Hoe weet jy wanneer jy vir ’n spesiale taak geroep is? Of dat ’n bepaalde loopbaan jou roeping in die lewe is? Om dit te weet is waarskynlik verbind aan jou vermoë om te hoor hoe jou hart klop, en te hoor wat God vir jou sê, skryf Heléne Meissenheimer in LiG-tydskrif se Lente-uitgawe.
Roeping is ’n eg Bybelse woord. Ons lees dat almal wat in Jesus glo, geroep word om Hom te volg. Dié woord word ook gebruik wanneer ons na ons lewenspassie verwys, en na hoe dit inpas by die gawes wat God ons gegee het. Hierdie twee gebruike van “roeping” is twee kante van dieselfde munt. En hier is drie inspirerende roepingsverhale wat juis dit illustreer.
‘Ek het volgehou’
Bianca Vermeulen het gehoop sy sal “aanstaande jaar, die jaar ná haar matriekeksamen,” met haar mediese studie kan begin. Dit was agt jaar gelede.
Haar hoop is telkens verydel, jaar ná jaar. Elke keer is haar aansoek óf afgekeur óf daar was nie geld vir verdere studie nie.
Sy is nou 33, en uiteindelik ’n dokter.

Wanneer sy op hierdie lang pad terugkyk, kan sy die lesse wat sy geleer het duidelik uitwys. Daar is veral dié een: “Ware krag lê in hoeveel keer jy kan opstaan, met sagtheid in jou hart, nadat jy geval het.”
Haar kinderjare was nie eenvoudig nie. “Ek kom uit ’n disfunksionele gesin, en toe my ouers in my matriekjaar skei, het dit gevoel asof my hele wêreld in stukke breek.”
Sy het nogtans aansoek gedoen om toelating tot mediese studie, maar toe sê haar pa dat daar nie geld is vir universiteit toe gaan nie. Sy het ook geweet haar punte is nie goed genoeg nie.
“Daardie eerste jaar ná matriek het dit gevoel asof ek op die perron agterbly terwyl almal op die trein klim en ry.”
Bianca het by ’n apteek gaan werk. En daar, tussen die rakke vol medikasie, het haar droom om ’n dokter te word in ’n werklike roeping ontwikkel. “Ek het gesien hoe kwesbaar mense is wanneer hulle siek of bang is, en hoe selfs klein brokkies vriendelikheid soos medisyne vir die siel kan wees.”
Intussen het sy bly aansoek doen om keuring – tevergeefs. “Daar was dae wat ek gevoel het die wêreld hardloop ’n marathon terwyl ek met kaal voete oor klippe probeer byhou.”
Sy onthou hoe sy gehuil het. Hoe sy getwyfel het of sy ooit goed genoeg sal wees. Maar dan het sy nog ’n keer probeer, weer begin hoop.
Toe, in 2019, hoor sy dat haar aansoek suksesvol is. Haar vyf jaar-kursus is deur ’n beurs befonds. En vanjaar kon Bianca haar roeping voluit begin uitleef as ’n dokter by hospitale en klinieke in die Centurion-omgewing in Gauteng. Sy spits haar toe op die ongevalle-afdelings.
‘Só verstaan ek die evangelie’
Die opvoedkundige sielkundige Quinton Adams was ’n student toe hy, as deel van ’n jeugsendinggroep, ’n plakkersgemeenskap bekend as Vuurhoutjieland in De Aar besoek het.
Hy onthou die mense se armoede en die stukkende woonplekke. En hoe dit hom geraak het. “Ek het vir die jong mense in ons groep gesê ons kan nie net die evangelie bring nie; ons moet seker maak dat daar krag in die huis is, suiker, brood … Ons moet dus ook kyk na mense se fisieke behoeftes.”

En net daar is ’n saadjie geplant. Dit het Quinton se roeping geword om praktiese maniere te vind om mense se menswaardigheid vir hulle terug te gee. Dié koninkrykswerk het hom die naam “The Shackbuilder” besorg.
Hy het ’n organisasie met dieselfde naam gestig, en die afgelope 26 jaar is meer as 500 jong mense in basiese bouvaardighede opgelei. Dié opleiding word in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied en vorm deel van ’n geakkrediteerde sertifikaatkursus.
Quinton is verlede jaar deur Rapport en die Betereinders-organisasie by hul Brugbouers-reeks ingesluit. Laasgenoemde vier Suid-Afrikaners wat ’n verskil in hul gemeenskap maak.
Quinton was 12 jaar lank ’n dosent, en deesdae bedryf hy sy eie ontwikkelingsmaatskappy. Deur donasies én met sy eie geld finansier hy ’n span vrywilligers om na mense in nood om te sien. Hierdie vrywilligers sluit dikwels van die jong mense in wat hy opgelei het, en hulle bou huise. Hulle verskaf ook boumateriaal sodat mense self kan bou, of hul huis kan herstel ná ’n brand of vloed of erge stormskade.
“The Shackbuilder” se voetspoor loop vandag deur 34 gemeenskappe, van Onseepkans in die Noord-Kaap tot op die Kaapse Vlakte, en ooswaarts tot in Oudtshoorn.
Quinton sê dít is die manier waarop hy gehoor gee aan Jesus se woorde in Matteus 25:35: “Want Ek was honger, en julle het vir My iets te ete gegee; Ek was dors, en julle het vir My iets te drinke gegee …”
Hy sê hy wil hoop bring op plekke waar niemand kom nie. Dit is dié roeping wat hom elke oggend in beweging bring.
‘Vertrou Hom, Hy weet’
Yolande Steenkamp was skaars 12 toe sy op ’n keer ’n sendingpamflet in die hande gekry en besluit het dit is wat sy eendag wil doen: Sy wil mense wat nie van God weet nie van Hom vertel.
Dié voorneme het by haar gebly, al het dit haar toe nie na ’n ver land geneem om sendingwerk te doen nie.
Vandag is dr Yolande Steenkamp die dekaan van die Skool vir Teologie en Bediening by die Hugenote Kollege op Wellington. Sy leef haar roeping uit deur ander te leer hoe om mense van God te vertel.
Sy vertel hoe haar ouers wou hê sy moes ’n onderwyser word. Maar ná skool het sy, pas 19 en oortuig van haar roeping, besluit om eerder by ’n sendingorganisasie in te skakel.
Toe sy ’n paar jaar later in die teologie gaan studeer, was dit haar doel om die tale waarin die onderskeie Bybelboeke geskryf is te bestudeer sodat sy mense kon help om die Bybel met groter begrip te lees.
Die sprong was gróót. En haar naïewe Bybelverstaan is uitgedaag, soos haar sekerhede.
Hieroor vertel sy: “Ek glo dit was ’n oomblik van genade, want alles waarvan ek so seker was, is afgebreek. Tot op ’n punt waar dit vir my gelyk het dat om op te hou glo die enigste logiese uitweg is.
“Maar dit was net ’n week of twee voordat ek my in gebed betrap het, en moes erken dat ek steeds glo.” Sy het ook besef dat haar verlange om haar aan God oor te gee en tot diens in sy koninkryk te wees steeds daar was. Dit sou net nie sendingwerk wees nie.
“Toe ek nie meer een van my sekerhede oorgehad het nie, en nie meer aan God kon vashou nie en gedink het ek val, toe bevind ek my in God se hande. Hy het my steeds vasgehou.
“Ek het destyds in die Sondagskool geleer dat geloof ’n geskenk is, maar nou is daardie oortuiging ’n geleefde geloofservaring.”
Wanneer Yolande terugkyk op die wye draaie wat haar lewe geloop het, sê sy: “Ek het geleer dat roeping nie iets is wat een keer met jou gebeur en altyd dieselfde beteken nie. Ek wens dit was so maklik …
“Soms maak dit vir jou regtig nie sin om te wees waar jy is nie. Dalk gebeur dit eers jare later. En jy mag dalk dink jy het kontak verloor met God se roeping, maar ek het geleer om Hom te vertrou met die pad wat Hy met my loop.
“Die Here weet wie Hy roep. Hy weet sy geroepenes is dikwels vol pyn, is soms gebroke en beleef erge versoekings. Maar steeds roep Hy ons.
“En dít is elke gelowige se roeping: dat die koninkryk van God in jou gebore word en deur jou in die wêreld sigbaar word. Vir sommiges beteken dit om in ’n tipies kerklike omgewing te werk, en vir ander ’n konteks wat nie noodwendig met ’n roeping geassosieer word nie.
“Maar niemand is ‘meer’ of ‘minder’ geroep as iemand anders nie.”
- Hierdie artikel het in LiG-tydskrif (Kerkbode se susterpublikasie) se 2026 Lente-uitgawe verskyn.
