Die Bybel maak sang nie opsioneel nie, skryf dr Riaan Steyn in ’n nuwe boek oor die sterk samehang tussen teologie en musiek. Hy vertel aan Heléne Meissenheimer wat hy ontdek het rondom musiek tydens die erediens.
Ons gesprek kom kort na die uitreik van sy eerste boek, Vyfde Evangelie: Van kerkmusiek na Godsontmoeting: Rigtingwysers vir aanbiddingsvernuwing (Beskikbaar by Bybel-Media).
Vroeg in die boek verduidelik die skrywer aan die hand van ’n verhaal oor die komponis Johann Sebastian Bach waar die term “Vyfde evangelie” in die titel vandaan kom. Hy skryf musiek in die kerk is so oud soos geloof. Met ’n ewe sterk bydrae om te lewer om die evangelie uit te dra “as ’n onlosmaaklike deel van die liturgie (saam met die Woordverkondiging en al die liturgiese momente), ’n plek van Godsontmoeting en ontmoeting tussen die gemeenskap van gelowiges, binne die genaderuimte van die erediens”.
Die Handboek van die Afrikaanse Taal (HAT) verduidelik ’n musikus is iemand “met ’n besondere kennis en aanleg vir die wetenskap en beoefening van musiek”. Riaan is dít gewis – hy is akademies goed opgelei in teologie en musiek (onder meer ’n PhD in himnologie), én hy hou van stories vertel. Hy vertel drie uit sy eie lewe wat hom tot sy oortuiging gebring het rondom die unieke bydrae wat musiek tydens die erediens kan lewer.
‘Toe maak Lied 518 se walswysie sin …’
Sy pa is dood toe hy ses was. Riaan vertel sy pa het in die hospitaal vir sy ma gevra om hulle seun vir musieklesse te neem. Sy talent is gou raakgesien. Hy was tien toe hy vir die eerste keer die Parow-Panoramagemeente in die noordelike voorstede van die Kaap op die orrel begelei het. Daardie Sondag, toe honderde mense met hom saamsing, het iets met hom gebeur.
“My verwondering met himnologie het daar begin.” So vertel Riaan terwyl ons in die eetkamer gesels van die dubbelverdiepinghuis wat hy en Elzaan, sy onderwyservrou, met hulle vier kinders in Bellville, deel. Die huis is stil, want almal is in die skool. In die voorportaal staan ’n vleuelklavier waar sy vrou vioollesse gee.

Riaan sê hy het soos hy ouer geword het al meer besef hy wil in die kerk en met musiek besig wees. Predikant word is al roete wat hy van geweet het om hierdie lewensdroom te verwesenlik.
Hy is in sy eerste jaar as musiekbegeleier by die NG Gemeente Goodwood aangestel. Sy eerste beroep as predikant was na dieselfde gemeente met die musiekleierpos ingesluit. Hy het ook ’n musiekskool gehad. Met sy eerste gemeente se toestemming het hy daarna ’n opname-ateljee oopgemaak om musiekproduksies op te neem.
Een Sondag is hy gevra om by ’n buurgemeente te gaan preek. Hy onthou hulle het “Voel jy soms of die Here te ver is?” (Lied 518) gesing maar “verkeerdelik” op ’n walstydmaat. Dit het vir hom vanuit ’n musikologiese oogpunt nie sin gemaak nie tot hy opgekyk het en die mense voor hom sien. Mense wat swaarkry ken.
Hy noem wat toe met hom gebeur het sy “musikologiese bekering”: “Ek het besef wat hulle sing is miskien nie vir my reg nie maar dit is reg vir daardie gemeente. Die gemeente het ’n innige Godsbelewenis gehad – mense wat presies geweet het hoe dit is ‘as die Here soms te ver voel’ … ek het toe besef kerkmusiek gaan glad nie oor jou nie. Dit gaan oor wat die konteks vra”.
Riaan skryf ook oor hierdie ervaring in sy boek. Daar vertel hy dat hy “die Here skaam om vergifnis gevra het vir my musikologiese arrogansie”.
Geen bloudruk – elke gemeente het ’n eie konteks
Verdere studie in himnologie het hom oortuig dat daar nie iets soos ’n musikale bloudruk vir die kerkmusiek bestaan nie. Hy het in 2024 sy doktorsgraad in hierdie studie van aanbiddingsmusiek gedoen en gedeeltes van die boek kom uit sy tesis. Dit is ’n versameling van data van die voorste teoloë en geskoei op besoeke aan die Universiteit van Princeton, Vrije Universiteit in Amsterdam en die Calvin University in Grand Rapids, VSA. Tydens ons gesprek noem hy dat die Duitse teoloog Martin Luther ook nie ’n voorskriftelike ‘one size fits all’ benadering met kerkmusiek voorgestaan het nie. “Dit gaan nie oor enigeen se musikale voorkeur nie. Ons moet luister wat die spesifieke konteks van ’n bepaalde gemeente van ons vra. As ons net naboots wat ander gemeentes hier of oorsee doen, of musiek maak ter wille van “musiek-maak”, of wanneer liturgiese musiek nie gemeentelike deelname bevorder nie, maar in ’n liturgiese vertoning verander, dan is dit waar ons verkeerd gaan,” voeg Riaan by.
Die antwoord op die vraag hoe om ’n gemeente van toeskouer na “belewer” te beweeg hou verband met wat hy “liturgying” noem. Met verwysing na die skrywer Christopher Small brei hy as volg hierop uit: “Small het die term ‘musicking’ gemunt. Hy het verduidelik dat die essensie van musiek nie soseer in musiekwerke lê nie, maar in deelname aan uitvoering en in sosiale aksie. Musiek is dus nie soseer ’n selfstandige naamwoord nie, maar meer ’n werkwoord, ‘om te musiek’. ‘Liturgying’ dui dus op elke deelnemer aan die liturgie – wat dan ’n imperatiewe funksie het tot die erediens van die lewe. Die himnologiese funksie van ‘musicking’ (wat alle fasette van die musikale besigwees insluit) kom dus saam in ‘liturgying’ (wat dui op die ganse hermeneutiese, deelnemende, sakrale, ontmoetingsaard en geleentheid, performatiewe en transformatiewe besigwees van die hele liturgie). Met hierdie nuwe werkwoord, ‘liturgying’ word die totale liturgiese besigwees bedoel.
“Wanneer ons aan ‘kerkmusiek’ dink dat dit, soos die Teks, ook hermeneuties en eksegeties benader moet word (vanuit ’n musikologiese verstaan ook) sal ons eredienste anders klink”.
“Die orrel is die orrelis se musikale preekstoel,” voeg hy by, self die skrywer van vele kerkliedere, onder meer as deel van die Flam-taakspan wat die kerk met ’n meer kontemporêre klank moes help en Vonkk-taakspan vir die ontwikkeling van nuwe klassieke kerkmusiek.
Daarom meen Riaan is nouer wisselwerking tussen teologie en musiek tydens predikante sowel as musici se opleiding nodig. Dié wisselwerkende opleiding hoort binne die Konservatorium en Fakulteit Teologie. Soos Riaan verduidelik “die musikologie toon baie sterk ooreenkomste met die teologie in terme van kontekstuele verstaan en interpretasie”.
By Welgemoed-gemeente, waar hy as predikant met (slegs) opdrag musiek bedien, word reeds verskillende stemme ingenooi om saam na die Bybelteks vir ’n Sondag te luister oor wat dit vir hulle gemeente hier en nou sê en gepaste musiek te kies.
Maar toe hy 17 jaar gelede na hierdie gemeente beroep is was dit anders.
‘Die Sondag wat alles verander het’
Dit was ’n moeilike tyd in die gemeente. Soos hy in sy boek skryf, “‘n groot gedeelte van die gemeente, saam met twee predikante,” het kort tevore die gemeente verlaat. Deel van die ongelukkigheid het te make gehad met liturgiese verskille.
Dit was Riaan se taak “om verantwoordelike liturgiese vernuwing te help fasiliteer”.
In hulle gemeente was daar ook ’n jongman wat verstandelik gestremd was maar graag belydenis van geloof wou aflê. Riaan vertel hy en ’n kollega, wyle Johann Symington, wou dus ’n manier vind wat vir hom kon werk in plaas van kennis van die belydenisskrifte.
Dit was ’n tyd om versigtig te trap. In hierdie tyd het van die mense, wat weggegaan het, begin terugkom. Toe kom die Sondagoggend wat die jongman sy belydenis van geloof sou aflê. Hy het die eerste vers van Genade onbeskryflik groot gesing. Dit was die oggend wat alles vir hulle gemeente verander het. Riaan vertel “van die gehardste man wat nooit ’n woord sê nie tot die kleinste kind het ’n verandering ondergaan”.
Die ervaring het hulle gemeente gehelp om verby liturgiese verskille te kyk en te groei as een geloofsgemeenskap.
“Ons moet meer sulke stories in die kerk vertel,” sê hy. Soos hy skryf in sy boek, “Musiek vertaal en verwoord soms wat woorde alleen nie kan nie …”
- Kerkbode is ’n publikasie van Bybel-Media.
