Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Rethie van Niekerk van Vanderbijlpark skryf: ‘n Kerkbode-foto van die onlangse Predikante SAAMkoms het my laat wonder: hoe lyk‘’n kerk waarin babatjies welkom is?
Ons praat dikwels in die kerk hoe ons jongmense en families help om by die kerk tuis te kom. Ek wonder of dit nie begin by babatjies nie?
Van die ergste goed wat jy in ‘n kerkbyeenkoms kan kry, is doodse stilte. Die geluid van babatjies en klein kindertjies wat saam gesels en selfs knieserig raak, is vir ons ‘n geskenk. Dit getuig van ‘n toekoms, van hoop en lewe. Dit vra natuurlik van die van ons wat ouer is, om die volwassenes in die vertrek te wees. As ‘n grootmens kan ek kies om vir ‘n paar oomblikke ongemak te verduur, juis omdat ek die grootmens is.
God is nie net teenwoordig wanneer alles presies, perfek volgens plan verloop en alles tjoepstil is nie. Die God wat sê “Laat die kindertjies na My toe kom, en moet hulle nie langer verhinder nie, want die koninkryk van God behoort aan mense soos hulle” (Lukas 18:16) is sekerlik gemaklik met ‘n knieserige baba of ‘n giggelende kleuter.
Hoe lyk ‘n kerk waar babatjies tuis is? Ek hoop dit is ‘n kerk waar ook kindertjies, tieners, jongmense, mammas en pappas én oumense tuis is, soos die pragtige profesie in Sagaria 8.

Dit lyk soos ‘n kerk waar babatjies met die nagmaal bedien word.
Dankie, Rethie, dis ‘n geldige punt. Enige gemeente behoort die teenwoordigheid van kinders in die kerk aan te moedig en hulle teenwoordigheid te vier – dis tog die kerk van die toekoms.
Amen. Onthou hoe ons Kinders tot in stortwinterreën saam was Pinkster toe. Bring ons Kindertjies terug.