Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die CD wat ek gekoop het, was nie een van die byderwetse albums wat destyds bo aan die treffersparade was nie. Dit was The Best of Leonard Cohen. Die voorbladfoto – sepia op ’n gelerige agtergrond – was glo tydens 1968 in ’n hotelkamer in Milaan geneem, onthou Willem van der Colff.

Lekkerlees: Oor Leonard Cohen en die lewe

Ek het onlangs die volgende geskryf:

Einde ten laaste

na ’n lang dag van swoeg,

net voor ek aan die slaap raak,

vra die engel sag

met ’n glimlag:

”Waaroor wil jy droom vannag?

Weer oor jou ma, jou oupa of jou pa?”

“Nee,” sê ek, “oor die hemel.”

Die engel vra: “Oor die strate van goud?”

“Nee,” sê ek, “oor die lig,

en meer nog oor die musiek.”

 

“Nee,” sê ek, “oor die lig,

en meer nog oor die musiek.”

 

Ek was sewentien jaar oud toe ek my eerste CD gekoop het. CD’s, wat bykans niemand vandag meer gebruik nie, was toe ’n nuutjie. Voor daar CD’s was, onthou ek hoe ek mixed tapes gemaak het. Die karakter, Rob Gordon, in die fliek High Fidelity (gespeel deur John Cusack) het dit reg gehad toe hy gesê het: “Now, the making of a good compilation tape is a very subtle art. Many do’s and don’ts. First of all you’re using someone else’s poetry to express how you feel. This is a delicate thing.”

Die skuif na CD’s was ’n natuurlike volgende stap in die evolusie van my romanse met musiek, wat lank tevore begin het en my lewenslank sou bybly.

LEES OOK: Leonard Cohen as moderne psalmis verken en gevier

Die CD wat ek gekoop het, was nie een van die byderwetse albums wat destyds bo aan die treffersparade was nie. Dit was The Best of Leonard Cohen. Die voorbladfoto – sepia op ’n gelerige agtergrond – was glo tydens 1968 in ’n hotelkamer in Milaan geneem. Interessant genoeg was dié album reeds in 1975 vrygestel, toe ek nog beswaarlik kon praat. Die twaalf snitte daarop is tussen 1967 en 1974 opgeneem, en die totale speeltyd is ongeveer 47 minute – 47 minute wat met verloop van tyd vir my lewensveranderend geword het.

Toe ek daardie musiek vir die eerste keer gehoor het, was ek onweerstaanbaar aangetrokke daartoe; amper so aangetrokke tot die pragtige donkerkop met die sagte oë in my Wiskundeklas. Met verloop van tyd het ek, anders as met die meisie, op dié musiek verlief geraak. Ek het my hart daarop verloor. Daar was iets misterieus, amper donker, daarin. Dit het lig én donker tegelykertyd omvat. Ek kon die onderliggende heimwee en versugting aanvoel. Party mense luister hoofsaaklik na die melodie, maar ek bly in die eerste plek ‘n liriekeman. Die diepsinnigheid daarvan het by my bly spook. Ook die eenvoud van die begeleiding, die rouheid en egtheid daarvan. Dit het my ’n blik gegee op wat vermag kan word wanneer jy ’n liedjie as medium gebruik. Hierdie was soos Koos Doep, maar op Engels, gesing deur ’n wêreldburger. Die reikwydte daarvan was groter as waaraan ek gewoond was. Miskien was juis dít die basis van die aantrekking.

Hierdie was nie kitsmusiek nie; dit was égte musiek, sonder enige opgesmuktheid of swaar grimering. Dieselfde Cohen het, toe hy gepols was oor die misterie van die skryfproses, gesê: “If I knew where the good songs came from, I’d go there more often.”

Dit het aan my vasgekleef, my beïnvloed en saam met my op reis gegaan. En selfs nou, baie jare later, kom ek dit steeds van tyd tot tyd teë. Partykeer onbeplan, soos om op ’n Saterdagoggend ’n ou vriend onverwags in die dorp raak te loop. Ander kere beplan, soos ’n Sondagaand “hoe-gaan-dit-daar-by-julle”-gesprek met dieselfde ou vriend.

Bob Dylan was reg toe hy gesê het Cohen skryf nie gewone liedjies nie, hy skryf eeder gebede.

As ek nadink oor my reis met hierdie (en ook ander soortgelyke) musiek oor die jare heen, is daar verskeie gewaarwordings.

Dié musiek is ruim; gewoonlik ruimer as waar ek my op enige gegewe tydstip bevind. Dis ’n bietjie soos nuwe skoolskoene wat jou ma ’n nommer of wat te groot koop, sodat jy dit ’n jaar of twee langer kan dra. Mens moet met tyd daarin groei.

Hierdie musiek bly bemoeienis met my maak. Dit soek my altyd op en ontmoet my waar ek nou is.

Dié musiek tydloos. Dit groei soos saam met my, en verander soos wat ek verander. Dit bly nuut, maar tog paradoksaal, ook altyd dieselfde.

Al is die musiek myne, behoort dit nie aan my nie. Dit is baie ander mense s’n ook, maar dit behoort ook nie aan hulle nie. Dis almal s’n, en tog niemand s’n nie.

Musiek soos hierdie is toenemend ’n mylpaal in my eie reis. Dit laat my terugdink aan wat en waar ek tóé was, maar dit herinner my ook aan waar ek nóú is. Daar is ’n soort bestendigheid hierin; iets wat nie staties bly nie, en tog terselfdertyd teenwoordig bly.

Hoe meer ek hieroor besin hoe meer besef ek dat al hierdie gewaarwordings is insgelyks van toepassing as dit kom by geestelike waardes – soos genade, waarheid en liefde.

Ek laat Cohen self afsluit: “… they were waiting for me when I thought that I just can’t go on. And they brought me their comfort and later they brought me this song. Oh I hope you run into them, you who’ve been travelling so long.”


Die skrywer woon op Stellenbosch en skakel in by In Via

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top