Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Johannes de Villiers van Eversdal skryf: Na aanleiding van Kerkbode se onderhoud oor die gebruik van die Enneagram deur predikante, moet ’n ernstige vraag gevra word: Wat word tans in die NG Kerk as Christelike geestelike vorming aangebied?
Die Enneagram word nie bloot as ’n persoonlikheidstoets beskryf nie. Dit sou ’n mens se diepste motivering en blindekolle blootlê, jou help raaksien wat skeiding tussen jou en God bring en jou “oopstel vir die werking van die Heilige Gees”.
LEES OOK: Kollig-podsending | Hoe help die Enneagram my as dominee?
Dit is gewigtige aansprake.
Wanneer ’n stelsel begin verklaar wie die mens ten diepste is, wat sy geestelike probleem is en hoe transformasie plaasvind, is dit nie meer net ’n persoonlikheidshulpmiddel nie. Dan betree dit die terrein van die leer.
Die Enneagram verdeel mense in nege persoonlikheidstipes en verklaar hulle optrede vanuit bepaalde innerlike dryfkragte. Die Skrif sê egter: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” – Jeremia 17:9.
God ken die hart. Hebreërs 4:12 leer dat sy Woord die gedagtes en bedoelings van die hart beoordeel. Waarom het die kerk dan ’n buite-Bybelse stelsel nodig om te doen wat God sê sy Woord doen?
In die onderhoud word die Enneagram se “drifte” ook met sonde verbind. Maar sonde is nie bloot ’n blindekol, wanbalans of ongesonde persoonlikheidspatroon nie. Sonde is opstand teen God en oortreding van sy wet. Die mens se diepste probleem is nie dat hy sy persoonlikheidstipe verkeerd uitleef nie. Hy staan skuldig voor God en het ’n nuwe hart nodig.
Die antwoord is nie groter kennis van my nommer nie. Die antwoord is Christus.
Hoewel gewaarsku word dat niemand bloot ’n nommer is nie, hoor ons telkens: “Ek is ’n een”, “Ek is ’n drie” en “Ek is ’n nege”. Die Skrif plaas die gelowige se identiteit egter nie in ’n persoonlikheidstipe nie: “As iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel.” – 2 Korintiërs 5:17.
Die ernstigste bewering is dat die Enneagram mense vir die werking van die Heilige Gees sou oopstel. Waar leer die Bybel dit? Christus bid: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Die Gees heilig gelowiges deur God se Woord.
Ds Maartje van der Westhuizen is ook nie bloot ’n onbekende predikant nie. Sy dien as assessor van die Algemene Sinode Moderamen. Haar uitsprake is nie outomaties die amptelike standpunt van die Algemene Sinode nie. Tog maak haar invloedryke amp en Kerkbode se publikasie daarvan hierdie saak ernstig.
Artikel 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis verklaar dat die Skrif God se wil volkome bevat en voldoende leer wat ons moet glo.
Daarom behoort die kerkleierskap te antwoord: Word die Enneagram as ’n aanvaarbare instrument vir Christelike geestelike vorming beskou? Indien wel, op watter Skrifgronde?
Ons roeping is nie om die beste weergawe van ons persoonlikheidstipe te word nie, maar om aan die beeld van Christus gelykvormig te word.
Is die Skrif genoeg?
Ja of nee?

Ek hoop van harte dat die “kerkleierskap” hierop gaan reageer. Dis dringend noodsaaklik dat verduidelik sal word hoe die Bybel as onfeilbare Woord van God in die kerk funksioneer.
Ongelukkig is die werklikheid is dat feitlik alle moeilike vrae die afgelope tyd “gekanselleer” word.
Johannes de Villiers (van Eversdal), ek stem saam.
Die Enneagram kan ook nie as ’n moreel neutrale hulpmiddel beskou word nie, aangesien die gebruik daarvan nie losgemaak kan word van die nie-Christelike bewegings en praktyke wat dit grootliks in die 20ste eeu gevorm het nie.
Sien gerus ook my kommentaar by die oorspronklike plasing.