Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Lekkerlees: Bo die wolke

Ek moes onlangs gereeld vir besigheid reis.

Tydens hierdie reise het iets twee keer met my gebeur:

Net voordat ons opstyg, is ek intens bewus van ’n reënerige Kaapse wintermôre. ’n Vars bries, wat vaagweg na see en sout ruik, waai fris uit die noordweste. Dis grou alom. ‘Mistroostig’, soos my oorlede ma dit altyd beskryf het. Eendeweer. Ideaal vir warm, heilsame lensiesop – minder gunstig vir reis.

LEES OOK | Lekkerlees: Oor Leonard Cohen en die lewe

Ek staar by die vliegtuig se ruit uit oor die nat aanloopbaan. Daar gaan ons – vinniger en vinniger. Die krag van die enjins druk my styf teen die sitplek vas. Die wiele verlaat skielik die grond en breek vry van swaartekrag se sterk houvas. Ernst van Heerden se woorde kom onwillekeurig by my op: “Die taai klou van die grond vermenigvuldig elke pond.” Op en op. Ons vlieg deur wolke, wit soos watte. En dan, heel onverwags, is dit onwerklik; bykans surrealisties. Bo die wolke is die lug so blou en die son so helder dat die teenstelling mens amper gedisoriënteerd laat – van vaalgrys na helderblou, reën na sonskyn.

Terwyl ons na kruishoogte klim, die Bolandse berge agterlaat en oor die Karoo daar vêr benede vlieg, dink ek: Dis soos twee heeltemal verskillende realiteite, en tog weet ek dis één. Wat verskil, is nie die realiteit nie, maar wel die perspektief – waar jy staan en wat jy daarvandaan kan waarneem. Só is die lewe ook. Soveel hang af van die hoek waaruit jy kyk om te bepaal wat jy sal waarneem. “Two men look at the same bars: One sees mud and one sees the stars.” Hierdie bekende reël, wat die punt so elegant maak, is ’n aanhaling uit die 1896 gedig, “A Cluster of Quiet Thoughts”, deur die Engelse geestelike en digter, Frederick Langbridge.

Uit ’n geestelike oogpunt is dit vir my bemoedigend om te besef dat, selfs al lyk my wêreld mistroostig en uitdagend vir die oomblik, skyn die son van ons Hemelse Vader se liefde en genade steeds helder bo my wolke. En dit is altyd so. Daar is méér as wat ek op die oomblik kan sien – méér as bloot my huidige ervaring. Dit bly konstant, ongeag of ek daarvan bewus is of kies om dit te glo. Dit funksioneer sonder my invloed en het nie my goedkeuring, medewerking of aanvaarding nodig nie. Soos die wyse C.S. Lewis gesê het: “A man can no more diminish God’s glory by refusing to worship Him than a lunatic can put out the sun by scribbling the word ‘darkness’ on the walls of his cell.”

Hierdie geloof bring hoop. Daar is iets bestendig wat groter is as ek. Weer C.S. Lewis (miskien omdat ek onlangs baie van sy werk weer gelees het): “I believe in Christianity as I believe that the sun has risen: not only because I see it, but because by it I see everything else.”

Daarom bly ek bid – nie dat die wolke moet verdwyn of die onweer of die reën moet ophou nie. Nie om my omstandighede te verander nie. Nie vir God om te verander nie, maar vir mý om te verander. Mý perspektief.

Ek bly bid dat ek verder sal kan kyk as bloot die korttermyn, die hier en die nou. Toe ek jonger was, het iemand my vertel van ’n gebed van Kahlil Gibran. (Ek soek terloops al jare daarna, maar kon dit nog nie opspoor nie.) Na bewering is die gebed: “Here, lig my tog een elmbooglengte uit myself en uit my volk, sodat ek myself en my mense kan sien soos wat U ons sien.”

Ek bid vir die genade om hierdie perspektief – die goddelike perspektief wat vêr kyk – te behou wanneer die reënwolke saampak en die son in my lewe uitblok.

Die vraag is seker: Wat gaan ek kies om raak te sien? Die tydelike wolke of die ewige son? Die modder of die sterre?

My gedagtes word kortgeknip deur die aankondiging dat ons binnekort gaan begin daal vir die landing.

Ek wonder hoe die weer by my bestemming gaan wees. Maar skielik maak dit minder saak, want bo die wolke – as daar wolke is – “sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal” (Maleagi 4:2, 1953-vertaling).

Ek sien kans vir die uitdagende dag wat voorlê.

 

Die skrywer woon op Stellenbosch en skakel in by In Via

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top