Om te verstaan hoe my studies my roeping gevorm het, is dit belangrik om te week hoe ek in teologie beland het, vertel Drian Grobbelaar in die jongste aflewering van hierdie artikel-reeks*.
Ek het geen belangstelling in die bediening gehad nie, maar was baie betrokke by die kerk. Ek was met my vlieg lisensie besig en matriek 2020 met Covid. Toe Covid tref en die vliegskool sluit het my pa aangemoedig om universiteit aansoek te doen omdat hy nie dieselfde geleentheid gekry het nie. My gebed deur my matriek jaar was toe “Vader God, druk my in ‘n rigting. Ek sal die werk doen, gebruik my daar waar U my nodig het.” Ek het sterk vakke gehad met goeie punte en kon aansoek doen vir byna enigiets, maar kry toe by niks keuring nie.
LEES OOK | Reeks oor roepingsverhale | Annelize Botes: Tree vir tree in ritme met God se roeping
Na baie teleurstelling het ‘n vriend (wat op daai stadium teologie studeer het) my aangemoedig om vir teologie aansoek te doen en net oor te skuif na ingenieurswese toe want “Teologie vat letterlik enigiemand”. Toe ek gekeur is vir teologie was ek baie negatief, en het gevoel God was besig om van my ‘n grap te maak.
Met ons eerste dag van klas het Prof van Eck afgeskop met ‘n foto van ‘n skip kanon en in sy beste Afrikaanse aksent gesê “Today we are talking about canons. This is a canon.”, ek het gedink ek het dalk in die verkeerde lokaal ingeloop. Twee ure later ek besef ek wou nêrens anders wees nie. Na hierdie ervaring was ek innig oortuig dat God gebruik my waar Hy my nodig het.
LEES OOK: Bylaag oor teologiese opleiding in die NG Kerk
Vir ses jaar het ek geleer van missio Dei, παντες παντας παντων πασιν, kerkvaders, die waarde van nagmaal, kontemplatiewe spiritualiteit, my kop gekrap oor wie die eintlike outeurs was van die Nuwe Testament, probeer uitpluis hoe Job en Prediker reageer op tradisionele wysheid, hoeveel verskillende eskatologiese raamwerke daar is, en is konstant gevra hoekom dink ek maak enige van hierdie dinge saak en hoe gaan dit my help in die bediening.
Ek het ook in hierdie tyd baie stories gehoor van mense wat hulle “geloof verloor” wanneer hulle teologie studeer en heelwat kritiek gekry dat Tuks nie “regte teologie” vir studente leer nie, watookal dit mag beteken. Ek het ’n idee gekry dat my studies ’n tydperk gaan wees waar ek moet vashou aan my roeping want ek gaan loop deur die strate van Nineve en loop die risiko om myself te verloor in die proses.
Wanneer ek reflekteer oor die laaste ses jaar besef ek daar was definitief idees en tye wat my uitgedaag het op verskeie vlakke, maar my dosente het gehelp om my gedagtes bymekaar te hou. My ervaring in die oomblik was gereeld dat ek in die diep kant gegooi was, maar met tyd het ek besef ek was nooit werklik dieper gevat as wat ek op daardie stadium kon hanteer nie. Ek is geleer om krities te wees in ’n manier wat steeds God se liefde weerspieël. Ek is geleer hoe om altyd te vra hoekom, selfs wanneer dinge eenvoudig lyk. Ek is geleer om fyn waarnemings te maak nie net van ander nie maar ook van myself. Ek is geleer om sensitief te wees vir woorde, aksies, en gevoelens. Ek is nie net teologie geleer nie, ek is geleer hoe om ’n teoloog te wees.
So die vraag dan, hoe het dit my verstaan van my roeping beïnvloed? Noem my nou maar jonk en naïef, maar na dit is ek meer seker as ooit van my roeping. My ervaring van hoe God met my gewerk het in matriek en eerstejaar het my laat besef ek is geroep tot diens van die Here. My studies het my geleer hoe kan ek my dienswerk verstaan, uitleef, en hoe kan ek ander begelei met dieselfde liefde en sorg as wat ek ontvang het vir ses jaar.
*Hugenote Kollege vier in 2026 haar 75ste bestaansjaar as ’n hoëronderwysinstelling. Om dit te gedenk, nooi hulle teologiestudente van al die opleidingsentra wat NG predikante oplei om die verhaal van hulle roeping te vertel. Hierdie skrywe is deel van die reeks artikels wat Kerkbode publiseer.
