne die foto gewys. “Verskillende generasies vroue, elk met hulle eie storie … dit is nie ’n homogene identiteit wat ons verteenwoodig nie. Die verskillende (opleidings)bane word verteenwoordig. Party het laat in hulle lewe gaan swot. En ons kan mekaar bemoedig en troos,” het sy daaroor vir Le Roux Schoeman gesê.

Hoewel vroue steeds in die minderheid was – sowat 25% – was daar tog meer as 160 vrouepredikante by hierdie saamkoms. Genoeg om ’n hele vertrek vol te sit vir ’n groepfoto. Foto: Philip Kotze

Deelnemers kon 12 sessies kies

Meer as ’n 100 predikante is as aanbieders betrek by die program. Deelnemers kon oor drie dae 12 sessies kies uit 16 verskillende ‘stasies’ met aanbiedings wat wissel van teologiese en aktuele temas tot kuns, musiek en avontuurstaptogte in die berge.

Wat daar nie was nie is vergaderings, voorleggings, taakspanne of komitees. Daar was nie eens gepreek tydens die grootsaalbyeenkomste nie.

Dit is hierdie afwesigheid van ’n sigbare “agenda” wat Rudi Janse van Vuuren van Citrusdal opgeval het. Hy het vertel hy wou aanvanklik nie kom nie oor hy by die vorige saamkoms was wat in 2005 in Bloemfontein gehou is, en ook oor hy onseker was oor wat om te verwag. Hy skryf op sy Facebookprofiel: “Ek kry nog my gedagtes agter mekaar toe begin ons. Die groot saal is voorberei soos ’n feesmaal. Geen agenda, geen punte. Zander van der Westhuizen vat voor met ’n span musikante. Ons loof en prys die lewende Here, grensloos. Die dankiesê van gemeentelede vir hulle predikant laat die trane rol, ons doen net ’n werk en tog word ’n predikant in die platteland of stad raakgesien … ek kan nie anders nie as om op die stoep van my blyplek te sit en al wat ek uitkry is ‘Dankie Jesus’. Ek sou nog kon aangaan, maar my hart is vol”.

 

 

Meermale is gehoor mense hoop so ’n gebeurtenis kan weer gebeur. Sedertdien het nog vele op sosiale media vertel hoe besielend hierdie belewenis vir hulle was. Vir dr Nioma Venter, sekretaris van die Algemene Sinode, is dit iets wat haar verbly. Sy vertel by navraag “dit is die eerste keer in die drie jaar wat ek in my pos is dat ek op Facebook lees predikante skryf ‘ek is trots om ’n NG dominee te wees’”.

Luister ’n mens na hoe ander vertel hoe hierdie ervaring hulle geraak het, is my gedagte dat hierdie vrou na wie Black verwys het dalk ook ’n ander lofervaring sou gehad het as sy by hierdie byeenkoms was, die eerste van sy soort in 20 jaar binne die NG Kerk. Met hierdie leidraad: dat die geheim van ’n dieper belewenis eerder in die saamsing opgesluit mag wees as in die musikale talent van dié wat begelei.

Soos dr Marnus Havenga, die Predikant in Sinodale Diens vir Opleiding en Navorsing by die Wes-Kaapse Sinode, geskryf het: “Saam met baie ander dinge is ek egter veral dankbaar dat ons deurentyd saam kon sing hierdie week – nuwe liedere, ou liedere uit ons liedskat, kinderliedere, noem maar op. In dié saamsing (χορός) was daar inderdaad vreugde (χαρά) en genade (χάρις), en baie daarvan.

“My gebed is dat ons, as kerk, sal aanhou om sáám te sing, dat die melodieë wat hierdie week uit ons mond gekom het, sal aanhou weerklink regoor die land, en bowenal dat dit wat ons saamsing, ook gestalte sal kry in ons lewe, ook saam met en tot diens van ander wat nie hierdie week daar was nie”. Hy sluit af met hierdie woorde van die antieke kerkvader Augustinus: “Sing, and keep on walking. What’s ‘keep on walking’? … You, if you’re making progress, are walking; but make progress in goodness … Sing and keep on walking.”

  • Bybel-Media was die hoofborg van die Saam in Lof-musiekproduksie. Die DStv-kanaal VIA beplan om die opname daarvan op 24, 25 en 27 Desember om 19:00 uit te saai.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top