Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Waar is die kind in ons morele gesprekke?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Julian Olivier van Groblersdal skryf: Ek is kwaad. En onder die woede lê verdriet.

Ek was kwaad toe Charlie Kirk voor ’n gehoor van studente doodgeskiet is en die grafiese beeld wêreldwyd versprei is. Vir sommige was hy nie meer ’n mens, eggenoot en vader nie, maar bloot ’n politieke vyand. Lyk vir my menswaardigheid het weer afhanklik geraak van ideologiese instemming.

Vandag is ek kwaad en hartgebroke oor Cora (5), Dawson (3) en Callan (8 maande) Clancy. Hulle moeder, Lindsay Clancy, het erken dat sy hulle verwurg het. Haar verhoor het op 4 September in ’n “mistrial” geëindig omdat die jurie nie eenparigheid oor haar strafregtelike verantwoordelikheid kon bereik nie.

Postpartum-psigose is werklik en geestesongesteldheid verg erns, kundigheid en medelye. Tog pla iets in die openbare gesprek my diep: Hoe maklik verdwyn die kinders agter die volwassene se geestestoestand. Die gesprek wentel om háár lyding. Cora, Dawson en Callan word eenvoudig “die drie kinders”.

Ek sien dieselfde gebeur ook vóór geboorte. Ons praat van “swangerskapweefsel”, “produkte van konsepsie” en die “beëindiging van ’n swangerskap”. Dit kan geldige kliniese terme wees, maar kliniese taal word maklik ’n morele sluier. Die swangerskap word beëindig, maar *wie* se ontwikkelende lewe word beëindig?

In Suid-Afrika bely ons kinders se reg op lewe, voeding en waardigheid, terwyl hulle verhonger en vermoor word. Volgens gesondheidsdata het 70 kinders gedurende die eerste sewe maande van 2025 in die Oos-Kaap weens ernstige akute wanvoeding gesterf. Terselfdertyd stry ons oor bababoksies waar desperate moeders pasgeborenes veilig kan afgee.

Niemand is méér pro-lewe as die lewende God nie. Hy gee aan almal lewe en asem (Handelinge 17:25). By Lasarus se graf ween Jesus in die aangesig van die dood (Johannes 11:35), en deur sy opstanding behaal Hy die beslissende oorwinning oor “die laaste vyand”, die dood (1 Korintiërs 15:26). Kinders is ’n erfdeel uit sy hand (Psalm 127:3), en Jesus ontvang hulle wanneer ander hulle wil wegkeer (Markus 10:14).

Ons groot versoeking vandag, ook in die kerk, is om God se eienskappe teen mekaar af te speel: asof sy genade sy geregtigheid ophef, of sy liefde beteken dat Hy nie meer “hande wat onskuldige bloed vergiet” haat nie (Spreuke 6:16-17). Die Bybel doen dit nie. Daarom beskerm die kerk die weerlose, dra die gebrokene en roep die skuldige tot bekering.

Die kerk mag nie hieroor stilbly nie. Ons moet die ongebore kind verdedig, die gebore kind voed, die verlate baba ontvang en die moeder in nood dra. Ons moet volwassenes – mans én vroue – tot verantwoordelikheid en maghebbers tot geregtigheid roep. Ons moet boosheid veroordeel en die samelewing én onsself tot bekering roep.

Die toets van ons geloof in ’n Godgegewe menswaardigheid is of ons die mens raaksien wat nog nie vir homself kan praat nie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Brief: Waar is die kind in ons morele gesprekke?”

  1. Albin Bowler van Bellville skryf:
    Ek stem saam met Julian oor hierdie Heilige Woede. Hy is korrek as hy noem dat gesondheidsdata toon dat 70 kindertjies gedurende die eerste sewe maande van 2025 (1 April – 31 Okt 2025) in die Oos-Kaap weens ernstige akute wanvoeding gesterf het. Dis die amptelike data. Daar het eintlik 117 kleuters gedurende die eerste drie maande (1 April – 30 Junie 2025) in die Oos-Kaap gesterf weens hongerte, d.w.s. wanvoeding en ondervoeding. Medici skryf op doodsertifikate gewoonlik dat ‘n orgaan ingegee het as oorsaak van dood, maar die orgaan het ingegee weens hongerte. Slegs by akute wanvoeding/ondervoeding word oorsaak van dood so beskryf. Volgens ‘n bekende NGO het daar net minder as 11 000 kleuters in SA gesterf gedurende 2025/2026 fin. jaar. Dis baie erger as die amptelike sterftesyfer (van die VN & die Gaza Health Authority) van 154 kleuters in Gaza vir die periode 7 Okt 2023 – 6 Okt 2025 (2 jaar-periode). Hierdie sterftes is direk toe te skryf aan die onverskilligheid en agterlosigheid van die ANC-regering met gepaardgaande druk op hospitaal en klinieke wat onderbefonds word.

Comments are closed.

Scroll to Top